Ons luister weer vanoggend na die Wieliewalie CD in die kar. Ellard is mal oor die kokosboom liedjie. Vir die van julle wat al vergeet het hoe dit gaan. Dit gaan oor die diere wat by ‘n kokosboom verby loop wat telkens sê daar’s iets wat jy nie mag doen nie. Dan sê die dier natuurlik “as ek wil sing (bv), as ek wil sing dan sing ek.” En dan val ‘n kokosneut op sy kop en gaan kla die dier by koning leeu.
Wel na vanoggend is Ellard al heel dag besig om die liedjie te sing. Die knaap kan nogal kreatief raak en dit vat hom gewoonlik nie lank om ‘n liedjie te verander en sy eie woorde in te sit nie. Ongelukkig vir sy ma besluit hy toe om dit in Pick ‘n Pay te doen vanmiddag. Sy weergawe gaan toe so. “Die kaktus kom verby.” Ja, wag vir dit… Hier kom die refrein klip hard in die winkel. “as ek wil kak, as ek wil kak, dan kak ek.”
Dis tye soos die dat jy maar net jou beste glimlag uithaal en vinnig verder stap. Verduidelik gaan nie help nie.
Toe op pad huis toe moes ons verby iemand gery het wat lekkers of iets geëet het. Die knaap kom so ewe hier van agteraf. “Die stoute tannie weet nie van naweke nie. Sy eet heeeel dag lekkers. Sy dink dit is naweek.” (Vir die wat mag wonder, die kinders mag net naweke lekkergoed eet. Ek het al mooi vir hulle verduidelik teveel lekkergoed is sleg vir ‘n mens. )