Hierdie tyd van die jaar is dit net die een verjaarsdag na die ander. Dit is egter die eerste jaar wat ons knaap begin wonder het wat hy vir mamma vir haar verjaarsdag gaan gee. Tydens ete ‘n paar dae voor my verjaarsdag besluit hy ek moet vir hom geld gee, sodat hy vir my ‘n ring kan gaan koop. “Girls hou mos van ringe”. Pappa is baie beïndruk dat hy weet waarvan mamma sal hou, maar lag te lekker dat ek self die geld moet verskaf.
Die dag voor my verjaarsdag is hier toe ‘n reuse geknip en plak aan die gang. Ek mag egter nie loer nie, want dit is ‘n verrassing. So word ek toe vanoggend wakker gemaak met ontbyt in die bed. EN ‘n mandjie vol kindergeskenke. Sommer 2 prente van die knaap af. Een van tanks en een van manne wat skiet. Natuurlik is daar ook 2 getekende ringe in – pienk en pers en 2 vliegtuie. Kleinsus het ook ‘n knip-en-plakprentjie by gesit. Die 2 is te vreeslik trots en mamma se kamer lyk ekstra mooi met al die skeppings. Die lekkerste verjaarsdag ooit.
Dit laat my net weer besef hoe anders seuntjies aanmekaar gesit is. Niemand het die knaap immers geleer hoe maak ‘n kar nie. Tog was een van sy eerste geluide “brrrrm” gewees as hy met karretjies sleep. Kleinsus speel ook graag met karretjies, maar sy sing eerder die 4×4 rekenaar liedjie terwyl sy dit doen.
Met sy verjaarsdag het hy ‘n weermag stel gekry. Dadelik is dit ‘n geskiet, landmyne gooi en “grrr” praat oor die walkytalky. Ek staan verstom. Waar het hy die geleer? Hy wil immers nie eers “Over the hedge” alleen kyk nie, want die diere kry seer. Wat weet hy van oorlog af?! Blykbaar word seuntjies met die kennis gebore.