So is nog ‘n jaar vinnig besig om leeg te hardloop. Die een, voel dit vir my, is in ‘n oogwink verby. Ek gaan lieg as ek sê dat dit ‘n jaar net van maanskyn en rose was. Met ‘n baba in die huis, wat nog die waarde van slaap moet ontdek, was ons klomp maar heel party dae verlep. Dankie tog dat ons nie die “school run” moes doen nie. Ek is nie so seker of ek dit sou oorleef het saam met die huiswerk en al die ander skool aktiwiteite nie. Ons kon gelukkig ons pas aanpas by almal se energie en konsentrasie vlakke.
Tog was selfs die min slaap ‘n seën. Ek het geleer dat ek meer kan ontspan. Dat my kinders meer leer as ek minder in meng. En dat liefde en aandag baie dinge reg toor. God se genade is genoeg vir vandag en more sal vir homself sorg.
Maar terug na al die hoogtepunte wat ek wil deel. Ons 7-jarige het die jaar afgeskop met sy eerste 200 stuk legkaart. Dit was nogal ‘n uitdaging vir hom. Nou net ‘n paar maande later vra hy dat ons saam ‘n 1500 stuk aanpak en so stuk stuk bou hy dit. Natuurlik kla hy aan die einde dat ek te veel gehelp het en ruk toe weer groot dele uit mekaar en bou dit oor! Hy het dit so geniet dat ons nog ‘n 1000 stuk uit haal. Die is nou al amper klaar en hy het die meeste daarvan self gebou.
Die legkaart bouery is nogal ‘n belewenis. Hy kan vir ure sit en luister na storie CD’s, terwyl hy na die regte stukkie soek. Ek is so trots op sy konsentrasie- en deursettingsvermoë. Om nie te praat van hoe baie ek uitsien na al die legkaarte wat ons nog saam gaan bou nie.
Ons het vreeslik baie pret op ons 2de Gesinspele gehad. Ons was op ‘n hele paar interessante leersame uitstappies die jaar. Van ‘n speelgoed museum tot ‘n leeu park. Van ‘n krokodil plaas tot ‘n sjokolade fabriek. Laas genoemde was waarskynlik die een wat die lekkerste geproe het. Dit was verseker ons jongste se gunsteling. Sy is klaar versot op donker sjokolade.
Ons het ‘n Playball Players groep aan die gang gekry. Ons knaap kon uit sy nate bars oor die feit dat hy weer Playball kon doen. Daarby het ons die ongelooflikste afrigter wat dit maak werk. Dit is immers nogal ‘n uitdaging met die kinders wat tussen 5 en 10 jaar oud is. Volgende jaar begin ons ‘n 2de groep en as alles volgens plan verloop gaan die 2 groepe ‘n paar vriendskaplike sport wedstryde teen mekaar speel.
Ons het die vreugde van skootboeke (lapbooks) ontdek en die kinders het so baie geleer van hul vel en hare, gimnastiek, eekhorings, kamele, slakke, krimpvarkies en hoenders. Dit is so ‘n heerlike manier om literatuur, wiskunde, kunsvlyt, eksperimente, skrif en soveel meer sommer so saam saam te doen.
Ons knaap het die laaste helfte van die jaar Tekioo (tegnologie klasse – op die oomblik doen hul houtwerk) vreeslik baie geniet. Hy raak regtig handig. Nie net met die houtwerk nie, maar net oor die algemeen. Van help gras sny tot tuin nat maak en help in en om die huis. Sy verantwoordelikheid sin en hulpvaardigheid maak my hart sommer warm. Sussa is net so oulik. Sy help so oulik met kleinsus. Die 2 pak elke oggend die skottelgoedwasser uit en is gek ook bad, stort en vensters was en vee. Wat ‘n groot hulp is dit nie.
Ons het ongelooflike stories gelees. Die top 3 (in geen betrokke volgorde) wat die jaar uitgestaan het was 1)”‘n Tent vol sterre” van Keith Osler Anderson – ‘n heerlike storie gebaseer op ‘n ware verhaal van ‘n seun wat wegloop uit ‘n kinderhuis om by die sirkus aan te sluit, 2) Astrid Lindgren se 3 boeke oor Emile – ek het saam met die kinders al Emile se kaskenades vreeslik baie geniet. Dis boeke wat vreugde bring vir oud en jonk. 3) Wonderlike Ware Dierestories van Maartens – 31 ware diere verhale, meeste daarvan uit ons eie land. Tussen in is daar kort stukkies inligting oor van die diere. Elke verhaal word afgesluit met die verduideliking van ‘n diere idioom en soms ‘n grappie (die grappies is egtet meestal nog bo my 2 se vuurmaak plek).
