8 December 2020
Share

Dis einde van die jaar, ‘n besondere lang en uitdagende jaar, en almal is moeg. As jy met mense, veral kinders, werk sal jy weet dat dit ‘n ander vlak van moeg is. Onderwysers sal van daardie kan getuig en tuisskoolma’s is niks anders nie.

Dis ‘n groot voorreg om jou eie kinders te kan opvoed, maar dit maak dit nie minder dreinerend nie. Ons is net mense wat ook moeg raak.

Anders as onderwysers wat aan die einde van die jaar dankie briefies en geskenkies kry, word tuisskoolma’s egter dikwels aan die einde van die jaar bevraagteken deur wel bedoelende familie en vriende.

Is jou kinders op standaard? Hoe weet jy hulle is reg vir die volgende graad? Is jy seker hulle het alles geleer wat hulle moes? Dink jy nie jou kinders moes al x, y of z gedoen het nie? Of erger nog; dink jy nie jy moet eerder jou kinders in die skool sit nie?

Dit is nie maklik om op die emosionele laagtepunt in die jaar met dit ook nog gekonfronteer te word nie! So vandag wil ek vir jou, Mamma (of as jy ‘n Pappa is wat tuisskool) sê “Jy is genoeg!”. Jou tyd en liefde en aandag is genoeg. Bêre al daardie onsekerheid. Skep ‘n slag asem en herlaai jou batterye.

Jy het miskien hierdie jaar ‘n paar foute gemaak. Wie het nog nooit foute gemaak nie? Nie een onderwyser sal vir jou kan vertel dat hulle ‘n foutlose jaar gehad het nie. Dat daar nie iets was wat hulle anders sou wou doen nie. Iets wat hulle nie sou wou regmaak volgende jaar nie. So hoekom verwag dat jy nie ook soms dinge verkeerd gaan doen of verkeerd aangaan pak nie.

Voor jy hierdie jaar afskryf as ‘n verlore jaar gaan sit eers en kyk wat julle wel bereik het. Marisa Haasbroek van Oolfant het ‘n oulike terugblik op die jaar wat jy kan voltooi as deel van haar gratis kursus “Skop tuisskool suksesvol af met hierdie gratis hulpbronne“. Of gaan skryf sommer net self al julle hoogtepunte neer. Ek doen dit elke jaar en is altyd stom geslaan. Mens vergeet so vinnig wat julle alles gedoen het. Ek praat ook nie net van akademie nie. Hoe het jou kinders emosioneel gegroei? Aan watter karaktereienskappe het julle die jaar gewerk? Daar is soveel meer aan kinders onderrig as bloot feite leer. Lewensvaardighede wat vir hulle op die langtermyn meer gaan beteken as boeke kennis.

Dan eers na jy goed ontspan het en weer nuwe moed vir die jaar het kan jy gaan sit en kyk wat jy anders wil doen in die nuwe jaar. Onthou Rome is nie in ‘n dag gebou nie. Kies een ding / area wat jy wil verander en fokus daarop in die nuwe jaar. Dit klink eenvoudig, maar elke jaar se bietjie maak ‘n langtermyn verskil. Dit is die klein verstellingtjies wat ons help om koers te hou.

En moenie vergeet dat ons ‘n God het met ‘n hart vir kinders nie. Joune ook! Hy weet wat ons kinders wanneer nodig het, veel beter as wat selfs ons weet. Vertrou Hom dat Hy ten spyte van ons tekortkomings alles vir hulle ten goede laat mee werk.

Mag julle die nuwe tuisskool jaar met nuwe moed en durf aanpak!

NS. Daar’s geen beter tyd as nou om ‘n tuisskool vriendin op die skouer te klop en haar te bemoedig nie. ‘n Klein woorde om te wys dat jy raak sien wat sy hierdie jaar met haar kinders bereik het, maak ‘n reuse verskil.