Daar is een ding wat my grensloos irriteer. Dit is as mense voel hul moet lieg of halwe waarhede verkoop om hul produk te bemark of ander van hul siening te oortuig.
‘n Goeie voorbeeld hiervan kom weer vandag in my “news feed”. Die siele wat pro lapdoeke is skree so graag oor die ongelooflike hoeveelheid weggooi doeke wat op ashope beland. Daar steek waarheid in, maar hulle maak altyd die pap te dik aan. Watter siel gebruik immers 8-10 weggooi doeke vir 3 jaar lank! Hul skatting vir 1 jaar se doeke is wat ek vir 1 kind oor die 3-4 jaar gebruik voor hul volledig van die doeke af is. Kom ons wees nou maar eerlik, dit is steeds BAIE doeke wat iewers heen moet gaan. So hoekom so aandik? Bly net by die waarheid en genoeg mense gaan steeds jou produk ondersteun.
Vir die R2300 (as mens spesiale aanbieding uitsluit) wat ek per jaar vir weggooi doeke betaal kon ek egter nog nie ‘n volledige stel moderne lapdoeke koop nie. Die kos deesdae ongeveer 2 jaar se weggooi doeke. Plus ek wil nie eers weet wat die ekstra water en elektrisiteit gaan kos nie. Feit is vir een kind gaan jy waarskynlik nie te baie spaar nie, maar van kind 2 af is dit ‘n winskoop. Dit is nou as jy die aanvanklike kapitaal het, want meeste van ons kan nie dit bekostig op een slag nie. Maak nie saak of dit wel op die lang termyn gaan geld spaar nie.
Moet egter nie dink dit is ‘n eensydige ding die nie. So beweer van die weggooi doek vervaardigers weer lapdoeke veroorsaak infeksies en vel irritasie. Iets wat my lapdoek vriendinne my verseker nie die geval is nie.
Hoekom kan mense nie eerder fokus op die plus punte nie? Vertel eerder vir mense hoeveel gesonder dit vir jou baba is om ‘n natuurlike produk te gebruik, sonder al die chemikalie en van die lang termyn besparing. Of hoeveel geriefliker jou produk is. Feit is daar is verskillende dinge wat vir verskillende mens belangrik is. En met eerlike bemarking is ek oortuig gaan jy eerder kliënte kry wat jou produk gaan bly gebruik en dit ook aanbeveel vir ander.
Wat is dit wat jou so dwars in die krop kan steek?
Ek stem! Ek self het nog nie lapdoeke gebruik nie, maar ek wonder selfs of ek ‘n hele stel lapdoeke sal hou vir kind nr 2. Sal ek nie te veel gril nie? Ek sal natuurlik seker maak dat dit ordentelik gewas word en dies meer. Maar ons het nie die geld gehad (of insig gehad om vooruit te spaar daarvoor nie).
Daar is mense wat daarby sweer, en dis cool. Maar soos jy sê, as die verskillende lobbies net sal hou by feite en positiewe kenmerke eerder as om die ander groep af te breek, nè.
Ek wonder soms of dit nie juis die feit is dat ons mekaar nie meer in die oë kyk nie wat maak dat mense dinge so maklik verdraai nie. Om nie eers te praat van krities wees nie. Ek wil in trane uitbars elke keer as ek die kommentaar op nuusberigte en artikels lees. Mense vind so maklik ‘n klip om te gooi en toon so min begrip vir ander.
Eki het nou die dag by ‘n meisie/vrou die oulikste lap doeke gesien – ek weet egter te min om ‘n mening te hê
Die nuwes is vreeslik oulik en mooi. Ek het al self dikwels oorweeg om dit te begin gebruik, maar het net nooit die geld daarvoor nie. Almal wat ek ken wat dit gebruik is mal daaroor.
My kinders moes grootword met lapdoeke want weggooidoeke was toe nog nie algemene gebruik nie en ook nie so goed soos vandag nie. Voordele van lapdoeke is hergebruik, maar by kind 2 is die doeke al dun gewas. Die doeke was groot en lomp in teenstelling met vandag se weggooidoeke wat gemaklik pas en beentjies baie meer beweegruimte gee.
Deesdae se lapdoeke is eintlik vreeslik oulik en nie meer so groot en lomp soos die ou tipe. En hulle is regtig pragtig. Maar in ruil vir die gerief is die doeke aansienlik duurder as die ou vierkantige doeke wat mens self moes vou.