So loop ek Selma Lagerlof se Nils Holgersson se wonderbaarlike reis in die biblioteek raak. Ek is in reuse tweespalk. Moet ek die boek uitneem of nie?! Ek lees immers nie vir die kinders boeke met feetjies, kabouters, meerminne, hekse of enige vorm van toorkuns nie. En die boek gaan immers oor ‘n kabouter. Tog neem ek dit op die ou end uit en ons begin dit lees.
Die storie is ‘n ongelooflike lewende boek oor die kultuur, legendes en natuurlewe van Swede. Ek kan verstaan dat dit ‘n Nobelprys gewen het. Dit is wel ‘n goeie honderd jaar te vore geskryf, maar dit gee mens blootstelling aan Swede op ‘n manier wat jy nooit sou kry sonder om self daar te woon nie.
Selfs uit ‘n geestelike oogpunt is dit nie soos die tipiese moderne kabouter tipe storie nie. Die storie is immers geskryf uit ‘n Sweedse oogpunt en verduidelik eintlik baie van die oorsprong van die mitiese karakters. Anders as in ons moderne weergawe was kabouters, feë en hekse nie mooi, oulike goedjies nie. In hul kultuur was dit dinge wat gevrees is. Die boek was dus vir my kinders ‘n wonderlike bevestiging van wat ons lankal oor gepraat het. Dat die moderne weergawes geromaniseer is onder ‘n mooi lagie vermis op voorheen geestelike wesens.
Dit het ons amper 2 maande geneem om die boek klaar te lees. Dit neem immers ‘n tydjie om net oor die 400 bladsye te lees, veral as jy dit net tydens badtyd doen. Al het ons so lank daaraan gelees het die kinders nooit belangstelling verloor nie. Hulle kon elke middag nie wag dat ons moet verder lees nie.
Dit was interessant om op kaarte (Swede dorpe en Swede provinsies) Nils en die ganse se reis deur Swede te volg. Ons het geluister na Sweedse rympies en liedjies, meer geleer oor die land (ook dat een van ons gunsteling ander reekse (Emile) ook deur ‘n Sweedse skrywer geskryf is). Ons het geleer van hul monargie. Natuurlik was ons Pop die meeste gefassineer deur die prinsesse en hul krone / tiaras – veral toe sy ontdek dat die een Sweedse prinses, prinses Sofia is – Dit moet mos wees waar “Sofia the first” vandaan kom! Daar was net soveel om te leer van die land en sy mense!!!!
Nils Holgersson se wonderbaarlike reis is veilig terug by die biblioteek, maar ons leer steeds uit “Cultures of the world: Sweden” deur Delice Gan meer van Swede.
Oooooo dis voorwaar ‘n heerlike gunsteling!
Kannie die boek meer onthou, maar klink baie oulik!
Lekker leer …
Ek het as kind groot geword met die video reeks en dit gekoop vir my twee seuns ook. Het nooit geweet dit was oorspronklik ‘n boek nie.