Ek wonder dikwels wat ek sonder die internet sou gemaak het. As ek nie besig is om idees te soek om die kinders mee besig te hou of skoolwerk/inligting vir hulle iewers af te laai nie, dan is ek besig om ‘n nuwe resep uit te toets of sommer net iets interessant op te soek.
‘n Nuwe groot gunsteling webwerf in ons huis is http://www.glutenfreehomemaker.com/. Ek het nou al ‘n paar van haar resepte uit getoets en almal was heerlik! Ek wens ek kon die ontdekking 7 jaar terug gemaak het. Dit sou ons oorgang na ‘n koring vrye dieet darem heelwat makliker gemaak het.
Ek onthou vandag dat ek ingewillig het om vir die klomp seuns ‘n snoephappie saam te stuur na hul maandelikse houtwerk les by Tekioo. Natuurlik is dit die perfekte tyd om nog een van die nuwe resepte uit te probeer. En haar sjokolade-klapper muffins klink soos net die ding.
Ek begin gou alles in die mengbak saam gooi. Net om te ontdek dat ek nie genoeg bakpoeier het nie. Geen probleem. Dis mos maklik om gou koeksoda en kremetart te meng. Hmm, daar is toe nie ‘n krieseltjie kremetart in die huis nie. Bel vir buurvrou. Sy’s nie tuis nie. So dis oor na plan D! Bestorm die internet.
Wonder bo wonder is daar toe wel nog ‘n alternatief. Voeg die helfte van die hoeveelheid bakpoeier wat jy nodig het se koeksoda by. En sit dan ‘n teelepel asyn vir elke koppie vloeistof by. So maklik soos dit.
Nou sit ek hier en tik, terwyl ek my asem ophou en die reuk van sjokolade muffins in die huis hang. Ek kan net hoop die eksperiment werk. Julle moet immers verstaan dat ek klaar heelwat aan die oorspronklike resep gekarring het. Ek het klaar die “millet flour” en “potatoe starch” met rogmeel en mielieblom vervang en die klapperolie met kookolie (ek weet, ek weet, maar dis einde van die maand, die koskaste is leeg en ek het nog nie gaan inkopies doen). Wat my meer bekommerd maak is dat die my eerste poging is om met sorghum te bak (daar by het ek dit nog self gemaal ook).
Gelukkig was die wag nie te lank nie. Die krisis-muffins lyk, ruik en proe soos muffins. Ek kan weer asemhaal. Dankie tog. Daar sal moreoggend iets wees om honger seuns mae vol te maak!
NB. Ek weet nie of dit my oond is of glutenfreehomemaker s’n nie. Maar ek het nog elke keer heelwat vinniger gaar gebak gehad. Die muffins was bv in 15 minute gaar teen haar aanbevole 20-25 minute.
Jy is vervlaks oulik!!
Ek sukkel met die verstaan van geen-koring…. ons gebruik rogbrood, maar ek kan nie vetkoek en pannekoek daarmee bak nie, nog minder koek en koekies…. Om van beskuit nie eens te praat nie – en my mense soek dit!
Voeg daarby dat ons klein dorpie nie goed soos millet, sorghum, aartappel, rys ensovoorts – meel aanhou nie. Ek het spesiaal vir die eienaar van Spar gaan vra om vir my rogmeel in te koop (ons gebruik so 25kg per maand – ek bak 2 brode per dag met 450g meel elk)
Jy sal maar resepte moet deel – met al jou aanpassings daarby!
Met tyd leer mens ook. Ek moet erken daar het maar heelwat floppe op die tafel beland. Maar ek is te gek oor bak om die koringvrye ding my te laat pootjie. Aanhouer wen.
Ek is juis nou besig met ‘n nuwe rogbrood eksperiment. Soveel vinniger as een met gis en as ek dit nou eers heel na smaak het, gaan ek skaaf aan ons beskuit resep (ek weet sommer dit kan beter met die nuwe metode). So hou maar ‘n ogie hier.
Ek gaan nou dadelik by daardie webblad wat jy aanbeveel, loer.
Ek neem geen verantwoordelikheid vir die gevolge nie, Toortsie 😉 Ai, ons het nou al lekker gesmul aan haar resepte, maar my skaal is nie te beïndruk nie 🙁
Ek tik sommer van my man se epos af. Red jy vandag my lewe met die helfte koeksoda en teelepel asyn. Melktert gebak en toe alles reg is en ek deeg wou aanroer, kom ek agter my bakpoeier blik staan in volle blom maar leeg in die kas. Voeg daarby ‘n oond wie se waaier stukkend is, en alles wat uit die oond kom is ‘n ek hoop, ek hoop saak. Darem het die melktert mooi uitgekom!
Ek is bly die kon jou melktert red. Ek onthou nog my eie benoudheid daardie tyd. Dis niks lekker as jy amper klaar is en besef daar’s nie bakpoeier nie.
Wat kan ek gebruik in die plek van bakpoeier asb
Ek gooi 1-2 keer die hoeveelheid van die bakpoeier se asyn saam met die vloeistof en dan die helfte van die bakpoeier se hoeveelheid koeksoda saam met die droee bestanddele. As ‘n resep dus 15ml bakpoeier nodig vervang ek dit met 15ml asyn en 7ml koeksoda.