‘n Reuse dankie aan Givingmore, At the Rocks en ‘n dierbare skoonma wat vir ons ‘n heerlike ontspanne naweek weg in Langebaan moontlik gemaak het. Wat ‘n manier om 7 getroude jare saam te vier! Dis nogal ‘n belewenis om vir ‘n hele naweek kinderloos te wees. Vir die eerste keer in 5 jaar was dit net ek en Jaco wat kon ontspan en lekker kuier (sonder onderbrekings 🙂
At the Rocks is ‘n pragtige gastehuis. Ons het dit so geniet om te gaan stap in die natuurreservaat of sommer net oor die reservaat en meer uit te kyk. Ek is seker die kinders sou gek gewees het oor die dassies, voëls en bokkies. Hulle het in elk geval die foto’s baie geniet.
Vrydag aand het ons by Friday Island gaan eet. Te heerlik.
Saterdag het ons die dag om gesmul by Strandloper. Dis selde dat mens vir meer as 3 ure net kan eet en kuier. En dit kort na ons ‘n heerlike reuse ontbyt gehad het by die gastehuis!
Ons het ook ‘n draai gery na Jacobsbaai. Ons kon darem nie net eet, slaap en in die spa bad lê die hele naweek nie! Die naweek was immers in ‘n oogwink verby. Jaco het nie eers ‘n kans gehad om ‘n lyntjie te gaan nat maak nie.
Die kinders het darem ook ‘n lekker naweek saam met ouma gehad. Vrydagmiddag is hulle na hul niggie se verjaarsdag partytjie by Spur, Saterdag het hulle op die plot gaan speel en braai en Sondag het ouma hulle gevat om Pizza te eet. Klink of dinge heel goed gegaan het tot Sondag oggend. Die naweek het net ‘n raps te lank geraak vir ons Pop.