Daar is iets wat ek al meer en meer die laaste ruk besef. Met kinders kan jy harder werk. Of jy kan slimmer te werk gaan.
Sien die ding is dat jy elke dag vir ure kan sit om iets in hulle koppe te kry. Uiteindelik sal hulle dit snap. Dit vat egter heelwat werk en deursettingsvermoë. En as jy met ‘n besige knaap met rysmiere te doen het, heelwat frustrasie (van beide kante).
Daar is egter ‘n ander alternatief. Een wat ons gewoonlik natuurlik volg as ons kinders nog babas en peuters is. Dit is om hulle teen hul eie spoed te laat ontwikkel. Om te wag tot hulself ‘n spesifieke mylpaal bereik. Ongelukkig werk die benadering nie so goed in ‘n groot groep nie. En omdat dit dus nie in klaskamers gebruik word nie, dink baie dat dit ook nie gaan werk tuis vir tuis onderwys nie. Tog is dit nie waar nie.
Dit is so heerlik en maklik om jou kind se leiding te volg. Om toe te laat dat hy/sy dit leer wat hul ontwikkelings gewys voor gereed is. Hoe dit in die praktyk sal lyk vir ouers kinders, sal die toekoms my seker nog leer. In die grondslag fase is dit egter eenvoudig. Wees bewus van die verskillende konsepte wat hulle moet baas raak. As jou spruit dan begin belangstel of dink in ‘n sekere rigting dan behandel jy daardie konsep. Vat dit so ver soos sy/haar vermoëns toe laat en skuif dit dan opsy.
As jy gelukkig is ontwikkel jou kind se vermoëns saam met die kurrikulum, maar moet ook nie verbaas wees as dit tussen konsepte rond spring nie. Elke mens is immers ‘n individu wat anders dink en ontwikkel. Ons was so gelukkig met ons wiskunde (ons gebruik Math U See). Tot dusver het ons knaap elke nuwe konsep baas geraak presies in die volgorde wat hulle volg. Die lekkerte daarvan is dat ons nie vir ure met ‘n nuwe konsep spook nie. Ek sien dat hy begin groepering doen. Dan in plaas daarvan om deur 7 werksvelle te spook, doen ons net die een les toets. Dit is vinnig duidelik of ek reg was of hy dit verstaan al dan nie. Soms beweeg ons deur ‘n klomp lesse in een week. Ander kere gebeur daar vir weke niks.
Hy het immers self besluit wanneer hy reg was om te kruip. En daarna was dit ‘n hele ruk voor hy eers loop baas geraak het. Tog was dit mos nie al wat hy gedoen het in daardie tyd nie. En net so het niks eintlik werklik nou verander nie. Leer gebeur ook met rukke en stote en hope ander dinge tussen in.
Net soos alle dinge het die metode ook sy voor- en nadele. Ek kyk na my eie 8-jarige. Wiskundig is hy ver voor graad 2. Die tweede kwartaal het pas afgeskop en hy is reeds klaar met graad 3 se werk. Hy geniet dit, want daar is altyd ‘n nuwe uitdaging om baas te raak. Een wat hy nie nou al sou hê nie, as hy steeds graad 2 werk moes doen. My grootste uitdaging is om nuwe uitdagings vir hom te vind.
Ongelukkig is hy nie ‘n jong genie wat net in alles uitblink nie. As dit by lees kom gaan dinge maar stadig. Hy is seker ‘n goeie 6 maande “agter” wat die aanbetref. Hy was immers eers 7 1/2 voor hy kon hoor dat k-a-t “kat” is. ‘n Konsep wat ons Pop al maande voor dit gesnap het (en sy is 2 jaar jonger as hy!). Dit is ietwat van ‘n frustrasie as jou kleinsus makliker en vinniger as jy kan lees! Maar dit is net hoe kinders verskil.
Net soos wat ek haar nie kan stop om self te leer lees nie, kan ek hom nie forseer om iets baas te raak waarvoor hy net glad nie reg is nie.
