0

Die soet saam met die suur

11 August 2014
Share

Dit bly maar seker altyd ‘n worsteling na ‘n miskraam. Die hoekoms, waaroms en wat asse. Nou met ons 3de kleine lyf hier, besef ek egter dat as sy daardie tyd moes deel geword het van ons gesin, dit vir ons baie moeiliker sou wees. Nou is die kinders ouer. Hulle kan my meer help. Hulle verstaan beter van ‘n kleinsus wat spook met refluks en al die dinge wat daarmee saam gaan. Sommige babas is maar net makliker of moeiliker as ander om groot te kry. Net so ‘n groot vreugde die klein pop deur die dag is, net so ‘n uitdaging is sy in die nag. En dit bring sy eie uitdagings vir die dag wat volg.

DSCF5650

Ek het egter vanaand tot ‘n nuwe besef gekom, terwyl ek haar weer vir die soveelste keer probeer aan die slaap maak (Refluks is nie vir sissies nie!): Dat ek ten spyte van slaap wat ‘n vergete droom is en al die gespook, nog deur die dag kan gaan met ‘n glimlag op my gesig en ‘n lied in my hart (wel dikwels op my lippe – ek dink nie ek het al ooit so baie gesing nie, en dit uit lewensvreugde nie). Ja, daar is oomblikke wat ek wil huil van moegheid, maar hulle is min. Ek wil steeds elke oggend opstaan en nog ‘n dag saam met my 3 woelwaters deur bring.

As ek met die ouer 2 vir ‘n week geslaap het soos ek nou al vir maande met haar slaap, het ek dit lankal verloor. As ek daai lyfie in die nag weer ‘n keer en nog ‘n keer aan die slaap sus kan ek egter nie help om dankbaar te voel nie. So saam met die sleg en hartseer van ‘n miskraam kom ook die goeie. Die besef hoe broos lewe werklik is. Dat niks vanselfsprekend is nie. Dat elke dag kosbaar is, te kosbaar om nie die meeste daarvan te maak nie.

DSCF5710

‘n Mens se lewensuitkyk, jou houding het immers ‘n ongelooflike impak op elke dag – op elke ding wat jy aanpak. So kan selfs ‘n miskraam iets mooi tot gevolg hê. Dit is hoe ongelooflik goed ons God is. Selfs uit die seerste seer, bring Hy weer iets goeds voort, iets mooi en kosbaar.