NUK was so gaaf om vir my hul nuwe Freestyle fopspeen en Baba bottel skoonmaakmiddel te stuur om uit te toets. Met die magdom menigte baba produkte daar buite is dit altyd handig om eers ‘n toetsloop te kan maak voor jy begin koop. Veral aangesien daar al weer 4 jaar verloop het vandat ons die baba-dril gedoen het. En glo my in daardie tyd het daar ‘n hele klomp nuwe produkte uitgekom (en van die oues is nie meer beskikbaar nie).
Ek het met ons oudste twee, onder andere, ook NUK fopspene gebruik, so ek was nogal nuuskierig om die nuwe een uit te probeer. En hoe dankbaar is ek nie dat ek dit kon doen nie. Ek sal wel my opinie gee oor die Freestyle fopspeen, of “proppie” soos ons dit sommer noem, maar die belangrikste kritikus is natuurlik klein Anina.
In haar mening is die Freestyle fopspeen die beste (natuurlik van die wat sy probeer het). Sien, soos meeste borsbabas, is sy maar kieskeurig as dit by fopspene kom. Sy het ‘n verskeidenheid fopspene. Alhoewel sy die res ook sal suig, het sy ‘n duidelike voorkeur vir haar NUK Freestyle. Veral as dit by slaaptyd kom! Wanneer die klein pop moeg raak verkies sy om op die bors aan die slaap te raak. Al alternatief is natuurlik ‘n fopspeen, maar sy spoeg almal, behalwe haar Freestyle foppie, uit as ek haar probeer slaap maak. Ek is dus te dankbaar dat daar een is wat haar rustig aan die slaap kry. Ek sal net nog een moet gaan koop, want wee die dag as daai Freestyle foppie moet weg raak.
Maar terug na my eie opinie. Die foppie is ontwerp om vel vriendelik te wees en dus die minimum kontak met die vel te he. Dit doen dit puik. Die foppie laat nie maklik ‘n merk rondom haar mond nadat sy dit gesuig het nie. Wat nogal gedoen moet word as jy ‘n klein spoegertjie het. Ek onthou al te goed die foppie ring wat altyd gevorm het met die ouer 2 as hulle so heerlik gelê en suig het. En natuurlik sit mens dan met hope foto’s met ‘n fopspeen merk rondom hulle mondjies. Dis ‘n lekkerte om die keer sommer enige tyd ‘n mooi foto van haar te kan neem. Die fopspeen het op die oog af vir my groter geluk as van die ander (moontlik omdat dit 0-6 maande is en nie net 0-3 maande nie). Tog het dit nie haar neuse half toe gedruk soos wat van die kleiner fopspene wel gedoen het nie.
Omdat ek borsvoed is daar nie bottels om te was nie. Al wat ek gereeld moet skoonmaak is die pop se fopspene. Ek het dus nogal gewonder hoe ‘n opinie ek oor die NUK skoonmaakmiddel gaan hê. Die tydsberekening was egter perfek. My sus uit London het saam met haar 14 maande oue knaap kom kuier. Ek het haar dus ingespan om ‘n beter opinie te kry oor die produk. Sy het die week wat sy hier was sy bottel met die “Baby Bottle Cleaner” gewas. Sy was baie tevrede daarmee (duidelik te sien aan die feit dat sy na die eerste keer dit bly gebruik het). Vir haar was die beste eienskap dat dit reukloos was en dat dit al die vetterige melk en proteïen aanpaksel met gemak af gewas het. En dit alles deur die wonder van ensieme.
Persoonlik hou ek daarvan dat ek kan sien wat in die skoonmaakmiddel is en dit nie die algemene “Amongst other things” onder bestanddele het nie. Ek is seker wanneer ons eers by die bababakkie en -koppie fase kom gaan dit ‘n handige produk wees om te gebruik.
NS. Ek is nie betaal vir die resensie nie. Die indrukke is dus bloot my opinie nadat ek dit self gebruik het.