Dit is die tyd van die jaar dat al wat ouer is vir ‘n vale spog met hul spruite. Daar is sertifikate en rapporte net waar jy kyk. Ek het egter al heelwat kritiek ook raak gelees van siele wat dink dit is onregverdig teenoor die kinders wat nie akademies sterk is nie. Ek hoor hulle hart, maar ek stem nie heel saam nie.
Sien uoers is nou maar een maal gemaak om te spog met hul kinders. Dit is net hoe ons aan mekaar gesit is. Vandat daardie klein lyfie sy of haar opwagting maak vind ons iets om oor te spog. Dikwels subtiel, maar ons kan ons self net nie verhelp nie. En dit hoort ook so. Elke kind is spesiaal en uniek en iemand om op trots te wees.
Dit is eers as hulle begin groter raak dat die klem waarmee gespog word begin verskuif. Dan spog ouers dikwels oor sport/akademiese/kultuur prestasies. Daar is niks daarmee verkeerd nie, maar ek dink ons behoort nog meer te spog oor wie ons kinders is. Oor hul karakter. Daardie dinge wat werklik saak maak. Oor nog ‘n klompie jare gaan niemand omgee of hulle die boekprys vir wiskunde gekry het, die dux leerling was of sportster van die jaar nie. Wat wel gaan saak maak is die mens wat hulle is. Die werksetiek wat hulle het. Hul karakter is meer werd as enige prestasie.
Laat ons dus spog met al ons kinders se ander prestasies, maar meer nog omdat hulle hardwerkend, liefdevol teenoor ander of mededeelsaam is. Omdat hulle selfbeheersing het of altyd blymoedig is. Dit is die dinge waaroor ons die heel meeste behoort te spog. Elke kind behoort te weet dat hulle ouers trots op hulle is, nie net vir wat hul doen of bereik nie, maar vir wie hul is.
So spog gerus hier of kom loer in op my facebook blad en spog daar (plaas sommer ‘n foto’tjie of 2 ook)
Uiters belanrike raad. Ongelukkig iets wat min mense besef en wat ek ook meer kon gedoen het toe my kinders klein was. Ek het wonderlike kinders, maar kon hulle meer bemoedig het en meer met hulle gespog het oor dit waarvan jy praat. Maar gee kans: Ouma het kleinkinders!
En geniet kinders dit darem nie baie as ouma’s met hul spog nie! Ek dink dit is vir hulle nog meer kosbaar as wanneer ma of pa spog.
Soos hulle ouer word, raak hulle grompie as jy met hulle spog, maar mens bly maar net ;n ma!
Onthou ek nie al te goed hoe ons kon oë rol oor die spog nie. Maar as mens moet eerlik wees, dit maak tog jou hart warm 🙂
Jy weet dan. Ek spog maar deesdae skelm
En dit is baie lekker as jy as ouer van volwasse kinders by ander mense iets moois van jou kind hoor. So, laat ons ook, as een van ons vriende se kinders iets ouliks doen, dit vir die ouers sê.
Waar woorde, Toortsie. Ons fokus heeltemal te min op die positiewe. Dit terwyl dit so ‘n groot impak op elkeen se lewe het.
Jou dogtertjie is pragtig.
Dankie, ek wil haar elke dag sommer op druk, maar sy’s nie te groot op te baie drukkies en soentjies nie. Dankie tog die ander 2 hou van baie mamma liefies 🙂
Spog met jou kinders, sertifikate en daardie trots van iets bereik, is baie belangrik – vir ouers en kinders. As TO-ouers het ons die laaste twee jaar kommentaar gekry soos “maar jy kan nie self vir jou kind ‘n sertifikaat gee omdat hy leer lees het nie!”; “hy het met niemand gekompeteer nie, hoe weet jy hy is goed genoeg om ‘n sertifikaat te kry?”, ens.
Eerstens kan en moet (my opinie!) TO ouers vir hul kinders ‘n blykie van trots en prestasie gee, want hulle (die kinders) het net so hard as ander kinders gewerk om dinge te leer, te verstaan, aan karakter te werk, ens. Tweedens, jy moet eerstens met jouself kompeteer – altyd jou beste gee, altyd kan trots wees op wat jy gedoen het, en nie jouself (of jou kinders) met ander vergelyk nie. En om die lees sertifikaat te gebruik as voorbeeld: natuurlik kan jy vir hom/haar ‘n sertifikaat druk omdat hy/sy leer lees het! Aan die begin van die jaar kon hy nie lees nie, nou kan hy lees, en het miskien al ‘n hele paar beginner boekies agter die rug! Dit is ‘n groot prestasie!
