‘n Paar jaar terug het ek ‘n nuwe vriendin ontmoet wat nie vir haar kinders uit Kinderbybels gelees het nie, maar uit die Bybel. Dit was vir my ‘n vreemde konsep. Was die Bybel nie bietjie te ingewikkeld vir klein kindertjies nie? My eie kinders wat op daardie stadium 3 en 5. Tog was ek al redelik uit gelees aan die prente Bybels en hul herhalende temas.
Ons het dit dus probeer en ek was redelik verbaas hoe baie die kinders werklik verstaan het. Vandag verbaas dit my nie meer so baie nie. Ek het al agter gekom dat kinders se boeke al meer en meer vereenvoudig geraak het deur die jare. Daar was immers ‘n tyd wat kinders leer lees het deur die Bybel te lees!
Aan die begin het ons bitter klein stukkies op ‘n slag gelees en bespreek, maar nou amper 3 jaar later lees ons al lywige stukke. Ek wil graag met julle deel hoekom ek die manier van Bybelstudie saam met kinders doen geniet (Eerder as om te hamer op waarom ek nie te gek is oor Kinderbybels nie).
Die eerste rede is eintlik baie selfsugtig. Ek word so verryk daar deur. Om elke stukkie saam met my kinders te oor dink, het ‘n nuwe dimensie aan Bybel lees vir my gebring. Om Bybel te lees soos ‘n kind en te probeer verstaan wat God telkens vir ons probeer sê is ‘n ongelooflike ervaring.
Tweedens is daar net soveel MEER in die Bybel as dit wat in prente Bybels aan kinders oorgedra word. Aan die begin van die jaar wou ons knaap meer van Dawid leer. Gewoonlik lees ons een hoofstuk uit die Ou Testament en een uit die Nuwe Testament. Ons was egter nog ‘n hele ent van Dawid af. Dus het ons die jaar nog net Ou Testament gelees. Ons is nou al ver verby Dawid, maar die kinders wil graag weet wat volgende gebeur het. Ons lees dus nog verder van al die konings en hul dinge.
Ek is so dankbaar dat die knaap van Dawid wou leer. Dawid is immers so ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n Christen te wees. Wat dit is wat God se hart verheug. Dawid was nie ‘n perfekte mens nie. Inteendeel. Dawid was ‘n egbreker, leuenaar en moordenaar. Hy het ‘n swak vir vroue gehad (Iewers het ek dit altyd mis gelees, maar Salomo het eintlik net sy pa se swak voorbeeld gevolg. Dawid was dus nie ‘n perfekte ouer nie!). Hy het soveel gedoen waaroor Christene hom met klippe sou kon gooi. Tog was hy ‘n man na God se hart. Soveel so dat God vir baie geslagte na hom nog die Israeliete geseën het, al het hul afvallig geword. Bloot oor Dawid.
Sien die verskil tussen Dawid en meeste van ons is nie dat hy nie sondig was nie, maar wat hy gedoen het nadat hy gesondig het. Telkens as God hom bestraf, het hy berou gehad. En weg gedraai van daardie sonde af (tot hy natuurlik die volgende sonde gedoen het). En deurentyd het hy God bly loof en prys. Dawid was lief vir God, al was hy ‘n sondige mens.
Dit is vir my so ‘n mooi les om vir my kinders te leer. God besef dat ons nie perfek is nie. Hy is nie minder lief vir ons as ons foute maak nie. Maar Hy verwag wel van ons om berou te hê en ons sonde te erken (en ons straf te vat soos ‘n man). Dit is so maklik vir kinders (eintlik alle mense) om te dink hulle moet altyd streef daarna om op die reguit pad te bly. Dat mens nie die spoor mag byster raak nie. Dat ‘n “goeie” Christen altyd die regte ding doen. Dit is egter nie haalbaar nie en ek dink dikwels draai mense hulle rug op God juis omdat, hulle besef hulle sal nooit daarby uitkom nie. Dit terwyl Christus juis gesterf het vir sondige mense.
‘n Verder les was dat God beslis nie kyk na hoe ons lyk nie, maar na ons harte. Saul was op die oog af ‘n baie mooier en sterker koning, maar Dawid was die man na God se hart. In ons dop gefokusde wêreld is dit kosbaar om te weet dat God met ander oë na ons kyk.
En hierdie kosbare lesse sou ons misgeloop het as ons net gelees het van Dawid die skaapwagter wat vir Goliat oorwin het.
Ek is so bly om van iemand anders te lees wat ook nie te dol is oor kinderbybels nie. My tweetjies is nou onderskeidelik 2,5 jr en amper 6 jr. Waar kan ek hulpmiddels kry wat ek kan gebruik om Byblestudie te doen met hulle?
Hi Lisa, ek het ongelukkig geen aanbevelings om te maak nie. Ons lees maar een hoofstuk Ou Testament en dan een hoofstuk nuwe Nuwe Testament en praat oor die stukkies soos ons gaan. Ons het al die interessantste gesprekke so gehad.