Einde September het een van die kinders se maats het vir hul 18 sywurms gegee. Min het ek die dag besef dat dit ons beste wetenskap les vir die jaar gaan word. Dit was net so ‘n praktiese manier om te leer van die lewensiklus van die motte. Ons het heelwat inligting op die internet gesoek toe ons die ruspers gekry het, maar die Suid-Afrikaanse ruspers het duidelik nie saam gelees nie en wou net nooit mooi die tydlyn volg nie (die naaste aan “reg” was http://www.suekayton.com/Silkworms/schedule.htm). Ek vermoed dat dit te doen het met die weer hier in die kaap wat baie wissel. Wat my meer verbaas het is wat die kinders alles raak gesien het. Inligting wat hul nooit sou hê as ons net van die sywurms geleer/-lees het nie.
Sestien dae nadat ons die ruspers gekry het het die eerste sywurm begin spin. Teen die tyd het ons 18 ruspers 15 geword (ja, 3 ruspers het verdwyn voordat ons besef het dat iets hul weg dra – al wat ons kan dink is dat ‘n geitjie in ons huis kom feesvier het tussen die ruspers). Teen dag 29 het die laaste sywurm begin spin.

1) ‘n Rusper wat begin om anker drade te spin 2) ‘n Rusper wat begin om ‘n kokon te spin 3) ‘n klaar gespinde kokon 4) Die rusper se vel wat agter bly 5) Papies sonder kokonne.
Ons het gelees dat sommige ruspers wit en ander goud spin, maar wat die kinders gou besef het is dat die aanvanklike sy wit is. Die gebruik die rusper om anker drade te spin en dan word die geel/goue sy gebruik om die kokon te spin. Die beste aanduiding dat ‘n rusper gaan begin spin is as hul vir die eerste keer ‘n nat afskeiding maak (voor dit is daar net swart mis) – sommige doen dit egter wanneer hul al klaar begin spin het.
Ons knaap was bitter ontsteld dat die sywurms vorms moet spin en dan nie hulself kan toe spin nie. Die gevolg was dat net 3 ruspers nie hulself toe gespin het nie. Die res het net vir ‘n paar uur gehelp om aan ons boekmerke te werk en dan is hulle terug geplaas in die spin boks om hulself toe te spin. Dis interessant hoe die ruspers dadelik begin krimp, sodra hul begin spin.

1 en 2) Lee kokonne (met die vloeistof wat afgeskei word) 3) ‘n Papie dop 4) 2 motte wat paar (die mannetjie se vlerk strepe is donkerder) 5) ‘n 2de mannetjie probeer die wyfie afrokkel
Twintig dae na die eerste papie het die eerste 4 motte uitgebroei. Vir die tweede keer is daar ‘n nat afskeiding wat die kokon sag maak, sodat die mot kan uit kruip. Binne sekondes na hul uit die papies gekom het begin die motte al paar. Die mannetjies begin ‘n vreeslike wikkel dans om die wyfies te beïndruk. Is daar meer as 2 mannetjies dan probeer die ekstra een baie hard om ook deel van die aksie te kry en hy sal aan hou om die wyfie te probeer beïndruk totdat hy ‘n kans kry (of ‘n ander wyfie uitbroei).
36 uur later het die eerste mot begin eiers lê. Meeste van motte lê hul eiers op ‘n bondel, maar daar was ook motte wat sommer net rond en bot eiers gelê het.

1) Die vlerklose wyfie lê haar eiers sommer op haar kokon. 2 tot 4) ‘n Wyfie wat eiers lê. Die eiers is aanvanklik geel en word geleidelik donkerder tot dit ‘n kakie kleur word.
Agt dae na die eerste motte het die laaste een uitgekom (een papie het nooit ‘n mot geword nie). Nege dae na die eerste motte is die eerste 3 motte dood. Oor 11 dae is al die motte dood (sommige het dus langer as ander geleef). Die interessantste was dat een van die eerste 4 motte wat uit gekom het ook die heel laaste mot was wat dood is. Die besonderse mot het dus 20 dae lank gelewe. Nou mag jul dalk wonder hoe ons geweet het die mot was van die eerste. Wel die mot het nie reg uitgekom nie. Sy het haar papie in ‘n blaar gespin. Die blaar het egter verdor en hard geword. Toe dit dus tyd was vir uitbroei, kon sy nie uit kom nie. Gelukkig het die kinders die more gesien dat daar 4 motte is wat besig is om uit te kom, maar teen die middag was daar steeds net 3 motte. Ek gaan loer toe wat aangaan en besef die mot sit vas. Ek het die blaar toe gebreek en daar kruip sy toe uit. Sy kon egter nooit haar vlerke uit pof nie.