Verder moet ek darem so bietjie spog. Ten spyte van ons ontspanne manier van leer het die knaap baie goed gedoen in die Conquesta olimpiade vir graad 1. Hy het vir al 5 die “vakke” tussen 90 en 100% gekry. Maar die groot hoogtepunt was die Living Maths Olimpiade. Ons knaap het so deur die graad 1 Olimpiade geseil dat ek hom vir die graad 2 een ook ingeskryf het. En daar kry hy toe vol punte en is 1 van 4 wat eerste in die land geëindig het. Sus brand ook om te skryf. Sy is sy eers volgende jaar graad R en ek is maar benoud of dit die regtig ding is om haar die jaar al te laat skryf. Daar kom sy toe 2de in die land vir graad R! Die leer in die lewe benadering werk duidelik vir hulle. Ek hoop dat hulle altyd so lief vir somme maak sal bly.
Die twee se kuns het goud (ons pop) en cum laude (ons knaap) gekry by die Eisteddfod. Dit het my laat wonder of hulle nie volgende jaar met kunsklasse moet begin nie. Maar op die ou end het ons besluit dat dinge net te besig gaan raak. Daar is nog hope jare voor waarin hulle sulke nuwe dinge kan aanpak.
Hierdie was ook die jaar waarin die kinders hul eie tuisnywerheid begin het – Fizzy Friendz. Hulle het begin net met bad bruisballe vir kinders, maar daar het gou 2 geure vir die dames by gekom (laventel en “lemongrass”). Veral nou teen die einde van die jaar het hulle ‘n hele paar verkoop aan vriende en familie. Ek is so dankbaar vir elkeen wat hulle ondersteun het.
Hulle leer nie net van besigheid in die proses nie, maar van soveel meer. Hier is lank kop gekrap oor wat hul self sal kan maak om te verkoop. Toe om te kyk hoeveel geld hul nodig het vir aankope (alles is gedoen uit hul spaarbussie geld). Toe moet daar op ‘n naam besluit word. En natuurlik watter resep om te gebruik. Hulle moes rond “shop” om te kyk waar hul die beste pryse kan kry vir die bestanddele. Dit alles voor een enkel bal gemaak of verkoop kon word. Ons moes ‘n logo ontwerp (hulle het self die sketse daarvoor gemaak). Hulle moes uitwerk watter deel hul 10de is en moes selfs die besluit maak dat meeste van die geldjies gebruik gaan word om weer bestanddele te koop. Regtig ‘n heerlike leer projek. Hopelik is die die eerste van baie projekte en sal die kinders meer besigheid ‘savy’ as ek hê as hulle die dag groot is.
En ons gesin het nog ‘n lid ryker geword. Daar is dae wat ek wonder oor die wysheid van die besluit om ‘n klein hondjie te kry saam met ‘n peuter in die huis. Tog geniet ons haar vreeslik baie. Daarby leer die kinders baie van hoe om met klein hondjies te werk. Veral die tipe wat nie hou van raas kry nie.
2014 was ‘n ryk jaar vir ons. ‘n Geseënde jaar. En ek reken ons het ‘n taamlike goeie balans gekry tussen leer, sport en speel. Ek kan nie wag om te sien wat 2015 in hou nie.
Deel bietjie wat die hoogtepunte in jul jaar was!
Jinne julle was omtrent besig! Jy het ‘n pragtige gesin en sal nooit spyt wees oor wat jy in hulle bele nie.Daardie blouoog sjokoladebekkie is opvreetbaar!
Met daai blouogies draai sy ons klomp omtrent om haar pinkie.
Aangename kennis! Ek kan nie besluit wie is die gelukkigste op die foto van basie met sy hondjie nie 🙂
Welkom tannie Frannie. Die 2 is omtrent gek oormekaar. Maar die beste is eintlik om die woef saam met ons jongste te sien. 😀
Ag dit lyk soos heeltyd wonderlik … is daar darem ook tye wat jy moedeloos raak?
Nie so seer moedeloos nie, as dat die twyfel gogga mos maar dikwels byt. Doen ek genoeg? Doen ek nie te veel nie? Moes ons dit nie anders gedoen het nie? Tog dink ek dis ook nodig. So bly mens skuur en skaaf en raak nie net vas gevang in ou gewoontes nie.
ALT+169