23 February 2015
Share

Ek en ‘n vriendin het besluit om die jaar saam kuns en wetenskap/eksperimente met ons kinders aan te pak. Dit skep ‘n wonderlike geleentheid vir die 7 kinders (wat tussen 1 en 11 is) om saam te werk (nie dat die jongste 2 iets meer doen as krap op die stadium nie) en agterna lekker saam te speel en kuier.

Vir ons was dit ‘n oplossing om ‘n paar Rand te spaar, maar ook hope tyd. Kuns en wetenskap klasse word gewoonlik vir verskillende ouderdomme op verskillende tye aangebied. Ons 2 jaag klaar so baie rond vir die kinders se gimnastiek dat ons regtig probeer om af te skaal in ander areas. Dit gaan wel beteken dat ek my kreatiewe sy bietjie gaan moet afstof. Vandat die kinders gebore is het ek my kuns goed weg gebêre. Ons het net nooit ‘n vertrek gehad waar ek veilig kon werk en die deur toe trek sodat hulle nie chaos daarin veroorsaak nie. En watter kind kan immers verf, pastel en kleur potlode uitlos!

Ons plan is dus dat die kinders elke tweede Maandag saam kuns doen en elke ander Maandag doen hul saam eksperimente. Laas Maandag was ons eerste kuns les. Die doel van die les was om hul van vorm te leer. Ek het dus swart en wit foto’s uitgedruk wat hulle moes na trek op “tracing paper”. Die deel van die uitstappie het goed gegaan. Ek is net spyt dat ek nie foto’s van die ander kinders se skeppings geneem het nie.

DSCF7327

Die volgende stap was dat hulle self die prent op skets papier moes oorteken. Dis hier waar die wiele afgekom het. My 7-jarige perfeksionis het gou besef dit wat hy teken en dit wat hy sien is nie dieselfde nie. En toe steek hy soos ‘n steeks donkie vas en weier om verder te teken. Met bietjie motivering het ons hom oortuig om die prent opsy te skuif en iets uit sy kop te maak. Die idee is immers om ‘n bietjie kreatief te werk, nie om nou ‘n Rembrandt of van Gogh  te skep nie.

DSCF7336-1

‘n Vriendin deel toe laas week die video oor kreatiwiteit – http://omeleto.com/188186/. Dit het dit dus vir my baie makliker gemaak om later vir die knaap te verduidelik dat dit baie oefening gaan kos voor hy iets gaan kan skep wat lyk soos wat hy wil hê dit moet lyk. En dat die feit dat hy kan sien dit lyk nie reg nie, ‘n baie goeie teken is. Hy verstaan gelukkig dat dit harde werk kos om iets reg te kry (een van daardie dinge wat hy by die gimnastiek geleer het). Dit sal interessant wees om te sien hoe die volgende kuns sessies gaan verloop.

Ek het gedink die kinders kan met waterverf verf en dan kan ons met olie pastel lig en skadu bywerk, maar meeste van hulle was eerder lus om met die olie pastel weg te spring of nie meer lus vir verder sukkel nadat hulle klaar geverf was nie. Tog het elkeen van hulle iets spesiaal gemaak en dit geniet.

Ek dink ons 5-jarige se skoenlapper het baie mooi uitgekom.

DSCF7335

Die Maandag se wetenskap het ongelukkig deur die mat geval (my vriendin se jongste moes gister vir ‘n nood operasie gaan), dus sal ons seker eers oor 2 weke weer kuns doen. Die plan vir dan is om hulle te leer van werk met kontrasterende kleure. Kom loer gerus weer in om te sien wat ons nog alles gaan skep.