Therific Naturals het ‘n splinter nuwe produk uit gebring vir badtyd pret – Fizzle Fun. Ek kan nog nie mooi glo dat ons so gelukkig was om dit op die proef te stel nie. Miskien het hulle geweet dat my kinders niks kan weerstaan wat borrel en bruis nie. Ek het immers al telling verloor hoeveel keer ons variasies op die koeksoda en asyn ding moes doen.
Tog raak hul net nooit verveeld met die reaksie nie. Tydens ons eerste bad het “Awesome” dus luidkeels deur die badkamer weerklink. (Manlief kan dit net nooit weerstaan om hul te terg met “Asem, ja, asem” as hulle hul taal so meng nie) Hulle kon net nie hul opgewondenheid beteuel nie. Skielik kon hul sommer vir ‘n hele klompie aande in ‘n ry al die heerlikheid van die geborrel en bruis geniet.
Die tweede ding wat hulle opgemerk het was hoe heerlik dit ruik. Ek is veral gek oor die pienk. Vir my laat dit dink aan spookasem en al die lekker herinnering wat daarmee saam gaan. Ek is self gefassineer hoe hulle so ‘n bietjie badsout kan kry om so vreeslik oor te kook.
Fizzle Fun vul nie die bad met bolle skuim soos hul Kiddy-calm badsout nie. Dit vorm eerder ‘n skuim soos die van skeerroom. Vir ons was dit die meeste pret om elke aand ‘n ander aktiwiteit te doen of uit te dink en dan die inhoud in die bad uit te keer as ons klaar was. Fizzle Fun het immers al dieselfde voordele van die Kiddy-calm.
So gepraat van die voordele, nou na meer as 2 maande van aan en af bad met hulle produkte kan ek met sekerheid sê dat dit wel my jongste se slaap verbeter het. Sy slaap steeds nie soos ‘n droom nie, maar sy slaap ooglopend beter die tye wat ons dit wel gebruik. En enige iemand wat ‘n sleg slaper in die huis het sal weet om 1-2 keer snags op te staan is tonne beter as om 3-4 keer op te staan.
Ek is gek daaroor dat dit my kinders aan die dink gesit het. Elke aand wou hul iets nuuts probeer en kyk wat gebeur. Ons het begin met die aktiwiteite wat hul voorgestel het, maar toe gou ons eie variasies uit gedink. Een aand wou hul sien wat gebeur as ons van die begin af al die kleure saam gooi. Ons moes heelwat warm water by gooi om deur dit alles te werk. Heerlik pret natuurlik om te sien hoe 1 kleur twee, later 3 en toe 4 word. My peuter kan net nie genoeg aan dit vat en voel nie.
Nog ‘n ander aand wou hul sien of hulle die groot bak kon kry om oor te kook. Ons het telkens dit amper reg gekry, maar teen die tyd dat ons nuwe Fizzle Fun by gegooi het en weer warm water gehad het het die voriges effe gesink. Dit het ‘n groot gegiggel en lag af gegee.
So gepraat van warm water. Die water temperatuur maak ‘n duidelike verskil. Hoe warmer dit is hoe meer borrel en bruis dit. Ons het net altyd water uit die warm kraan gebruik, wat warm genoeg was om die reaksies in die foto’s uit te lok. Ek vermoed kook water sou dalk nog beter gelyk het, maar wou nie die naby die kinders bring om uit te vind nie.
Fizzle fun is regtig hope pret en sal ‘n vreeslike oulike geskenk vir kinders van enige ouderdom maak. My rakkers het daarmee geskryf, dit rond geblaas, borrels daarmee geblaas, dit op hulle gevryf, oor en weer gemeet en gooi. Elke aand was daar net ‘n nuwe plan.
Maar gaan loer eerder self na hul videos met nog prettige aktiwiteite wat ek nie gewys het nie. Doen dit net waar jou kinders dit nie kan sien nie, anders gaan jy geen ander keuse hê as om vir hulle daarvan te koop nie. Die video’s is by https://youtu.be/lcQIOFDmaio, https://youtu.be/XwQstrayGiM, https://youtu.be/jXzmFACQh-U en https://youtu.be/EsXkmFC7BhU.
Of gaan loer in op hul Facebook-blad vir spesiale aanbiedinge en nog oulike produkte soos die Winter Whoopee waarmee jy jou eie sneeuman kan maak
Ons gebruik ook Kiddy Calm en ek het nou vir die seuns ook die Fizzle Fun gekoop. Ek kan dit regtig aanbeveel. My jongste is verskriklik besig – wat geleerdes “borderline ADHD” noem, en ek “erg-seuntjie-beisgheid”. Hy’s ‘n beweeg-kind. Sit nie sommer stil nie. Kiddy Calm help hom om te ontspan en bietjie rustiger te wees – vir ons is hy opmerkbaar rustiger. Die belangrikste egter is dat hulle bietjie ekstra Magnesium (en ek dink Kalsium en Kalium) inkry, maar dat hulle nou ook leer oor reaksies. Badtyd is nou ‘n baie lang affêre, maar daarna gaan hulle sommer reguit bed toe.
Ag, dis lekker om te hoor dat dit vir nog iemand ‘n verskil maak. Net vir al die pret is dit al die moeite werd, maar as dit nog rustigheid bring is dit soveel beter!