Seker ‘n goeie 6-7 jaar terug het ek met ‘n vriendin gepraat oor my frustrasies met Kinderbybels. Ek was toe al redelik moeg om dieselfde paar stories oor en oor vir my kinders te lees. Haar raad, waarvoor ek nou nog dankbaar is, was dat ek vir hulle uit die regte Bybel begin voorlees. Dat ek verbaas gaan wees oor hoeveel hulle wel verstaan. Ek was eers maar skrikkerig. Alhoewel ek weet die ouvertaling is ‘n beter vertaling van die Bybel, het ek toe begin om vir hulle uit die nuwe 1983 vertaling te lees. Die taal was net meer toeganklik. My oudste was toe 5/6 (ek kan regtig nie meer mooi onthou nie).
Aanvanklik het ons hier en daar ‘n Bybel boek gelees, sonder enige werklike plan. Ek weet ek het begin met Mattheus en toe begin rond hop tussen boeke wat ek dink hulle meer sou interesseer.
Aan die begin het die lees stadig gevorder. Ek het klein stukkies vir hulle gelees en ons het dan oor dit gepraat. Watter ongelooflike ervaring was dit nie vir myself nie. As jy immers so saam met hulle lees moet jy werklik dink oor wat jy lees!
Mettertyd het ons langer en langer stukkie begin lees. En toe iewers het ek besluit dis tyd om die Bybel van voor tot agter aan te pak. Ek kan nie onthou wanneer ons met dit begin het nie, maar Maart die jaar het ons saam die eerste keer die hele Bybel deur gelees.
Dit was ‘n ongelooflike ervaring! Ons het toe oorgeslaan na die ouvertaling toe. Na al die jare se ouer boeke lees is die taal lankal nie meer so swaar op ons ore nie! Die keer het ek besluit om dit af te wissel deur 1 Ou Testament boek en dan 1 Nuwe Testament boek te lees. Op die manier het ons sover al Genesis, Eksodus, Mattheus en Markus klaar gelees en is nou in Levitikus.
My jongste wat ‘n vars 6 is het vir al die leessessies bygesit. Sy het eintlik nooit veel blootstelling aan kinderbybels gehad nie (buiten vir nou en dan wanneer sy dit gekies het as haar aandstorie). Dit is interessant om te sien hoe haar begrip oor die jare ontwikkel het.
NS. Kom ek toe op die stukkie af wat ek 4 jaar terug geskryf het oor hoekom die vir ons so kosbaar was: https://lomi.co.za/2015/07/14/kinders-en-die-bybel/