Twee jaar terug tydens die Olimpiese Spele het ons ons eerste Gesins Spele gehad. Die jaar was dit weer tyd vir die Statebond Spele en ons het vir ‘n week vasgenael gesit voor die TV om veral die gimnaste dop te hou. Ouboet was net so mal daaroor om die rolbal te kyk.
Natuurlik was dit weer tyd vir ‘n Gesin Spele. Dit het weer ‘n bietjie kop krap gekos om items regverdig te kies. Oor die algemeen kon ons die moeilikheidsgraad net so effe aanpas. Jongste nader en oudste verste van die doel of soos met ons “gewigstoot” het ons dames ‘n ligter oefen bal gehad om te gooi.
Dit was weer hope pret. Ons het regtig niks indrukwekkend aangevang nie. En buiten vir 3 gate in ‘n boks sny en ‘n paar medaljes uit karton maak was daar nie werk aan nie. Dit het nie die groot opwinding vir die kinders minder gemaak nie.
Ons het enige iets van eenvoudige raak-jou-tone en splits tot die gevreesde L-sit aangepak. Die kinders het hulle natuurlik dood gelag vir my en Pappa se powere pogings (ten spyte daarvan was ek lekker styf die volgende dag). Ons het sakkies gegooi, sprei spronge op die trampolien gedoen, gholfballe deur openinge probeer slaan, rolbal gespeel (sommer met tennisballe) so ewe met uitklop rondtes en alles afgesluit met ‘n span “pellet” skiet. (Ek moet net vermeld ons “girls” was so kort op die manne se hakke met die).
Nege items later was ons almal dood moeg en reg om die dag af te sluit met ‘n happie wortelkoek. Die hoogtepunt was natuurlik die medalje seremonie en selfs kleinsus het een gekry vir “Beste ondersteuner”. Ons het net daar besluit hierdie gaan ‘n jaarlikse instelling word. Ek het wel besef dat ons dit in die vervolg eerder weer oor 2 dae moet hou (soos die vorige keer). Ons gaan beslis ook bietjie kop krap oor nog span items. Dis reuse pret en so in die speel leer hulle van spangees en dat mens nie altyd kan wen nie.
Dis puik! Veels geluk aan almal wat deelgeneem en klaargemaak het! 😉
Ons dorp en omgewing se atletiek dag is oor twee weke en die seuns begin nou hul wegspringe oefen. Ons sal maar sien of hulle hierdie jaar gretig is om deel te neem.
In ons gesin benadruk ons dat dit nie die wen is wat tel nie, maar of jy deelneem en klaarmaak. Dit is die oefen, die deurdruk, jou beste gee, maar veral genot van wat jy doen, wat belangrik is, en nie of jy wen of nie.
Soos jy se is dit so belangrik dat die wen nie die groot ding is nie. Ek moet erken vir ons oudste is dit nogal ‘n moeilike konsep. Hy is erg kompeterend en juis daarom is oefenlopies soos die goed vir hom.
Ousus vaar beter met die konsep (waarskynlik, omdat sy meer gereeld aan die verloor kant is). Dis te dierbaar hoe sy vir almal aanmoedig – moet egter nie dink dat sy nie haar alles gee om steeds te probeer wen nie 🙂
Geniet die oefen vir die atletiek. Selfs al neem hulle op die ou end nie deel nie, bly dit pret om te oefen.