Dit is juis waar die knoop lê. Wat as my kind agter raak? Beter vraag is, sal dit werklik saak maak? Maak dit saak of iemand ‘n matriek op 17, 18, 19 of 30 gekry het? Maak dit saak as iemand wat in ‘n akademiese rigting wil gaan sy graad op 21 of 60 gekry het? Nee! Meestal weet ons dit nie eers van die mense wat ons ken nie. So met die era van Facebook saam ontdek ek nou eers jare na skool hoeveel van my klasmaats ‘n jaar ouer as die res van ons was. En selfs ‘n paar siele wat jonger was. Tog het ons almal vandag ‘n normale lewe. Vir sover normaal natuurlik gaan. Daardie “agter” of “voor” wees het lankal ou uitgetrapte, waardelose nuus geword.
As jy dus die moed het … werk eerder slimmer as harder. En geniet die ontdekkings tog en avontuur van leer saam met jou kind. Daar is immers soveel lekkerder dinge om saam te doen as om vir ure agter ‘n werksboek (of werksvelle) vas geketting te word.
Ja, ons sit in amper dieselfde situasie. Die twee outjies leer heeltemal verskillend, en ontwikkel verskillend, met die gevolg dat jong boet, wat ook twee jaar jonger is as ouboet, vinniger klanke leer, en leer lees as ouboet. Ek het ook lankal besef dat ek eerder ouboet se selfwaarde wil behou en hom laat leer op sy tyd, wanneer hy reg is, as om hom te druk en te stoot. Dit breek sy selfvertroue af, terwyl die bietjie wag, partykeer ‘n maand of twee, ander kere bietjie langer, maak dat hy die konsepte (of klanke) vinniger snap en kan aangaan, omdat hy gereed is. Geen afbreek van karakter of selfvertroue nie, iemand wat lus is om te leer, en bereid is om sy deel te doen, want hy is ook mos trots op dit wat hy kan vermag.
Dis so waar, Elize. Selfwaarde is so belangrik. Plus is dit nie veel beter om leergierig te wees en vir die res van jou lewe te wil leer nie, as wat jy leer om dit te haat en dan soos ‘n steeks donkie vas steek sodra ander nie meer daar is om jou aan te moedig nie?
Die tendens deesdae is dat mense deesdae amper hulle hele lewe deur gaan leer. Of hulle verander van beroep ‘n paar keer, en moet nuwe beroep se inligting leer, of hulle spesialiseer verder in hulle veld, ens. So ons moet ons kinders grootmaak met ‘n liefde vir leer – ‘n leergierigheid. Partykeer is hulle nie steeks nie, maar bang, want hulle word nie gelei in hul leerpad nie, daarom moet hulle ook self kan en wil leer. Dit is baie moeilik om dit aan te leer wanneer jy ouer is.
Ek stem saam, Elize. Leer moet ‘n lekkerte wees. Dit moet deel van mens se leefstyl wees. Dit moet nie werk wees nie.
Interessant hoe kreatiewiteit en aanleg kan verskil. Ek het ‘n skoonseun wat uiters slim en briljant voorkom. GEsels vlot en hou van kommunikasie. Nou die dag skryf hy vir my brief – aardeland, hy kan nie spel nie? Wys jou net. Maar, ek bly baie lief vir hom. Niks fout.
Ek dink dit is baie belangriker dat iemand se talent en gawe ontdek en ontwikkel moet word, dan iemand te dwing in ‘n rigting wat hy haat. Interessante stukkie.
Ek vermoed meer mense sukkel deesdae met spelling as jare terug. Toe het mense nog gereeld gelees. Deesdae het TV oor geneem. Mense se taalvaardigheid ontwikkel dus goed (veral ons klomp Afrikaanse siele se Engels), maar die geskrewe taal raak agter. Hopelik sal daar altyd mense wees vir wie die geskrewe taal belangrik is, want anders gaan ons dalk ‘n samelewing word wat nie meer weet hoe om dit te doen nie.
