Ons Wetenskap Maandae het weer afgeskop vir die nuwe kwartaal. Die week het ons kleur gebruik om te leer van digtheid en na die interaksie van seep en vette.
My kinders het al voorheen ‘n digtheid eksperiment gedoen, maar toe ek op die suiker reënboog een afkom moes ons dit ook doen. Dit is so ‘n wonderlike visuele manier om te verduidelik dat die digtheid hoër raak soos die hoeveelheid suiker toe neem. Al wat jy nodig het is ‘n paar glase met water, voedselkleursel, suiker en strooitjies. Kleur elke glas water ‘n ander kleur en voeg dat in elke glas een teelepel suiker meer by.
Ons kon toe ook sommer heerlik praat oor die kohesie en adhesie kragte wat maak dat die vloeistof hoër opstoot in die strooitjie as die in die glas. Oor oppervlak spanning wat deur dieselfde kragte geskep word en hoe dit veroorsaak dat die vloeistof nie uitloop as jy die strooitjie met jou vinger toe druk nie.
Daarna het die kinders heerlik gekleurde strooitjies gemaak (en gedrink). Hulle het gekyk wat gebeur as jy die glase se volgorde omruil. En ook wat gebeur as jy die strooitjie horisontaal hou. Ons het gesien dat as te veel vloeistof skielik by kom dit meng met die bietjie in die strooitjie en dan nie mooi lae maak nie. Alles baie pret.
Terwyl ons toe nou besig was met kleursel het ons weer die melk-seep eksperiment gedoen. Van die kinders het dit al voorheen gedoen, maar dit bly fassinerend om te sien hoe die kleure hardloop as jy skottelgoed seep in die melk gooi. As ons dinge soos die herhaal besef ek altyd hoe baie van wat ons doen ek net nooit oorskryf nie.
Ons het geleer dat seep molekules twee pole het. Een wat lief is vir water en een wat nie van water hou nie. Die tweede pool wil dan bind met vet om weg te kom van die water af. Gewoonlik sien ons nie die effek van seep op vet nie, maar met die kleursel in die melk kan mens skielik baie kleurvol sien hoe die seep deeltjies by die vet probeer uit kom. Hulle noem dit “molecule gymnastics” in die skakel, wat ons klomp gimnaste baie snaaks gevind het.