Vir vele kinders skop die skool jaar af met eerste-skooldag-foto’s, nuwe skryfbehoeftes, nuwe onderwysers en vele meer. Op die tuisonderrig front lyk dinge egter effe anders. Al te dikwels is daar immers nie eers ‘n eerste dag van “skool” nie, want elke dag is nog ‘n dag vir leer en ontdek.
Tog is daar steeds vele maniere om die aanvang van die nuwe jaar te vier en mooi herinneringe te skep. In ons huis was die aanvang van 2014 ‘n groot hoogtepunt met ons oudste wat graad 1 begin het. Ons het die nuwe fase ingelyf met ‘n heerlike mors partytjie.
Nou wat is ‘n mors partytjie mag jy vra? Wel dis ‘n verskoning om lekker te mors natuurlik! En O, is hier nie gemors nie.
Ons is van plan om elke jaar op ‘n soort gelyke manier te begin. Hier is ‘n paar idees om die eerste skooldag onvergeetlik te maak. Dalk is hierdie die begin van ‘n nuwe heerlike familie tradisie. Julle sal maar moet wag en kyk waarmee ons 2015 gaan afskop.
Skattejag – Soek versteekde skryfbehoeftes, kunsvlyt aktiwiteit of ‘n nuwe interessante boek. Of gebruik leidrade om dit te vind.
Maak selfportrette – As dit iets is waarmee julle elke jaar afskop kan dit vreeslik interessant wees om oor ‘n paar jaar terug te kyk na hoe elkeen ontwikkel het en hul beeld van hulself verander het.
Neem ‘n foto – Wie wil nie graag foto’s hê wat die eerste skooldag vasvang nie. Gebruik die kans om ‘n paar van jou kind se gunstelinge ook vas te vang. Neem ‘n foto van jou kind teen ‘n eenvoudige agtergrond (soos ‘n muur). Maak dan ‘n “Scrapbook” blad of gebruik sagteware om interessanthede by te voeg. Dinge soos wat jou kind wil word as hul groot is, hoe lank hul nou is, hul gunsteling boek, beste maat en vele meer. Ek doen gewoonlik iets soortgelyk wanneer die kinders verjaar.
Maak ‘n tydkapsule – Maak voorbeelde van jou kinders se huidige werk bymekaar. Laat hul ‘n prent teken, ‘n stukkie skryf, of neem ‘n video van hulle . Aan die einde van die jaar kan julle dan weer na dit alles kyk en sien hoe hulle gevorder het gedurende daardie jaar. Dit is ook iets kosbaars waarna julle weer kan kyk aan die einde van hul “skool”-loopbaan.
Nuwe skool jaar tradisies – Om die begin van ‘n nuwe skool jaar te vier kan mens ook begin met gesinstradisies wat elke jaar herhaal word. Dit skep afwagting vir wat die jaar gaan kom en mooi herinneringe. ‘n Paar idees van moontlike tradisies is:
– ‘n Spesiale ontbyt
– Neem ‘n foto
– Koop saam met die nuwe skryfbehoeftes vir die jaar ietsie spesiaal om vir hulle op die eerste skool dag te gee – ‘n Mooi lêer, ‘n potlood vol blinkertjies, enige iets anders as die gewone.
– Middag ete by julle gunsteling restaurant
– ‘n Spesiale briefie vir elke kind om vir hulle te vertel hoe trots jy op hulle is en hoe opgewonde jy is oor die komende jaar.
– ‘n Uitstappie na die boekwinkel, sodat hulle ‘n boek kan kies om self te lees die jaar.
– Spesiale nagereg vir aandete.
‘n Terug skool toe partytjie – ‘n Swempartytjie is perfek vir die heerlike warm weer waarmee ons skool jaar hier aan die suidpunt van Afrika begin. Of reël dat julle tuisonderrig groep saam in ‘n park gaan speel en kuier.
‘n Uitstappie – Skop die nuwe jaar af met ‘n interessante uitstappie. Dit kan inskakel by iets waaroor julle gaan leer of dit kan iets meer algemeen wees soos ‘n uitstappie na die Wetenskap sentrum of ‘n museum.
Gemeenskapdiens – Begin die jaar deur vir ander te wys julle gee om. Bak koekies en neem dit na jul plaaslike polisie- of brandweerstasie. Gaan bedien etes by ‘n sopkombuis. Neem toiletware na ‘n nagskuiling vir haweloses. Of word deel van ‘n program wat skoolsakke pak vir behoeftige kinders.
Besoek die biblioteek – Julle besoek waarskynlik die biblioteek gereeld. Hierdie is egter ‘n kans om boeke uit te neem om aan te sluit by wat julle eerste die jaar oor gaan leer. Die kinders kan ook nuwe boeke kies wat hulle graag wil lees en wat jy vir hulle kan voorlees. Jy kan dalk selfs ‘n toer van die biblioteek reël. Die kinders kan leer hoe om self boeke te soek, hoe die Dewey Desimale Sisteem werk, en van enige ander hulpbronne en aktiwiteite wat julle biblioteek aanbied.
‘n Piekniek – Pak ‘n piekniekmandjie en gaan na ‘n park of natuur reservaat en doen ‘n omgewingstudie. Onthou jul kamera, verkyker en ‘n gids oor voëls, insekte of plante wat julle moontlik kan raak loop.
