Ons het ‘n heel interessante week gehad met allerhande gediertetjies. Eers gee ‘n vriendin Maandag vir die kinders 18 sywurms. Nou stap ons elke dag oor die pad om vars blare te gaan pluk. Die kinders is ongelooflik gefassineer deur die klein ruspers.
Ons amper twee jarige die meeste van almal. Gereeld sit sy en kyk oor die boks se rant na hulle. Nou het sy ontdek dat hulle op haar hand kan sit. Iemand moet hul telkens op haar hand sit en dan kan sy vir minute so sit met die rusper wat op haar hand rond loop. Ek is eintlik verbaas hoe sagkens sy met hulle werk.
Dis ons eerste sywurms, so ons het die week al heerlik opgelees oor hul lewensiklus, eetgewoontes en hoe hul spin. Wat ‘n interessante biologie les gaan die weke met hulle saam in die huis nie wees nie! (En gaan loer gerus na die video oor hoe sy vervaardig word.)
Vanmore kom ‘n ander vriendin toe kuier met ‘n klein hasie in ‘n boks. Hulle kat het die baba haas laas nag huis toe gebring. Verbasend genoeg het dit die nag oorleef. En weereens wil ons pop net graag die hasie kyk en vryf. Haar hart was maar bitter seer toe haas se kind moes huis toe gaan. Ons hoop maar die klein lyfie oorleef dit sonder sy/haar ma.
Ons hond het ook ‘n nuwe stokperdjie. Is dit wat mens dit noem? Sy grawe molle uit. Nie om op te vreet nie, maar om mee te speel! Soos ‘n kat met ‘n speel muis. Sy gooi hul in die lug soos ‘n bal. Rol hul rond, dra hul waar sy wil gaan. En is vreeslik bek af as jy hul by haar af vat.
Vanmore was weer ‘n keer wat sy te heerlik met een gespeel het. Gelukkig het manlief dit deur die venster gesien toe hy besig was om reg te maak vir werk. Of die molle so ongedeerd daarvan gaan afkom as daar te lank met hulle gespeel word weet ek nie. Tog tot dus ver is hul nog spring lewendig as ons hulle “red”. Dan grawe hulle sommer blitsig ‘n nuwe tonnel as ons hulle oorkant in die veld vry laat.
Natuurlik het dit weer ‘n tranedal afgegee toe ons die een moes vry laat. Ons jongste kan dit maar net nie verstaan dat sy nie die sagte ou bolletjie kan hou nie.
Ons het intussen gelees dat ons Suid-Afrikaanse molle nie ware molle is nie. Hulle het nie pote soos die Amerikaanse molle nie. Hier by ons kry ons die gouemolle of kruipmolle en ek vermoed ons het die Kaapse gouemol in ons tuin. (Ek dink natuurlik ons molle is baie mooier as die ware molle). Dit was ‘n goeie ontdekking om te maak dat hulle eintlik ‘n baie handige diertjie is wat peste help beheer. Nie dat ons te beïndruk is met die ongelyk grasperk wat die gevolg is daarvan nie.
Dit fassineer my hoe hul kan maak of hulle dood is (dis net die hartjie wat jy kan sien klop) en dan sodra hul grond raak, kry hul skielik lewe en grawe vir die dood.
Ag, en amper vergeet ek dat ons knaap weer ‘n Kaapse dwerg verkleurmannetjie gevind het tydens een van sy vele boom klim ekspedisies. Gaan loer gerus na die ongelooflike video van die geboorte van een. Voorwaar ‘n interessante en geseënde week gewees.
Terwyl ek jou interessante vertelling oor molle lees, sien ek ‘n opgewonde driejarige seuntjie met ‘n winkelsak waarin hy ‘n molletjie huis toe gebring het en die teleurgestelde figuurtjie wat die mol toe weer mooitjies by sy tonnel moes gaan terugsit…Soveel jare gelede, maar iewers in my hart woon daardie klein seuntjie nog…
Dis mos al die klein goedjies wat die lewe die moeite werd maak en altyd in ons gedagtes bly lewe
Dis ‘n pragtige inskrywing!Ek is ver teruggevoer na my kinders se sywurmjare en die gesukkel om altyd genoeg blare in die hande te kry.Die molletjie is te pragtig.Ek het nog net foto’s van molle gesien en jou kinders is voorwaar bevoorreg om ‘n regte een te sien.
Dis goed dat die kinders so kennis maak met die diertjies. Diere het my lewe verander.