1) Die af vlerk wyfie kruip uiteindelik uit 2) Daar is dadelik ‘n mannetjie by wat wil paar 3) En nog een wat ook haar aandag probeer trek 4) Twee mannetjies by een van die nader wyfies
Ons het 2 soorte ruspers gehad. Een soort was witter van kleur. Die ruspers se motte was meer wollerig/sag as die ander motte. Die kinders het ook gou besef dat dit moontlik is om die geslag van die motte te weet sodra hul uitbroei. Die mannetjies het ‘n donkerder streep op hul vlerk as die wyfies (is dit ooit reg om van mannetjies en wyfies te praat? Wat noem mens manlike en vroulike sywurm motte?).
Sommige wyfies het meer eiers gelê as ander. En sommige het selfs meer as een keer gepaar en ‘n tweede sarsie eiers gelê. Die tweede keer was dit egter heelwat minder eiers as die eerste keer.
So begin die groot wag toe dat die eiers moet uitbroei. Die lekkerste stadium vir my 3 was immers die rusper stadium en hulle wou die keer heelwat meer ruspers hê. Die eiers wou egter niks weet van uitbroei nie. Iemand lig ons toe in dat dit nie gaan gebeur die somer nie. Die eiers broei eers weer na die winter uit. (waar die inligting dat die eiers na 1 tot 3 weke uitbroei vandaan kom weet nugter). Ons het selfs van die eiers vir ‘n paar weke in die yskas gesit om winter te simuleer, maar dit het ook nie gehelp nie. Die kinders moet dus nou vir maande wag voor ons weer sywurms in die huis gaan hê.
Nou het ek lekker gelees en sommer baie jare terug gedink aan my dae met sywurms!
Hoop julle het die allermooiste 2016
Voorspoedige Nuwe jaar vir jou ook!
Baie dankie!
Dis die beste natuurles vir kinders.Ek onthou hoe ek ook orals blare moes soek vir my kinders se wurms.
Voorspoed vir die nuwe jaar en mag daar nog baie goeie lesse vir jou kinders wees!
Baie dankie en voorspoedige nuwe jaar vir jou ook!
Wanneer word vir die pas gebore wurmpie blare gegee. Ons wurmpies kry vars blare, maar gaan almal dood. Kan iemand help, asb.
Esna, die klein ruspertjies verkies die jong klein moerbeiblare. Later verorber hulle enige grote blaar. Hulle moet ook nie hanteer word nie. Sit net die nuwe blare in. As hul groter is kan mens hulle optel en rond skuif (en die houer skoonmaak). Maar vir nou is die minimum kontak beste. Ander moontlik probleme kan skielike koue weer of insekdoder in die huis wees (Die gif wat vlieë uit die huis hou maak byvoorbeeld ook die ruspers dood)
Goeiedag. Wil net graag weet hoe bere mebs die eiers tot hul uitbroei en hoe lank vat dit omtrent?
Lindi, ons het dit in die houer gesit waarin ons later die wurms wou hou. Die eiers broei uit as die temperatuur reg is. So dikwels na ‘n warmer dag of 2. Hou dan net elke dag dop of daar nog nie iets gebeur het nie, sodat jy hulle dadelik kan begin voer. As jy natuurlik nie wil hê dat hulle nou al moet uitbroei nie kan jy dit in die yskas bêre tot jy reg is vir die groot voer.
Lomi, wat n baie interesante artikel. Baie dankie. Ek self geniet my wurm polulasie geweldig. Dit is onspannend en sommer net lekker om te sien hoe wonderlik ons Heer hul geskape het. Maar hierdie artikel van jou het my nou nuwe kennis gegee. Baie dankie. Groetnis Susan