‘n Jaar is waarskynlik nie genoeg om 12 + jaar van skool uit jou eie sisteem te kry nie, maar dis ‘n goeie begin. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, veral met alle oë wat skielik op julle vas genael is. Jou kind mag dalk nog nie skoolpligtig wees nie, maar dit beteken nie dat Jan Alleman so dink nie. Dit is die een jaar waarin jul die meeste gebombardeer gaan word oor jul besluit. Die storm van vra is die felste die jaar oor wat julle doen, hoe julle dit doen en of jou kind nog nie agter is nie. Juis daarom is dit die beste jaar om jouself in te bemagtig.
As jy graag wil geld spandeer op ‘n kurrikulum koop dan die jaar vir jou kind(ers) ‘n klimraam, swaaie, sandput en/of trampolien. Op die ouderdom is voorlees, speel en motoriese ontwikkeling werklik die belangrikste dinge. Dit is die boustene vir latere leer en ontwikkeling en elke sekonde wat jou kind nou agter ‘n werkboek of -vel sit, is een waarin hul soveel meer kon leer.
Gebruik eerder die jaar om self voor die boeke deur te bring. Vind meer uit oor die verskillende hulpbronne, kurrikulums en metodes van tuisonderrig wat beskikbaar is. Ons leef in ‘n tyd waar inligting vrylik beskikbaar is. Benut dit! Lees op oor eklektiese onderrig, klassieke onderrig, “unschooling”, self gerigte leer, “free range learning”, Charlotte Mason en en en. Lees boeke soos “The 3R’s” van Dr Ruth Beechick”, “The Successful Homeschool Family Handbook” en “Better late than early” van Raymond Moore en die boeke van John Holt soos “Learning all the time“, “How children fail” en “How children learn”.
Iewers tussen die magdom inligting sal jy ‘n beter idee begin kry van wat vir julle gesin mag werk. Besoek ‘n tuisonderwys ekspo in julle omgewing. Hang op die tuisonderwys forums rond. Gaan kuier by ander gesinne en loer na wat hulle gebruik. Leer uit hul foute en kry ‘n beter gevoel van die leefstyl. Want tuisonderrig is nie bloot ‘n alternatiewe vorm van onderrig nie, dis ‘n alternatiewe leefwyse. As jy steeds verlore voel woon ‘n praatjie van Martie du Plessis van Dynamis by (of koop haar DVD’s).
Interessant … ek wonder altyd hoe besluit ‘n mens wat is genoeg/te veel of te min? Wat gebeur as jy in Junie al deur die kurrikulum gejaag het?
Ek dink elke ma pak dit maar op haar eie manier aan. Maar ek vermoed in ons dag en tyd is ons meer gereeld besig om te veel te doen, eerder as te min. Ons leef in so ‘n inligtings oorgestimuleerde wêreld dat ons eerder moet fokus op briek aan draai.
Ek hou altyd die departement sy lysie van leerdoelwitte fyn dop. Ek wil immers darem hê my kinders moet ten minste dit bereik. Met die aanvang van ons oudste se graad R jaar, kon hy reeds alles op die lysie vir graad R doen. Dit het my baie gehelp om te ontspan en te besef dat hy die vorige jaar alles bereik het (deur te speel) wat verwag word van ‘n kind ‘n jaar ouer as hy. Dis eintlik ongelooflik hoe maklik kinders leer deur speel met ‘n bietjie aandag en liefde.
Natuurlik kon ons seker toe vol stoom met graad 1 weg gespring het (daar is ouers wat verkies om dit te doen). Maar ons voel mens het net 1 kans om kind te wees en mens moet dit koester vir so lank as moontlik.
Ek hou van alles wat jy sê Ek gaan jou beslis fyn dop hou want ek is nuuskierig… hehehe … wat ek daarmee sal doen weet ek nie, maar darem!
Ek dink mens is altyd soveel ryker as jy besef dat mense verskillend is en verskillend dink en doen. Dis een van die dinge waarvan ek hou van die blogs, dit gee mens ‘n kykie in ander se lewens. Mense met wie jy nie noodwendig in jou elke dag bestaan te doen sou kry nie. En saam met dit kom dikwels begrip vir mekaar se andersheid.
Dis waar en mens leer elke dag iets nuuts.
Ek haal my hoed vir jou af.Dis ‘n groot verantwoordelikheid en verg baie selfdissipline.Soos ek al agterkom uit jou skrywes,dink ek jy sal ‘n groot sukses daarvan maak.
Ag, ek hoop so, Perdebytjie. Dit hou mens op jou knieë!
Amen, amen, amen!
Dit is vir die “felste jaar ooit wat jy gebombardeer word met vrae” en vir dit is (as jy nog nie het nie) die jaar waar ma en pa ontsettend baie kan leer oor regte tuisopvoeding.
Speel, fisies, ongestruktureerd, is een van die belangrikste aktiwiteite wat laerskool kinders (daardie ouderdom) MOET doen.
Gr.R is maar net die eerste jaar waar ouers gaan leer, en ek praat nie van akademies nie. Soos ons aangaan is daar nie ‘n jaar waar ek nie emosioneel gegroei het saam met ons seuns nie.
Dis waar, Elize. Ek dink ek het meer die laaste paar jaar geleer (oor TO, oor myself, oor hoe kinders leer en en en) as ooit te vore. Seker gedeeltelik omdat dit prakties leer was, maar ook omdat ek gemotiveerd is om te leer – Want wie wil nie die beste vir julle kinders hê nie. En daar is geen beter spieël vir mens se eie tekortkominge as om na jou kinders te kyk nie!
Interessant. Jongie, ek was nog nooit werklik goed met kinders nie (ek dink my passie lê maar meer by volwasse studente) so ek was maar te bly daar is ‘n skool vir my kinders gewees.
Maar ek kan sien jy geniet dit. Hou so voorts!
Giggel ek nou lekker. As student het ek volwassenes ge”tutor” en het dit so geniet. Kinders was nooit juis my ding nie, ek het 1 jaar Sondag skool probeer hou, maar dit was ‘n ramp. Ek het altyd gese ek wil ander leer. Ek het dit sterk oorweeg om ‘n TOD te gaan doen (dis nou om volwassenes te kan onderrig).
Maar om een of ander rede is dit anders met my eie bloedjies. Of dalk is dit iets waarin ek in gegroei het mettertyd. Wie sal weet. Maar, ja, op die oomblik geniet ek dit vreeslik baie. Elke fase het sy eie uitdagings en vreugdes.