Speletjies – Julle gesin het waarskynlik reeds ‘n gunsteling. Hou dit ouderdom gepas. Van slangetjies en leertjies vir kleiner kinders tot iets soos “60 seconds” vir ouer kinders. Bou saam legkaarte. Julle kan die stukke gelykop tussen julle verdeel en dan beurte maak om ‘n stuk te plaas. Bou ‘n hindernisbaan – binne of buite die huis. Vir meer opwinding kan iemand ‘n geblinddoekte persoon deur die baan lei.
Grappe, vasvra en musiek – Kry die breinstof aan die gang met ‘n vasvra. Laat elkeen sy gunsteling grap vertel. Of soek nuwe grappe op die internet. Julle kan ook saam sing of dans. En dalk sommer ‘n bietjie laf wees in die proses.
Hou ‘n agterste-voor-dag – Doen alles die dag agterste-voor of onderste-bo. Van die klere wat julle aantrek tot waar en hoe julle dinge doen. Eet ontbyt vir aandete. Of begin by die nagereg. Sit onder die tafel en eet. Enige iets om die normale roetine in jul dag op sy kop te keer.
Kunsvlyt aktiwiteit – Maak goed om julle leer area mee te versier. Hulle kan hulle leërs of werkboeke vir die jaar versier. ‘n Boks maak waarin hul al hul kunsvlyt die res van die jaar kan bêre. ‘n Boekmerk om te gebruik. Of dalk ‘n houer waarin hulle hulle penne/potlode kan sit.
‘n Opwindende eksperiment – Kies ‘n opwindende eksperiment vir julle eerste dag. Enige iets wat die kinders se aandag sal trek. Vir oulike idees gaan loer by www.stevespanglerscience.com/lab/experiments, www.sciencebob.com/experiments en www.sciencekids.co.nz/experiments.html.
‘n Papier geveg – Gee vir elkeen drie stukke papier. Op elke stuk moet elkeen dan iets interessant van homself skryf – iets wat met hom/haar gebeur het, sy/haar gunsteling kos of speletjie. Elkeen frommel dan hul stuk papier in ‘n bal. Daarna is dit tyd vir ‘n papier geveg. Stel ‘n tydhouer en as die afgaan moet elkeen drie balle optel. Maak dan beurte om ‘n bal te lees en te raai wie dit geskryf het.
Storietyd – Maak saam ‘n grappige aaneenlopende storie. Begin met ‘n eenvoudige opening sin soos “Die snaakste dinge wat nog ooit met ons gebeur het was…”, “Die vreemdste tuisskool dag wat ons nog gehad het was…”. Maak dan beurte om ‘n storie op te maak. Hou die beurte kort en geniet hoe dinge uitrafel.
Bronne
http://www.teachhub.com/first-day-school-activities-students-love
http://www.upsidedownhomeschooling.com/create-memorable-first-day-of-school-traditions/
http://www.reallifeathome.com/10-ways-to-celebrate-the-first-day-of-school/
http://www.homeschoolwithlove.com/2012/07/24/fun-activities-for-your-first-day-of-homeschool/
Watter idees het julle om die nuwe jaar opwindend af te skop?
Sjoe dit klink lekker … wens elke skoolkind kan dit ook beleef.
Dankie, ek is seker heelwat van die idees kan mens met skoolkinders ook doen. Daar is mos altyd plek vir nog ‘n lekker gesinstradisie. Geen beter manier om herinneringe te skep nie.
Ja … ongelkkig hou ek ne meer skool nie en toe ek weg was, was ons so oorgooi met allerhande ander strooi wat mens moet doen en met ‘n klas van 57 word jou drome net net vae gedagtes.
Sjoe, 57! Ek kan my nie eers begin in dink watter uitdaging dit was nie. Ek het soveel respek vir onderwysers wat elke dag met geduld en liefde ‘n klas vol kinders moet leer. En deesdae is daai klasse onmoontlik groot.
Ek haal my hoed af vir mense wat tuis onderrig,Jou idees is so oulik!
Dankie, Perdepytjie. Ek haal weer my hoed af vir ma’s wat die skool pas hardloop. Dit kan nie maklik wees om taxi te speel, ure te sit met huiswerk (meestal met moeë kinders) en al die baie ander dinge wat saam met skool kom nie. Die lewe met die kinders tuis is soveel rustiger en minder gejaag.
Aaag – dis te oulik! Jy klink vir my na ‘n wonderlike ma wat genoeg tyd aan haar kinders afstaan. O – ok, nou verstaan ek eers dat jy tuisonderrig gee. Dit vra baie van jou. Sterkte.
Ek het ‘n vriendin wat elke jaar afskop met ‘n “nie-terug-skooltoe-dag”. Hulle gaan eet uit, geniet ‘n uitstappie en “bejammer” die skoolkinders wat in volle drag die pas moet volhou,… 🙂
By ons is daar egter nie ‘n eerste skooldag saam met die skoolkwartale nie – dis midde-in planttyd en die kinders sit elkeen op ‘n trekker druk besig om die oes in te sit. Ons skooljaar begin gewoonlik eers in middel Februarie.
Jou vriendin klink soos ‘n ma met ‘n plan.
Hoop julle kry in Februarie ‘n kans om die plant tyd wat verby is en die nuwe jaar met al sy opwindende uitdagings te vier.