Een van die vrae wat ek seker die meeste kry is, wat ons elke dag doen. Hmm, dis nogal ‘n moeilike een om uiteen te sit. Die grootste deel van ons dag bestaan uit speel en huis takies. Die leer gebeur eintlik sommer so vanself. Ek is nie ‘n streng skedule mens nie, so ons “skool” het verseker ook nie ‘n werklike skedule nie”.
Maandae en Woensdae word hoofsaaklik deur gimnastiek, Playball en ‘n kuier by ander tuisskool maatjies in beslag geneem. Die res van die week pas ons die speel en leer so tussen al die alledaagse goed in. Ons lees baie. Uit die Bybel en die lekkerste stories. Dis deel van elke dag. Die ander dinge doen ons soos ons lus kry of wanneer hulle moeg gespeel is binne, buite in die tuin of op die klimraam.
Deesdae het ek ook begin met die Klein Pelgrim lees en skryf program. Die kinders geniet dit vreeslik. Dit stel ‘n letter/klank bekend aan die hand van ‘n Bybel storie en dan is daar ‘n aktiwiteit rondom die letter en ‘n klankprent om in te kleur vir die letter. Verder speel ons met die Practica stel en Smile opvoedkundig speelgoed. Dis die lekkerste, want vir hulle is dit net speel. Ek vul ook hulle aktiwiteite aan uit die Klein Breintjies leer tuis program. Party middae terwyl kleinsus bad sit ek en die knaap en werk in sy AROS werksboeke. Dis al tyd wat ons werklik het om gefokus te werk. Verder help dit dat sy nie voel hy doen iets wat sy nog nie kan doen nie. Want sy wil ALLES kan doen wat hy doen.
Soos ek tyd het sal ek met julle deel met watter tema ons besig is. Elke maand gaan ons nuwe boeke uitneem en dan kies ek ‘n paar boeke oor ‘n tema. Sover het ons die jaar insekte en seelewe behandel. Ek dink my gunsteling plek is die biblioteek op die oomblik. Daar sonder sou ek dit nie kon doen nie! En manlief se sak sou ook nie gehou het nie.
Ek wil ook graag nog kom deel watter lekker stories ons lees en luister. Die luister stories help hulle om smiddae bietjie rustig te raak en natuurlik leer hulle om te luister. ‘n Vaardigheid wat deesdae dikwels verlore gaan. En een middag in die week kyk hulle ‘n episode uit die David Attenborough versameling (Ons het net volume 1, maar ons sal iewers volume 2 en 3 ook moet kry!) of Planet Earth . Hulle leer geweldig baie en vind dit so interessant.
Die lekkerste is dat pappa deel van alles is. Saans vertel hulle vir hom wat hulle alles gedoen/sien het en dan kan hy ietsie meer vir hulle leer daaroor. Dis lekker om ‘n man te hê wat iets van alles weet.
En dis ons week in ‘n neutedop