Dit is einde van die jaar en ek is besig met ‘n terugblik op die jaar om ons hoogtepunte uit te haal. In die proses besef ek daar is 2 groot mylpale wat ek graag met julle wil deel.
Die eerste is so bietjie bittersoet. Ons is op ‘n punt waar ek vir ‘n paar dae sou kon verdwyn en die kinders sou op hul eie die huishouding kon hardloop. Dit is ‘n trotse oomblik, maar bring ook ‘n stekie hartseer as jy besef hulle het jou nie meer op daardie vlak nodig nie.
Hulle sal kan sorg vir ontbyt tot aandete. Skottelgoed was en wegpak. Hulle maak lankal als skoon wat nodig is (ons huis is sekerlik nie skou gehalte nie, maar dis lekker dat hulle dit self kan doen).
Met die dat ons besef het gimnastiek en skottelgoed was werk nie so lekker saam nie, het ons oudste meisiekind besluit dan sal sy die wasgoed oorneem. So nou was sy wasgoed, hang op en maak weer hopies skoon klere vir almal om te gaan bere. Regtig handig!
Ons knaap is so knap met die tuin en maak sommer in ‘n japtrap goedjies in en om die huis reg. Net die ander dag het hy al die slotte en skarniere geolie (want hy was verveeld).
Ons jongste het ook uiteindelik die opruim ding bemeester. Dit is soveel moeiliker vir kinders om op te ruim as om ander huiswerkies te doen. Opruim het net so baie stappe en beplanning wat nodig is dat kinders daarmee sukkel. En natuurlik is dit dikwels net vir ons makliker om dit self te doen as om by te staan en hulle stukkie-stukkie te lei om te leer om dit self te doen. Ek weet, want my ander 2 kon heelwat vroeër al dit self doen, maar met die jongste het ons langer gevat om daar te kom. Ouboet, ousus of ek kon immers baie makliker gou inspring en klaar maak.
Die tweede groot mylpaal is om hulle self motivering te sien. Natuurlik werk ons jare al daaraan dat hulle selfstandig kan werk. In die huis maar ook met skoolwerk. Dit lekker om die jaar se beplanning te kan doen en vir hulle elke week werk uit te sit wat hulle self bestuur en klaar maak na goed denke. Ons 11 jarige moet ek nog so nou en dan herinner dat die week vorder en als nog nie klaar is nie, maar ouboet gaan 100% op eie stoom voort. Hy sal selfs sy week beplanning aanpas as hy besef daar gaan iets wees wat met sy normale skedule inmeng.
Met die grendelstaat het ek besef hoe noodsaaklik daardie vaardighede is. Skielik was daar nie meer gimnastiek oefening elke dag nie. Ons het gepraat oor hoe oefening help om gemoedere hoog te hou en hulle het ook besef dat hulle fiks wou bly sodat hulle kan reg wees as hulle weer kon begin oefen.
Vir 3 maande het hulle elke weeksoggend opgestaan en na ontbyt vir 1.5-2 ure geoefen. Menigte oggend was 1 van hulle nie lus nie, maar hulle het deur gedruk. Tuis oefeninge is nie naastenby so opwindend soos om op apparaat te kan werk en nuwe vaardighede aan te leer nie. Daar is nie afrigters wat help motiveer of maats om dit lekker te maak nie.
Om elke dag net te werk aan krag, stamina en soepelheid is nie hope pret nie. Daar is geen erkenning of kort termyn beloning in dit nie. Dit vat tonne deursettingsvermoë en interne motivering en ek is trots daarop dat hulle dit kon doen. Ek is oortuig dat dit ‘n vaardigheid is wat hulle net kan help om eendag suksesvol te wees en nie afhanklik van ander om iets te bereik of om gelukkig te voel nie.
Skielik besef ek hierdie was nie so ‘n verlore jaar soos wat dit gevoel het nie. Wat het jou kinders hierdie jaar bereik? Aan watter vaardighede het julle gewerk? Of beplan julle om volgende jaar aan te werk?