Sjoe, dis ‘n interesssante konsep, wat jy beslis met tuisskool kan toepas. In die klaskamersituasie sal dit nou nie werk nie, soos jy sê. NOu is ek baie geinteresseerd. Gaan jy maar met hom aangaan met die syfervakke, sommer na baie hoër grade vooruit? Ek dink dit is wat hom sal stimuleer?
Die wiskunde was maar vir lank vir my ‘n kopseer. Dis vir my so belangrik dat hy ‘n goeie fondasie het, maar hoe meer ek probeer terug hou het, hoe verder het sy begrip vooruit gehol.
Gelukkig het ons ‘n wiskunde onderwyser in die familie en na lang gesprekke het die my oortuig dat, solank ek seker is hy het iets onder die knie, ons maar kan aan beweeg. Ek het natuurlik ‘n vermoede dat hy nie altyd so voor gaan bly nie. Niemand van ons groei altyd kontinu nie en ek is seker daar gaan weer tye kom wat dinge gaan stadiger gaan.
‘n Hele paar TO ouers het al vir my gesê dit kom so in fases. So daar sal miskien ‘n tyd kom waar die wiskunde afslek en die letters optel en voort spoed.
Is wat ek ook gedink het gaan uiteindelik gebeur. Sal dalk oor ‘n paar jaar vir julle ‘n “update” kan gee.
Toortsie, skuus dat ek inbreek, maar die konsep om kinders te laat aangaan teen hulle pas van ontwikkeling kan uitstekend werk in die klaskamer. Finland wat een van die beste publieke skoolstelsels in die wêreld het, pas hierdie beginsel toe. Die juffrou bly by die klas waarmee sy begin in hulle gr.R jaar, regdeur tot gr. 5 ek dink. Dan moet egter in ag geneem word die klasse is kleiner, en die onderwyser het meer hulp in die vorm van assistente asook vrye keuse van materiaal en hoe om die kinders te leer.
Sal wonderlik wees as dit kan werk! 🙂
Ai, as daar oral maar die geld was om kinders so te kon leer. In ‘n klas van 30-40 kinders is dit net ‘n heeltemal ander saak.
Al het ek nie kinders nie, verstom n program op DSTV my telkens en hoe bitter jammer is dit nie, dat in ons land dit te onveilig is, om jou kind onafhanklik groot te maak. Die program is World’s worst Mom…sy is skitterend…op 9 ry haar seuntjie die bus, en dan die moltrein…natuurlik leer sy hom en doen eers kort afstande en dan wag sy vir hom by aankoms punte. Hy kan vir homself kos maak, hy kan die wasmaajien werk, hy het sy eie kitsbank rekening en word geleer om 10% van sy sakgeld te spaar. By ons, sukkel ouers om die kinders op 25 uit die huis te kry, hulle is so “entitled”. Hierdie vrou gee haar kind die grootste geskenk van alles : onafhanklikheid. Sê ek wat die Butler is vir n 1.4kg yorkie 😀
Jy slaan die spyker so op sy kop. Ek is oortuig daarvan dat dit brood nodig is vir kinders om selfstandig te word. ‘n Eeu terug het seuns van 7 hul eie mes gehad om mee te werk, teen 9/10 het hul al ‘n geweer gehad.
Deesdae sal dit as absoluut onverantwoordelik gesien word. So wil ons knaap graag leer boogskiet, maar die klub hier vat die kinders eers van 10 af (agv veiligheidsredes). Dis vir my hartseer, want ek is oortuig daarvan dat hy op 8 al genoeg verantwoordelikheid sin het om te verstaan dat daar reëls is waarby gehou moet word om dit veilig vir almal te hou. Tog het ek begrip vir die organiseerders, want ek weet hoe mal kop kinders kan wees.
Ons leef in so ‘n moeilike tyd, waar ons ons kinders moet beskerm teen al die lelik wat al meer kop uit steek en tog vir hul genoeg geleenthede moet skep waar hul hul vlerke kan toets en leer om op hul eie voete te staan. Voorwaar nie ‘n maklike taak nie.