27 July 2015
Share

Die laaste dag van die wintervakansie was bitter nat en koud hier in die boland. Die weer kon egter nie ‘n demper plaas op die kinders se opwinding oor hul eerste entrepreneurs dag nie. DSCF8623-1

Die eerste “Home-ed Market” is gehou by die De Huguenot Estate en my kinders het heel vakansie spandeer om Fizzy Friendz en sjokolade lepels te maak. Dit was iets lekker om te doen op daai koue, nat dae waarop mens altyd wonder wat nou. Die Fizzy Friendz is bad bruisballe en badsout wat hulle al die laaste jaar maak en verkoop. Ons wou egter ook iets eetbaar verkoop en het toe besluit op sjokolade en marshmallow lepels waarmee mens jou eie warm sjokolade melk kon maak (of natuurlik net so eet).

DSCF8622

Die mark was soveel pret. Daar was op die ou end 22 stalletjies wat deur 29 kinders beman was. Ons was so dankbaar dat ander tuisonderwys gesinne en van ons vriende die dag kom ondersteun nie – veral omdat die weer so goor was! My mond het oop gehang om te sien hoe die kinders hul goedjies aan vreemdes verkoop het. En dit meestal nog in Engels!!!

DSCF8628

Vir hulle was dit heerlik om te sien dat ander mense hul produkte koop. Om nie te praat hoe bly hul was vir die ekstra geld nie. Ons knaap is op ‘n groot spaar missie om vir hom nuwe Lego te koop. Nie sommer ‘n gewone klein stel nie, een van daardie duur groot stelle met liggies in.

DSCF8626

Dit was vir my so interessant om te sien met watter oulike idees ander vorendag gekom het. Van voorskoolse kinders wat tjips, skulpiekuns en eksperimente verkoop het tot die tieners wat juwele, grimering en t-hemde verkoop het. Om nie te praat van die oulike Minute-to-win-it stalletjie nie.

DSCF8644

Almal het die dag so geniet dat ons dit volgende jaar verseker weer gaan doen.

DSCF8618 DSCF8632  DSCF8637  DSCF8619DSCF8621DSCF8641