Tradisies is iets wat ons geborge laat voel. Dit skep herinneringe en het die vermoë om mens sag en “squashy” te laat voel (soos my woelwaters dit sou stel). Beste van alles is dat dit nie groot of duur goed hoef te wees nie. Ek dink byvoorbeeld terug aan sjokolade eet na Sondag middag slapies op my ouers se bed. So is ons gesin besig om weer ons eie tradisies te skep.
Einde laas jaar lees ek die oukersaand boks tradisie raak. Dit lyk toe vir my soos ‘n fantastiese manier om die jaar mee af te sluit. Die vorige jaar was die eerste jaar wat die kinders besef het oujaar is iets wat gevier word. Tog raak die aand lank om te wag vir 12 uur. Dis daarom dat die boks idee by my byval gevind het. Daarby is verrassings mos altyd ‘n lekkerte.
‘n Hele rukkie terug het ons dus al lanterns gemaak om oujaarsaand aan te steek. Dit was so ‘n maklike aktiwiteit en hulle was mal oor die knip, plak en teken. Saam met al die kerse het dit toe oujaarsaand ‘n heerlike atmosfeer geskep.
So het ek toe ook vir die kinders vertel dat ons ‘n verrassingspakkie gaan pak met dinge om oujaarsaand te doen. Die opwinding was aanvoelbaar in die huis. Hulle is nie gewoond aan laat nagte nie en het oujaarsdag sommer self besluit ‘n middag slapie is aan die orde van die dag. Ek kon dit amper nie glo nie, want om die 2 slaap te kry is gewoonlik nogal ‘n drama. Wat nog van ‘n middag slapie!
Vroeg aand kon hulle toe die pakkie oop maak. Hulle kon net nie wag vir die oomblik nie (hulle het immers vir dae al die slapies afgetel). Daar was niks uitspattig of duur in nie. ‘n Ietsie klein om mee te speel, malvalekkers om te braai, vonkelsap om saam met ete te drink, ‘n nuwe DVD om te kyk terwyl ons tjips en sjokolade eet, ‘n kaartspeletjie om te speel (sommer een wat ons reeds gehad het en hulle baie geniet) en natuurlik “glow sticks” (geleentheid vir die tipe pret is mos min as mens gewoonlik voor donker al bedwaarts moet keer). Dit is so interessant hoe die verrassingselement iets baie ordinêr in iets spesiaals kan verander.
Ons aand het afgeskop met ‘n heerlike ete. Die kinders het vir ons die tafel te mooi gedek. Manlief het vir ons wildsvleis filet op die kole gegooi, sodat ek ons gunsteling pasta aanmekaar kon slaan. Ek vermoed die jongste het die ete die meeste geniet. Dis mos lekker om “groot” te wees en saam te eet en drink. Veral as daar so ‘n feestelike atmosfeer heers.
Na ete het ons die laaste laat middag son benut om bietjie buite te speel. Daarna het ek vir kleinsus gaan slaap maak, sodat die aand se pret kon begin.
Ons het met die soogdiere kaarte gespeel. Ons het lekker gelag vir almal se pogings om die hoogste statistiek te kry. Dis nie altyd moontlik om te “wen” as jy moet ‘n ietermago sit en iemand anders met ‘n kameelperd of leeu nie. Vir ‘n verandering het Mamma gewen (ek is nog nie heel seker hoe dit gebeur het nie). Maar die kersie op die koek was dat almal dit geniet het en dit net as ‘n speletjie gesien het (‘n jaar terug sou hier dalk trane gewees het oor ‘n verloor. Dit wys net weer dat hulle tog so in die speel leer dat mens nie altyd hoef te wen om iets te geniet nie).
Teen daardie tyd was dit donker genoeg om malvalekkers te braai. ‘n Mens sou dink dat hulle teen die tyd al genoeg malvalekkers die vakansie gebraai het, maar blykbaar kan mens nooit genoeg daarvan kry nie. Heerlik soet gesmul het ons toe gaan sit om Marley and me, the puppy years te kyk. Ek het gedink hulle sal al Marley se stoutighede geniet met die dag ons self ‘n “Marley” in die huis het. En hulle het ook. “The world’s worst dog” moet egter vir ‘n paar lesse hier by ons huis kom, want hy is glad nie so stout soos hulle beweer nie. Dis nie die film met die beste toneelspel in nie, maar die hondjies is vreeslik oulik en dis beslis ‘n gesinsvriendelike storie. Die Bul was gek daaroor om te sien wat mens alles vir die slim hondjies kan leer, en die laaste paar dae is hy en sy woef hard aan die werk om ‘n paar toertjies te leer. Die twee geniet die tydjies saam vreeslik baie. As ek nie ‘n beperking op die hoeveelheid hondebeskuitjies per dag geplaas het nie sou hulle seker heeldag besig gewees het.
Die kinders het heerlike pret gehad om buite met die “glow sticks” te speel veral toe hulle agter kom dat mens snaakse effekte op die kamera kan vasvang.
Dit is verbasend hoe vinnig ‘n aand kan vlieg. Dit was al amper middernag toe hulle heel kreatief begin prentjies pak het met die stokkies. Die eerste skepping was die boot (2de van regs heel onder) wat hul saam gebou het, maar daarna was daar nie brieke nie. Hulle het beurte gemaak om prente te bou.
Die 2 was goed moeg teen die tyd dat ons die vuurwerke in die verte kon hoor af gaan en hoe luidrugtig dit in die buurt raak. Van waar ons bly kan mens egter nie die vuurwerke sien nie. Tog was die 2 baie teësinnig om die aand tot ‘n einde te laat kom en te gaan slaap.
Ek weet ons gaan die nuwe tradisie nog baie geniet. En hopelik kan kleinsus dit oor ‘n paar jaar saam begin geniet en nie die volgende more dou voor dag al vir my uit die vere jaag nie. Maar hoeveel mense kan sê dat hulle die laaste sonsopkoms van die jaar en ook die eerste een van die nuwe jaar gesien het?
O, gelukkige kinders daardie!
Lekker om hier by jou te ontdek – ek’s nuut hier. Ek loer weer in.
Welkom. Hoop jy geniet die WordPress wêreld 🙂
Sjoe, jy is ‘n oulike mamma!
Dankie 🙂
Dis nou ‘n vrek oulike idee – ons gaan dit definitief volgende jaar doen! 🙂
Jy sal moet kom deel of dit vir julle ook so ‘n vreugde was. Ek begin al klaar wonder wat ons die jaar op oujaarsaand kan doen.
Ek wens ek was ook daar.Pragtig!
Heerlik. Voorwaar iets wat jou kinders altyd sal koester.
Ai, ek hoop so. En ook dat ons nog vele sulke Oujaarsaande sal hê. Eendag gaan die mamma oud en grys wees en verlang na die goeie ou dae toe die kindertjies nog klein was.
Jinne, so pragtig. I Like!
Dankie.