‘n Ruk terug het ek met julle die Rogbrood sonder gis resep gedeel en beloof om dit vir 1 brood aan te pas. Wel hier is dit nou uiteindelik.
Ons eet nie so vreeslik baie brood nie en daarom werk die enkel resep vir my beter. Die brood bly nie so lank soos brood met gis in vars nie. Dus bak ek eerder meer gereeld 1 op ‘n slag. Soos ek laas genoem het smaak dit baie anders as brood met gis in, maar ek hou van die sagter tekstuur. Dit maak dit meer geskik vir braaibroodjies.
450 g rogmeel
250 ml melk
250 ml water
2 eiers
30 ml mielieblom
45 ml suiker
15 ml asyn
15 ml kakao (opsioneel – sonder die kakao is die broodjie ligter van kleur en soeter)
10 ml koeksoda
5 ml sout
Voorverhit die oond na 240 grade Celsius.
Meng melk, water, asyn en eiers saam.
Voeg droë bestanddele by en meng goed.
Gooi in ‘n silikon broodpan en bedek los weg met foelie (dit het ruimte nodig om te rys)
Bak vir 30 minute by 240 grade Celsius. Verlaag die temperatuur na 180 grade Celsius en bak vir ‘n verdere 15 minute.
Ek het dieselfde resep al gebruik om hotdog en hamburger “buns” te bak. Ek gebruik foelie om die vorm te skep van die buns wat ek wil maak. Rond (hmm, dalk moet ek eerder se ronderig) of langwerpig. Onthou net die foelie bo-op ook (anders brand dit bo-op). Ek het dit ook al gebruik om 3 groot pizza basisse van te bak (sonder die kakao by).
Laat weet gerus as julle die uitprobeer het.
Ek is so lui om te ak,maar gaan hierdie probeer!
Laat weet hoe dit vir julle geproe het.
Ek bedoel bak…ai tog die vingers wat so verkeerd tik!
Ek ken daai gevoel. Hoe dikwels het ek nie al gewens daar was ‘n undo/edit knoppie vir kommentaar nie!
Mmmm, ek is maar soos perdebytjie. ‘n Lui bakster, maar ek het 2 mense in my lewe wat mal is daar oor. Gewoonlik print het vir hul die resep met die woorde dat ek ‘lus’ het daarvoor. Dit werk elke keer …
Daardie klink so bekend. My ma het altyd met die grootste liefde ‘n skottelgoed beurt vir ‘n kosmaak of bak beurt verruil. En wat is nou beter as dit. Om heerlik te kan bak en brou en iemand anders was die skottelgoed. Sal darem nie omgee as ek nog in die huis was en dit kan doen nie. Nou help die kinders bak en brou (en vuil mors) en ek is die een wat moet was 😉
Snaaks hoe mens mekaar kan aanvul. Ek doen eerder weer die skottelgoed dan die bak en brou. Dan werk dit lekker ‘saam’ uit.
As ons kamp ook, hou ek van vee en skoon maak. Die res maak kos …
Baie dankie vir hierdie resep. Het dit vandag gebak en dit is heerlik en albei my kinders is mal daaroor. Het al lankal ‘n lekker alternatief vir gewone winkelbrood gesoek aangesien my seuntjie ekseem kry as hy te veel winkelbrood eet. Hierdie resep is eenvoudig en vereis nie ‘n geknie en gerys nie, wat die bereiding soveel makliker maak.
Ag, ek is bly julle geniet dit ook. Ek geniet dit self dat dit so vinnig en maklik is. Mens het net nie altyd tyd vir die hele rys en knie ding nie.