Vanoggend kry ek die link na “Inspiration: Before & After Pregnancy, Baby Isn’t An Excuse” in my news feed en my nek hare staan sommer almal regop. As die ma’s gedink het hulle gaan ander inspireer het hulle verseker die verkeerde byskrif gekies.
Ek is vreeslik bly vir die ma’s wat hulle lywe weer so kon op pomp in minder as ‘n jaar na hul babas gebore is. Ek bedoel “good for them” soos die Ingelse sou sê. Dit was duidelik vir hulle belangrik om weer vinnig ‘n “6-pack” te hê. En dis hulle volle reg om so te voel.
Om egter in die proses ander ma’s te kritiseer en te beweer dat hul hulle baba’s as ‘n verskoning gebruik bloot, omdat hul prioriteite anders lyk is absurd. Self voel ek dat ‘n ma juis so gesond as moontlik moet probeer leef, maar vir elkeen van ons gaan die definisie van “gesond” verskil. Veral in die eerste jaar van my baba se lewe is hy/sy my grootste prioriteit en ek gaan nie ure toe wy aan ‘n “6-pack” lyfie, terwyl ek eerder die tyd saam met hom/haar en hul boetie/sussie kon spandeer nie. Maar dis MY prioriteite.
Dit is juis wat my grief van die byskrif. Die kritiek op ander ma’s en wat hulle prioriteite is. Dit maak my moeg dat ons as ma’s mekaar nie eerder ondersteun in ons andersheid nie. Elke een van ons se omstandighede verskil en daarmee saam wat vir hul belangrik is.
Die samelewing plaas klaar so baie druk op ons om superma’s te wees, kan ons mekaar nie ‘n bietjie ruimte gun nie?
Ek is baie bly vir hulle, effens jaloers, maar ek weet voor my siel dat ek nooit so sal lyk nie! Dis net glad nie in my gene nie! En dis definitief ook nie een van my prioriteite nie met ‘n baba in die huis nie
Ek stem oor die ruimte gee vir mekaar. En druk is geweldig op ma’s vandag. ek glo dat elkeen maar sy beste probeer.
Verseker. Ek dink elke ma wil net die beste vir haar kind(ers) hê en doen alles in haar vermoë om dit te bereik. Daarom maak dit my hartseer as ma’s vir mekaar begin vinger wys oor besluite en keuses wat hulle gemaak het.
Daardie vrouens is almal onnatuurlik maer en op hul swangerfoto’s lyk dit of hulle ertjies ingesluk het.Niks kom by mooi natuurlike kurwes nie en sixpacs is net vir spierpaleise.Dis lelik by vrouens.Buitendien grens dit vir my aan ydelheid.
Jy klik soos my man, wat altyd sê daar moet darem ‘n ietsie sag wees om aan te kan vat 😉 Maar mense verskil en ek weet daar is die wat die fikse lyfies baie aantreklik vind. Dink ek voel net gegrief dat hulle reken ons almal wil graag so lyk.
Nie dat ek sal omgee vir ‘n platter magie nie, maar al die ekstra kurwes en verandering in my lyf is ook ‘n herinnering aan die wonder dat die lyf ‘n lewe in hom gedra het.
En soms wonder ek of ons nie ook die veranderinge verkeerdelik voor swangerskap se deur gaan lê nie. Die jare stap aan vir elkeen van ons en g’n mens kan verwag om nog dieselfde te lyk as ‘n klompie jare terug nie. Ek bedoel, selfs vroue wat nooit kinders gehad het nie kry maar later jare boepmagies, ekstra kurwes, minder ferm lywe ens. Tyd staan vir niemand stil nie.
Jy is heeltemal reg.Ek het altyd ‘n redelike goeie lyf gehad,vier kinders ten spyt,maar nou begin alles hang en daar is sulke rolletjies op die heupe,wat ek nooit gehad het nie!