3

10 minute tot ‘n fikser jy!

24 October 2014
Share

Ek was nog nooit een van die super sportiewe siele nie. Jy sal my neus veel eerder in ‘n boek vind as op ‘n sportsveld. Tog het ek al die jare probeer om darem nie in algehele onfiksheid te verval nie. Ek is mal oor stap en dit saam met my oefenbal het vroeër die ding gedoen. Ek het later die stap vir ‘n oefenfiets verruil – dit was net makliker met ‘n baba in die huis om vinnig ‘n sessie in te werk terwyl hy slaap of speel (ons bly immers nie meer in ‘n land waar dit veilig is vir ‘n ma om alleen met ‘n kind of 2 te gaan stap nie – en stap saam met kinders is in elk geval eerder drentel).

Toe vir ‘n rukkie was ek gek oor Curves, maar na ons 2de woelwater se geboorte het ons verhuis en die tak hier se tye en manlief se werksure wou net nie saam speel nie. Dit was dus maar weer ek en die oefenbal en -fiets. Met 2 woelwaters in die huis het tydjies vir dit al hoe minder geraak (veral toe hulle nie meer middagslapies gevat het nie). Om een of ander rede lok ‘n ma wat oefen kinders net soos ‘n telefoon oproep (of is dit net my kinders wat rustig buite sal speel, maar sal instorm en ‘n kakofonie van klank veroorsaak die oomblik wat ek op die telefoon is?). Klim ek op die bal of fiets dan klim 2 kleine lyfies saam op. En so het my poging om fiks te bly stadig in die niet verdwyn.

Nou is nr 3 hier en ‘n kans vir oefen nog meer van ‘n onmoontlikheid. ‘n Paar weke terug lees ek toe die “7-minute workout” raak. En my ratte begin draai. Dalk is ‘n 7 minute sessie van oefen tog moontlik…

Gisteroggend spring ek en die 2 ouer woelwaters toe sommer vroeg-vroeg weg met 7-minute van hyg. Iets anders kan ek dit nie noem nie, want genade is ek nie onfiks nie! Ons sluit die sessie af met rekke-en-strekke. Dalk kan ek bietjie van my vergete soepelheid terug kry en die kinders kan doen met dit vir die gimnastiek. So tjoef-tjaf 10 minute later is ons eerste sessie afgehandel.

Soos die dag vorder kon ek egter voel hoe my spiere protesteer. Vanoggend het ek maar stram opgestaan. Ek dink nie daar is ‘n spier wat nie pyn nie, wel buiten miskien die in my gesig. Vanoggend se sessie het teen ‘n heelwat stadiger pas plaas gevind saam met ‘n hele klomp kreune en steune. En ek weet more gaan dit waarskynlik nog erger gaan, maar daarna is die ergste verby. Nou is dit net vir vasbyt.

Hier is al die oefeninge en beskrywing sommer mooi handig op een prent:

http://i.livescience.com/images/i/000/047/746/i02/7-minute-workout-130515c-02.jpg?1368633280

Wie weet dalk is die die begin na ‘n fikser ma met meer woema.  So wie is lus om saam met my die uitdaging te vat?