4

Gehekelde tutu rokkie

27 April 2015
Share

Die laaste wat ek regtig kans gehad het vir hekel was die stel vir ons jongste se inseëning. Sy is een van daardie rare babas waar mens meer tyd vir sulke dinge gehad het toe sy ‘n maand of 2 oud was, as toe sy ‘n jaar was. Ek moet by sê ek het reeds met die stelletjie begin toe ek nog swanger was en het dit net in daardie eerste weke klaar gemaak.

JKN_0096 DSCF4898

Toe bestel ek sommer 3 stelle hekelpenne uit Engeland. Ek het skoon op die wolke geloop toe die hier aan kom. Dis ‘n hekel droom. As jy die penne plaaslik wil koop gaan dit ‘n klein fortuin kos. Die 3 stelle het my ‘n ongelooflike 10 pond gekos. En toe ek dit amper ‘n jaar terug gekoop het was die wisselkoers aansienlik beter as nou!

DSCF7759

Maar die tyd om al die nuwe penne uit te toets wou net nie kom nie. Gewoonlik het ek saans as die kinders in die bed is te heerlik gehekel. Teen die tyd dat ons jongste egter gewoonlik uiteindelik in die aand tot ruste gekom het is al waarvoor ek nog krag gehad het, ‘n vinnig koppie koffie (decaf) saam met manlief en in die bed val.

Intussen het die pop gegroei en nou kan sy al haar rokkie dra, maar slaap bly maar steeds ‘n gespook. Dit gaan al beter moet ek erken, maar die aande wat ek haar wel voor 9 aan die slaap het is ek gewoonlik nie meer lus vir hekel nie.

DSCF7746

En toe kom Ousus met ‘n 6 de verjaarsdag versoek van ‘n tutu rokkie. Ek soek rond en snak na my asem as ek die pryse sien. Moet my nie verkeerd verstaan nie. As mens na die rou materiaal kyk en die tyd wat dit neem, wonder ek hoe die mense ‘n bestaan maak. Ek besef ook dat ons pop se rok nie lank heel gaan bly nie. Kort voor lank gaan dit vol haak plekke en skeure wees. Daarby besef ek ek sal die self kan maak.

Toe ruk ek maar weer my hekel penne nader. Uiteindelik kry ek die kans om die nuwe penne behoorlik te gebruik. En werk dit nie lekker nie!!!! Met die penne kan mens uur na uur hekel sonder om moeg te raak. So kry ons Pop toe die rok wat sy wou hê. Bonus is dat sy self die kleure tule kon kies en watter kleur die toppie moet wees. (Wel eintlik het sy ook sommer besluit watter steke ek vir die moet gebruik). Die beste was dat ons blinkertjie tule kon gebruik, wat heelwat ekstra sou kos as jy ‘n klaar gemaakte rok sou koop.

DSCF7775

Sy besluit sommer dat klein sus ook ‘n rokkie vir haar partytjie moet kry. Sy is versot daarop as hulle 2 dieselfde kan aantrek. Ek dink die 2 lyk te ougat. So maak ons toe 2 rokke (miskien moet ek sê 1 1/4 rok, want die 2de een is pop klein) vir die prys van ‘n halwe een. So voel ek van vooraf dankbaar dat ek 15 jaar terug leer hekel het.

DSCF7816

Nou is ek sommer weer lus vir hekel. Kom ons hoop dat die goeie aande sal voortduur en julle weer ‘n klompie van my skeppings te sien sal kry. Dis nou as Eskom se beurtkrag nie ‘n stokkie voor dit steek nie.

Die pop, wat die aanvanklike inspirasie agter Lomi was 4 jaar terug, het my nou weer aan die hekel gekry.