Die nuwe jaar het met ‘n knal afgeskop en so ook die bul se graad R jaar. Ons geniet die tuisonderwys vreeslik baie. Maar dit hou my ook goed besig. Dis eintlik nogal ongelooflik hoe besig as mens dink dat die 2 rakkers meeste van die tyd net speel en hulle self uit die kwaad hou. Tog het elke huis ‘n dosyn ander klein dingetjies wat gedoen moet word. Van wasgoed was tot kos maak. En natuurlik is daar nog rond ry vir PlayBall en gimnastiek. Dis verbasend hoe baie tyd die 2 aktiwiteite alleen in beslag neem
Ek het besluit dat ons “skool” ook ‘n naam kort. ‘n Vriendin noem hulle tuisskool Wonderboom skool. Hulle leer meestal buite onder ‘n lieflik boom. Ek het lank kop gekrap (en ek sal seker nog daaraan skuur en skaaf), maar vir nou is ons “skool” Huis Wingerd Lote. Dis gebaseer op Johannes 15:1 tot 8 (en werk eintlik heel mooi uit met ons wat in die wynland bly). My gebed is dat die kinders in die jare tuis meer sal leer as net lees en skryf, as net boeke kennis en hoe om huis take te voltooi. Dat ons in die tyd gewortel sal bly in Christus en dat Hy ons sal snoei en vorm, dat ons sal vrugte dra en sal bly besef ons is niks sonder Hom nie.
Dit is my visie vir die komende jare. Kurrikulums is handige middels, maar dit wat werklik van waarde is leer mens nie in handboeke of werksboeke nie.