7

Sosiale probleme en boelies

26 March 2015
Share

Tuisonderrig is nou nogal gereeld in die media die laaste tyd. Ek verstom my soms oor wat “kenners” in van die artikels kwytraak. Ek wonder dikwels hoekom hulle nie ‘n bietjie moeite gedoen het om ‘n ingeligte opinie te lewer nie. Dis maklik om ‘n persoonlike opinie te lig, maar as jy jou naam en kundigheid gaan koppel aan iets, moet jy tog ‘n bietjie meer gedagte daaraan skenk. Anders gaan mense wat iets weet, gate slaan in wat jy kwyt raak.

Die interessantste bly egter altyd vir my om die kommentaar kolom te lees. Mense maak soms daar die vreemdste opmerkings. Daar is immers altyd die siel wat te vertel het van die een kind of gesin wat hy/sy ken wat totaal sosiaal wan aangepas is. Ek bevraagteken nie sy waarneming nie, maar ek sou tog graag met die siel ‘n gesprek wou hê om te hoor of die kind(ers) die enigste sosiaal wanaangepaste mense is wat hy ken? Persoonlik ken ek baie sulke mense. Ja, van hul is in die tuisonderrig gemeenskap, maar meer is/was in skole (dit maak seker net sin siende dat meer mense skool toe gaan as tuis onderrig word).

Ek sit self met ‘n kind wat verskrik raak tussen vreemdes (en soms selfs minder vreemdes). Dit bly ‘n proses om die eens uitgaande ekstrovert te kry om met vrymoedigheid te kommunikeer. Boelies het daardie eens borrelende, storm-in-en-bekoor-almal geaardheid gedief. Miskien sou die letsels minder diep gesit het as die eerste insident nie al op 2 1/2 was nie, want  dit is nie maklik om ‘n 2-jarige teen die tipe gedrag te bemagtig nie. Dalk sou dit ook beter gegaan het as daar nie ‘n tweede rondte was net ‘n paar jaar later nie. Ek wens ek kan sê mens kan ‘n pleister daaroor plak en dan is alles weer reg. Of selfs dat dit binne maande weer voor die wind sou gaan. Tog is dit nie so maklik nie. Dit vat jare om weer op te bou waar so maklik afgebreek is.

Ek dink my grootste hartseer is nie dat hy moes leer dat kinders wreed is nie, maar dat hy moes leer dat grootmense nog wreder is. Dat diegene wat mens dink kinders moet help beskerm, eerder op die kant staan en aanhits of sommer self verder afbreek. Ek besef as mense nou sy versigtigheid tee kom, hulle seker ook wonder oor sy sosiale vaardighede. Daaraan kan ek niks doen nie. Dit gaan nie help om te verduidelik dat hy bloot niemand maklik weer sal vertrou nie. Ek kan maar net so stukkie stukkie weer opbou en bid dat die ondervindings hom op die lang duur sterker sal maak.

Om egter tuisonderrig te blameer vir sy gedrag sou effe absurd wees. Elkeen van die sosiale fratse het waarskynlik iewers ‘n hartseer storie wat mense nou as afskiet punt vir iets heel anders wil gebruik. Ek dink meeste mense wat sosiaal sukkel het eerder seer gekry as wat hulle oorbeskerm is.

Op die front moet ek diegene wat nie hul kinders skool toe nie, juis om hulle te beskerm van boelies, ontnugter. Boelies is orals! Nie net op skoolgronde. My knaap kan daarvan getuig. Hy was nog nie ‘n dag in ‘n skool nie. En hy is nie uniek nie. Ek ken nog tuisonderrig kinders wat al soortgelyke ervarings gehad het. Daar is miskien ‘n tikkie lig en dit is dat dit waarskynlik makliker en vinniger is om agter te kom jou kind word geboelie. Maar in borrel-plastiek kan jy hom nie toe draai nie. Die lewe gee elkeen van ons ‘n paar taai klappe. Dis nie lekker om te sien ons kinders kry seer nie, maar soos my moeder altyd sê “wat nie dood maak nie, maak groot”. Dis die seer kry wat mens ook sterker maak (dis nou as mens gelukkig genoeg is dat dit jou nie heel breek nie).

Dit is seker ook slegte nuus vir die wat nog in ‘n waan leef dat tuisonderrig kinders in watte toegedraai is en nooit die lelike kant van die lewe beleef nie.

Op ‘n meer positiewe noot. Elke dag kan ek sien hoe my klein introvert stadig maar seker meer blom. Hoe sy stadig uit haar dop kruip, juis omdat sy in ‘n veilige omgewing is. Ek kan maar net hoop dat sy nie ook te jonk ontnugter gaan word nie.