‘n Ruk terug kom ek op ‘n maklike reënboog fudge resep af. Ons kon natuurlik nie wag om dit uit te toets nie. Die fudge het 5 kleure en nadat ek na die bestanddele geloer het het ek besluit 2 blikke kondensmelk en amper ‘n kilo witsjokolade gaan dalk ‘n raps te veel fudge wees vir ons 4 siele. Nie dat ons dit nie sou verorber nie, net dat dit nie aan te beveel is vir my heupe nie.
Ek het dus sommer net fudge met 2 lae gemaak. Groen vir ons knaap en pers vir ons prinses. Dit was heerlik en verseker ‘n treffer. Ons klomp is egter gek oor donker sjokolade wat my toe laat wonder het of mens nie dieselfde met die kan aanvang nie.
Die eksperiment het gelei tot die heerlikste, ongelooflike soet en ryk sjokolade fudge. My metode verskil so bietjie van die oorspronklike resep. Ek het net gevind die fudge set harder as dit ‘n raps langer kook. As jy egter sagte fudge verkies, gaan loer na die oorspronklike resep.
Bestanddele
1 1/2 blik kondensmelk
160 g donker sjokolade (gebreek)
160 g gewone sjokolade (gebreek)
160 g wit sjokolade (gebreek) – vir die wit werk kook sjokolade beter, omdat dit nie so maklik brand en krummelrig raak nie.
Plaas foelie in ‘n klein reghoekige/vierkantige tertbak.
Volg dan die 4 stappe vir elk van die lae en laat goed set tussen lae. :
1. In ‘n groot bak gooi ‘n halwe koppie kondensmelk (ongeveer ‘n halwe blik).
2. Verhit dit vir 90 sekondes in die mikrogolf oond.
3. Voeg die eerste kleur sjokolade stukke by en roer tot dit gesmelt is. Ons het dit op ‘n koue dag gemaak en moes die mengsel vir nog 30 sekondes in die mikrogolf sit om alles te smelt. Ek vermoed dit gaan nie nodig wees in die somer nie.
4. Gooi die mengsel in die tertbak en laat set in die yskas vir ten minste ‘n uur.
As dit goed geset is, haal dit uit die bak.
Verwyder foelie en sny in blokke.
Aangesien hierdie gluten-vry is, is dit perfek vir ons gesin! Ek gaan dit baie beslis uit probeer.
As julle ook gluten-vry leef moet jy verseker by http://glutenfreehomemaker.com/ gaan inloer. Ek het haar eers onlangs ontdek, maar die koek en kaneel rolletjies wat ons al probeer het was vinger lek lekker.