31 December 2015
Share

Dit is ongelooflik om te dink dat nog ‘n jaar amper op sy rug is. Dit beteken dis weer tyd om te kyk na die hoogtepunte van ons jaar, nes laas jaar die tyd

Omdat ek geen idee het waar om te begin nie, kyk ek maar chronologies terug op die jaar.

201414

Laas jaar het geëindig (en die jaar begin) met ons oujaar pakkie. Dit was die eerste jaar wat ons dit gedoen het en die kinders tel al vir meer as ‘n week slapies af tot die groot gebeurtenis vanaand. Ek het weer ‘n paar idees wat in my kop rond warrel en hoop dat dit vir hulle net so ‘n lekkerte sal wees.

20158

Ons skooljaar het afgeskop met ‘n aller heerlike Reenboog partytjie. Vir die kinders en hul maats is daar min dinge so opwindends soos om lekker te mors en die jaar was dit ‘n behoorlike kleurontploffing.

IMG_3878

Ons het ‘n heerlike sport dag gereël deur die CHE gehad. Dis werklik net ‘n pret atletiek dag vir die kinders. Meer soos die skole se uitdunne wat hulle doen voor hul groot jaarlikse atletiek. Ons pop se dag was natuurlik gemaak toe sy ‘n 3de plek los gehardloop het.

Die eerste helfte van die jaar het ons soos die vorige jaar ‘n paar skootboeke gemaak. Die keer oor blomme, wiele en perde. Daarna het ons inslag bietjie verskuif. ‘n Groot deel van ons dag en manier van leer is deur te lees en die jaar het ons werklik volstoom begin met ‘n Lewende boeke benadering. Ek staan stomp geslaan hoe baie die kinders op die ontspanne manier geleer het. Ek het wel ook besef dat my eie kennis van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur bitter power is. So nou sit ek elke kans wat ek kry met my neus in “Van Patrys hulle tot Hanna Hoekom”, ‘n boek juis oor die onderwerp. Volgende jaar gaan ons ‘n storm los voorlees.

HTC5

Ons ander beste “uitvinding” van die jaar was wetenskap Maandae en kunstige Maandae. Ons het saam met nog ‘n gesin elke week wetenskap en kuns gedoen. Wel die kuns het later weg geval en ons het toe net elke week ‘n wetenskap eksperiment gedoen. Die kinders kon nooit wag om te hoor wat ons volgende gaan aanvang nie. Dit het my wel laat besef dat opvoedkundige aktiwiteite nie altyd ‘n klomp geld hoef te kos nie.

DSCF8623-1

Tydens die Junie vakansie het ons ons eerste markdag gehad. Die kinders het dit ongelooflik baie geniet en ek kon nie glo met watter vrymoedigheid hulle hul produkte aan wild vreemdes gesmous het nie. Dis ‘n vaardigheid wat ek nog by hulle moet afkyk. Hulle pes my reeds om te hoor wanneer ons dit weer doen, maar hulle sal nog ‘n goeie 6 maande moet wag tot die volgende entrepreneurs markdag.

DSCF0355

Ons het baie afgeskaal aan buitemuurse aktiwiteite die jaar en hulle het net gimnastiek tot die einde van die jaar gedoen. Met die dat hul gimnastiek meer en meer tyd begin opneem het was daar net nie meer genoeg tyd vir speel saam met ander aktiwiteite saam nie. Die 2 geniet die gimnastiek baie en het so goed gedoen die jaar. Hul het elke ‘n hele hand vol medaljes die jaar huis toe gebring (of dit so ‘n goeie ding is is ek nie mooi seker nie, maar dalk skryf ek op ‘n ander dag ‘n stukkie oor wat in my kop rond bons oor al die medaljes en dinge wat jong kinders deesdae kry). Hulle het ook albei distrikskleure gekry en by die Suidsone (Dis die verste wat die jong gimnaste kan gaan en waar die Weskaap en Ooskaap saam deelneem) het ons Pop eerste plek los gespring in minitrampolien en ons knaap ‘n 3de plek.

201556.jpg

Ons het die ongelooflike voorreg gehad om na die Kaapstad se filharmoniese orkes te gaan luister. Wat ‘n besonderse belewenis was dit nie. Die vertoning is spesiaal gerig op kinders en dit was vir die kinders fantasties om die instrumente en musikante van so naby te kon beleef.

