My skoonma was so oulik om vir my ‘n broodmasjien vir my verjaarsdag te koop. Sy het raak gesien dat ons redelik uitgeëet was aan Spar se 100% rogbrood, wat al te gereeld deesdae stukke witbrood in gehad het.
Ek het nou al ‘n hele hoop resepte wat ek nog wil uit probeer, maar voor ek daarmee kan begin moet ek eers die winkels bestorm. Die gluten-vrye brode se lys bestanddele kan nogal lank raak. So lank kon ek egter nie wag nie. Vandag moes ek net daardie masjien uit toets. Ek het dus al die bestanddele wat ek in die huis gehad het saam gegooi en oë toe geknyp en duim vas gehou hier kom iets eetbaar uit.
Sien ek het nie genoeg meel gehad nie. So ek het maar ‘n konkoksie gemaak om die 450g meel wat die resep vereis het op te maak. Ek het 230g hawermout fyn gemaal in my voedselverwerker. Om die orige 220g op te maak het ek ‘n bietjie rogmeel, koekmeel (glutenvry), maizina, growwe mieliemeel, maltabella meel en klapper gemeng (moet eerder nie vra hoeveel van wat nie! As ek met die oog moet skat ongeveer gelyke gedeeltes).
Wonder bo wonder het die brood heerlik uitgekom. Proe baie soos ‘n bruinbrood (iets wat ek in jare nie geëet het nie). Die brood is bietjie bros, maar dan het ons ook nie die geduld gehad om dit eers te laat afkoel voor ons in dit in gevaar het nie.
Die eind resultaat lyk so:
Die resep wat ek gebruik het:
320g melk
1 teelepel asyn
6 eetlepels olie (ek het olyfolie gebruik)
2 eiers
450g glutenvrye meel
1 teelepel sout
2 eetlepels suiker
2 teelepels gis
Meng melk, olie, eiers en asyn saam en gooi in die broodmasjien pan.
Voeg die meel, sout en suiker by en meng met ‘n lepel.
Sprinkel die gis bo-op.
Sit die masjien op die basiese/normale brood program. Ek het die 1.5 pond funksies gebruik.
Na dit vir ‘n paar minute gemeng het skraap die kante van die pan.
Ek het nie die mengspaan verwyder na die meng nie (gluten-vrye resepte rys glo beter as jy dit inlos en eers uit die gaar brood haal)
Laat die masjien verder die res doen.
En probeer dan geduldig vir 3 ure wag terwyl die geur jou en die kinders gek maak.
Rogbrood – Wow! Dit smaak vorentoe! Hoekom sou my brood in die middel hol insak?
Dankie, Marietjie. Ek is bly julle geniet dit ook.
Die brood sak in as dit te veel gerys het. Dis nog die een ding wat so bietjie lol. Soos die weer verander en die meel en eiers minder vars is, rys die brood minder of meer. So mens moet maar altyd so klein bietjie die resep aanpas (of saam leef met die hol brood). Die maklikste om dit reg te kry is om of kleiner eiers te gebruik, of 1 eier minder in te sit of om so 40ml minder vloeistof (in die geval melk) in te gooi.
Hier teen die einde van my sak meel moet ek gewoonlik weer ‘n ekstra eier by sit, want dan rys die brood weer net nie heeltemal genoeg nie.
Mosterd na die maal…. Maar hier is my broodmasjien-rogbrood-resep…
Ek meng alles vooraf, omdat my masjien nie die meel en water ingemeng kry nie.
4 eiers
350 ml water (gewone koue kraan temperatuur)
1 eetlepel (so 15ml) olyfolie
1/2 eetlepel heuning (of suiker)
1 t sout
450-480g rogmeel (Ek gebruik Eureka Meulens se meel, om die helfte gewone en growwe rog)
1 1/2 – 2 t kitsgis
Meng alles deeglik deur en gooi in broodmasjien. Meng en bak dan met verstelling vir “Basic” of “Rapid” – op my masjiene is dit of 2h30 min of 2h53 min.
Ek ondervind dat die brood in die somer hoër rys, en gooi dan minder gis in. Ons eet nou al seker 3 jaar hierdie brood en dit werk vir ons. (behalwe wanneer ek vergeet om gis in te gooi!)
Dankie vir die deel!
Is die beslag loperig?. Ek het alles gedoen soos die resep sê en het nie gedink dit sal so loperig wees nie. Ek hoop dit word ‘n broodjie.
Hi Ellen, ja, broodmasjien resepte is baie loperig om dit vir die lemme moontlik te maak om die beslag genoegsaam te kan meng. Ek het jare terug al die masjien weg gepak en bak deesdae sommer in die oond. Loer onder die kommentaar by https://lomi.co.za/2014/11/27/rogbrood-sonder-gis/ daar het ek ‘n baie vereenvoudigde resep gedeel- wat ek deesdae gebruik. Ek het gebly by die loperige beslag, bloot omdat dit makliker is om met die hand te meng as ‘n droeër beslag wat geknie moet word. Ja, ek is ‘n lui bakker en omdat ek elke 2de dag brood moet bak het ek al heelwat kortpaaie gevat.
Baie dankie vir die antwoord, ek wens ek was al daar om kortpad te vat, maar dit sal seker met jare bykom☺️.