0

V&A: Graad 3 sukkel skielik met wiskunde

24 May 2018
Share

Ek kry dikwels navrae via die webjoernaal en het gedink om van die antwoorde met julle te deel.

My graad 3 kind sukkel skielik met wiskunde. Hoe kan ek haar help?

Dikwels met die jonger kinders is dit een van 2 goed wat lol met wiskunde. Baie van die werk beweeg te vinnig na abstrak (12+4=), terwyl kinders eers konkreet (met fisiese voorwerpe) werk, dan begin visualiseer (in hul kop prentjies maak om die somme te doen) en dan eers veel later begin hul abstrak dink. Ons verwag dikwels net te vroeg van hulle om die sprong na abstrak te maak (met die gevolg dat hul bloot dit memoriseer ipv om dit te verstaan). Die 2de dinge wat lol is dat die werk oorweldigend lyk. Bladsye vol bv optel somme onder mekaar breek sommer vinnig hulle moed.

Sy gaan waarskynlik blom as jy haar meer konkreet en prakties laat wiskunde doen (soos om lekkers te deel, self te besluit hoeveel ekstra eetgerei nodig is as julle besoekers het, te help met bak en brou en so met mates te werk ens) en deur speletjies. Daar is ongelooflik baie wat kinders kan leer in die proses. Plus dikwels verstaan hul dit op die lang duur beter.

Onthou ook daar is ‘n fyn balans tussen uitdaag en vaslegging. Daar moet uitdaging wees om wiskunde interessant te hou. Maar dit moenie so uitdagend wees dat sy nie eers wil probeer nie. Wissel dit af met konsepte wat sy reeds verstaan om vaslegging te bevorder en ook vir haar te wys dat sy reeds baie bereik het.