7

Somme hou my besig

21 October 2015
Share

Die laaste ruk is ek stil. Sien ek het hierdie mal perd opgesaal. Iewers in ‘n minder helder oomblik het ek besluit dat dit nou die tyd is om te begin werk aan ‘n wiskunde aktiwiteitsboek.

EIMAG1172-1k sit al so lank met die idee in my kop. My knaap is gek oor somme, maar haat dit om voor ‘n vervelige bladsy te sit en honderde van dieselfde ding oor en oor te doen. Gee hom egter iets wat dieselfde goed op ‘n prettiger manier doen en hy sal vir ure sit en daaraan werk.

Wel uiteindelik is my proef weergawe klaar en gedruk. Die knaap trippel nou al vir dae rondom my rekenaar rond om te hoor wanneer ek gaan klaar maak. Hy het gisteraand voor slaaptyd sommer weg gespring met die eerste bladsy en vanoggend voor ontbyt al met die volgende een op die kombuistoonbank gesit.

Dit is vreeslik interessant om te sien watter aktiwiteite hy eerste wil doen. Dis natuurlik vreeslik handig om iemand te hê wat sommer vinnig foute uitsnuffel. Ek wens net ek het meer tyd gehad om die projek vinniger te kan laat vorder. Ek is net een van daardie mense wat nie kan rus vind as ek eers met iets begin het nie. Met kinders saam vorder dinge egter heeltemal te stadig na my s’n.

Terwyl my proefkonyn nou deur die bladsye werk, is dit tyd om te begin werk aan die volgende boek. Sien ek wil 3 vlakke hê. Een wat ons Pop ook sal kan doen en geniet en iets tussen die 2. So daar lê nog BAIE werk vir my voor.

Hou egter die spasie dop. Een van die dae sal my boekies hopelik te koop wees.