En ek stem baie beslis met Toortsie saam dat jy ander ouers moet komplimenteer met hul kinders. Ons almal het soms daardie aanmoediging nodig.
Ai, dis hartseer as mense dink iemand anders moet besluit wanneer hulle kinders iets goeds gedoen het. Natuurlik is dit heerlik om te hoor van ander dat hulle ook dink jou kind is so oulik soos wat jy dink 😉 Maar dis tog ook belangrik om nie vasgevang te word in erkenning van buite. Want kom ons wees nou maar eerlik daar is altyd iemand slimmer/ryker/mooier/meer suksesvol daarbuite.
Wat my deesdae opval is hoe trofee/medalje gedrewe alles geraak het. Dit is nie meer goed genoeg as iemand jou of jou kind op die skouer klop en se “welgedaan” nie. Daar moet deesdae ‘n prys of toekenning saam met dit gaan. Dis tog so onnodig. Daarby blaas dit vuur in die kompeterende gees wat maar in ‘n minder of meerdere mate in almal van ons is. Dit voel vir my een van my grootste uitdagings is om vir, veral my oudste, te leer dat hy teen homself kompeteer en teen niemand anders.
Ja, ek het ook opgemerk dat opregte dank of prys vir iets welgedaan, nie meer goed genoeg is vir sommige mense nie – daar moet ‘n tasbare beloning by wees. Dit is baie hartseer, want nou word werkstrots, jou beste gee, ‘n kommoditeit en nie meer integriteit nie.
Intussen geniet ons as gesin saam wat ons bereik het, alles wat ons geleer het deur die jaar, want mamma en pappa leer net so baie. En ek bedoel nou ook nie net akademies nie, maar karakter gewys ook. Dit is myns insiens die belangrikste mylpaal.
So waar, Elize. Ek dink ek leer meer as die kinders. En soos jy se nie net die wiskunde (wat glo my ek ontdek het dat my 7 jarige sommige somme vinniger as ek kan doen, maar ek kom stadig maar seker weer by) en al die interessante dinge waarvan ons geleer het die jaar nie nie. Maar mens kry ook geen beter spieël van jou eie tekortkominge as juis in jou kinders nie. Met hulle saam kan mens nie help om elke dag te werk aan al daai karakter krakies wat mens maar geneig was om vroeër oor te sien nie.
Ek stem. Karakter en harde werk spreek meer op die ou einde. Ek het ‘n seun wat in ‘n spesiale skool was en vandag verdien hy meer as die ander wat ‘slimmer’ is.. Hy is getrou, opreg en hardwerkend in sy rigting waarvoor aangelê, Sy finansies stabiel en gee ons geen probleme.
Werk dus eerder aan jou kind se inbors en karakter, maak nie saak sy verstandelike vermoëns, en jy sal die vrug daarvan pluk. .
Ek luister deesdae ook maar met ‘n vraagteken as mense spog hoe slim hul kinders is. Almal staan eerste of is die slimste in die klas, daar is nie meer ‘n 2de of 3rde plek nie. Hoe is dit moontlik?
Jou dogtertje se foto is pragtig. Hul word so gou groot …
Dis so goed om te hoor dat kinders wat nie altyd aan wêreldse standaarde voldoen so goed doen vir hulself. Jy is ‘n ma wat voorwaar kan trots wees op die spog kind van jou!
Ek en manlief praat net die ander dag oor almal wat deesdae net die beste is. Ek dink wat mens sien is dat daar deesdae vir elke liewe ding ‘n toekenning gemaak word en daar is so ‘n mag der menigdom van die goed, sodat elke kind tog iets kan kry.
Ek wonder net of dit nie die waarde daarvan juis verlaag nie. As mens om elke hoek en draai ‘n toekenning kry, is dit dan nog spesiaal – iets om voor te werk?
Nou het jy al ‘n top 8 vir ‘n graad 1 klas van 30/40 kinders. Wat jy eintlik se is die kind het die beste uit 4/5 kinders in sy klas gedoen. Dis alles goed en mooi, maar in die wêreld daar buite word dit nie as fantasties gesien nie. So ‘n kind hoor vir jare dat hy so slim is en dan stap hy uit die skool banke en vind uit hy is eintlik net dood gewoon (nie dat daar fout is met dood gewoon nie!).