201554.jpg

Die 2 geniet elke jaar die Eisteddfod baie en ons krap heel jaar kop om te besluit in watter kategorie hulle elk wil deelneem. Ek is verbyster hoe hul kuns deur die jaar ontwikkel het. Veral ons pop is mal daaroor om vir ure te sit en teken of verf en ons knaap is gek oor foto’s neem.

Ellard.jpg

Die hoogtepunt van my jaar was toe die leesgogga my oudste gebyt het. Middel van die jaar het ek begin wonder hoe lank dit nog gaan neem vir hom om uit eindelik werklik self te begin lees. En toe net skielik trek hy los en lees ‘n hond uit ‘n bos uit. Hy is reeds 25 boeke gelees. Ek bly stom geslaan van verwondering en dankbaarheid.

Nog meer verbasend is hoe goed ons 6jarige al lees. Sy staan nie ‘n dag terug vir ou boet nie. Sy is nog net nie so verslaaf aan lees soos hy nie (dankie tog, want ek raak moeg daarvoor om met my self te praat, omdat hy met sy neus in ‘n boek sit en hoor en sien kan vergaan). Tog lees sy elke dag. En sy lees goed!

Om te sien hoe hul vorder het ek besluit om einde November ‘n lees spoed toets te doen. Hulle moes elk vir my ‘n stuk uit Diereland van Helena Lochner lees (eers sag en toe ‘n tweede stuk hardop). Dit is sommer ook om hulle te help sien dat hoe meer hul lees hoe vinniger lees hul. Die bul het 81 woorde per minuut sag gelees en 58 woorde per minuut hardop. En Sus het 69 woorde per minuut sag en 57 woorde per minuut hardop gelees.

Met die hoeveelheid tyd wat hulle deesdae aan lees spandeer bly daar nie veel tyd vir iets anders oor nie!

201568Ons het aan die einde van die jaar ‘n prysuitdeling gehou om vir hul al die sertifikate wat hul die jaar verdien het te oorhanding. Dit was nou vir die World Education Games (wat hulle baie geniet het en ons knaap my verstom het deur 629 punte in te samel vir die wiskunde. Ek het nie besef dat hy al 40 somme in ‘n minuut kan doen nie!), Conquesta (vir ons knaap wat 95% en 100% vir al sy vakke gekry het), die Living Maths Olimpiade (wat elke jaar ‘n hoogtepunt vir ons knaap is. Ons pop het eerste gekom in haar graad en hy het 2de gekom in ‘n graad ouer as wat hy is. Ek dink dis nogal ‘n besondere prestasie om uit 183 000 kinders wat landswyd deelneem so goed te vaar. Ten minste weet ek hul sukkel nie met wiskunde nie). Ek het ook vir hul lees sertifikate gemaak (elk met ‘n lys van wat hul gelees het agter op (En ja, ons pop het self besluit wat hare genoem moet word – sy is vreeslik trots op die feit dat sy al kan lees en eers volgende jaar graad 1 is)

Ons het heerlike stories gelees die jaar. Soveel so dat ek nie werklik op ‘n top 3 kon besluit nie. So hier is ons top 6 (in geen spesifieke volgorde nie – alhoewel ek moet noem dat Wit Oemfaan beslis ons knaap se boek van die jaar was):  Wit oemfaan, Die Avontuur van Paulus van Gass – FA Venter, Vonk en sy maats – Alsoon Wessels, Stem van die groot olifant – Jenny Seed, Nils Holgersson se winderbaarlike reis – Selma Lagerlof, Die raaisel van die SS Waratah en die avokadoboom – MJ Honikman en Jock van die bosveld (Libri-reeks) – Sir Percy FitzPatrick.

Dis behoorlike mondvol. Voorwaar ‘n onvergeetlike jaar. Nou tel ons net die ure af na ons Ou Jaars ete. Ons het al lekker gewerskaf in die kombuis en dis tyd om die laaste goedjies te gaan klaar maak. Voorspoedige Nuwe Jaar vir elkeen van julle wat so getrou hier kom lees (en ook die wat per toeval hier inloer). Mag 2016 al jul verwagtinge oortrek!