Ons het so lank terug die skootboek oor wiele gedoen dat ek amper al daarvan vergeet het. Ons knaap was gefasineer deur die onderwerp en ons het net nog en nog boeke daaroor gelees. Dit was egter ook die eerste keer dat die 2 rakkers nie naastenby dieselfde skootboek gemaak het nie. Sus het net 1 vel voltooi, sy kon net nie vat kry aan die onderwerp nie. Vir haar het ons weer oor blomme opgelees, wat nie juis die knaap se aandag getrek het nie.
Die lekkerste was waarskynlik vir hom die eksperiment oor hoe die omtrek van ‘n voertuig se wiel gebruik word om die afstand wat dit gery het te bepaal en natuurlik ook die spoed waarteen dit ry. Hy het sommer ook geleer dat groot wiele nie so baie keer hoef te draai om dieselfde afstand as klein wiele af te lê nie. Ons het sommer ‘n hele klomp boeke gelees. In Afrikaans was daar “Wiele gooi” deur Heinz Winckler. ‘n Storie oor ‘n fiets wedren. Verder het ons “Wetenskap met wiele” deur Richard Hammond (as die boek nog in druk was het ek verseker een gekoop! Dis briljant) en “Witwarm wiele” deur Clive Gifford (nog ‘n moet lees vir seuns) gelees. In Engels was daar “Encyclopedia of transport”, “Machines at work: Truck” en “Magnificant machines: Amacing cars”.
Ek het vir hom ‘n wiele blokkies raaisel gemaak en ‘n motor woord soek. Ons het van die interessante goed wat ons raak gelees het gekopieer en ook ingeplak. En verder oordrag optel somme, 2 en 3 maal somme, inkleurprente en ‘n grafiek werksvel van die internet afgelaai. Sussa het net ‘n knip en plak blad gedoen om ‘n patroon te voltooi.
Toe die skootboek klaar was kon ek nie help om op te let hoe saai dit gelyk het nie. Dit het my weer laat dink aan die e-boek “Teaching Boys” wat ek onlangs gelees het. Dit bespreek die verskille tussen seuns en dogters, onder andere die feit dat seuns sommer met een kleur iets sal voltooi, terwyl dogters dit sal probeer mooi maak en ekstra detail by sit. Die knaap is ‘n sprekende voorbeeld van dit.
Slim