Toe ons oudste gebore is was die opsies van koorspenne taamlik beperk. As jy nie bereid was om ‘n duur oortermometer te koop nie, moes jy spook om koors onder hul arm te meet. Of deur ‘n “dummy” wat hulle altyd spoeg, omdat hulle reeds goor voel. Of ‘n strokie wat jy net nie kan kry om op hul voorkop te bly nie.
My vreugde was groot toe my liewe moeder rondom die geboorte van ons tweede kind ons seën met ‘n digitale voorkop termometer – wat toe die nuwe “gadget” op die mark was. Na die vorige gespook was dit ‘n droom. Dit het egter ook sy eie paar uitdagings gehad. Veral om snags almal wakker te maak met ‘n lig, omdat jy nie die lesing kon sien in die donker nie. Tog was dit soveel makliker. My enigste werklik probleem was dat die model nie werk onder 14 grade Celsius kamertemperatuur nie. In die middel van die winter, juis wanneer die kinders gewoonlik siek word, kon my voorkop termometer dus gewoonlik nie koors meet nie! Dan was dit maar weer die gespook met die outydse termometers.
Dit alles het skielik verander. Die winter gaan koors meet nie meer ‘n kopseer wees nie! Sien NUK het ‘n splinternuwe 2-in-1 Baba termometer. Die 2-in-1 is effe misleidend, want dis baie eerder ‘n alles in een termometer!
Die 2-in-1 termometer meet liggaamstemperatuur of in die oor of op die slaap. En dit doen dit super vinnig! So vinnig dat mens selfs ‘n woelige siek kind se koors met gemak kan meet. Dis so eenvoudig om te gebruik dat selfs my 7- en 9 -jarige dit kan gebruik.
Vir babas jonger as 6 maande beveel hul aan om die temperatuur op die slaap te meet, aangesien jong babas se oorkanaal nog baie klein is en ‘n akkurate lesing bemoeilik. My aanbeveling is om almal in die gesin se temperatuur te meet terwyl hul gesond is. Elke mens se normale temperatuur verskil effe en dit help baie om te weet wat dit is.
Die termometer meet almal behalwe my oudste pop se normale temperatuur perfek. Om een of ander rede meet dit egter op haar slaap temperatuur hoër, maar ook net as ek die termometer in ‘n sirkel beweeg soos aanbeveel. Hou ek dit stil op haar slaap dan is die lesing dieselfde as in haar oor. Dit beteken dat ek nou weet hoe om haar koors te meet. As ek nie die proef voor die tyd gedoen het nie, sou ek my dalk vaal geskrik het as sy die dag wel koors gehad het.
Die termometer werk waar die kamertemperatuur tussen 10 en 40 grade Celsius is. Hierdie gaan dus die eerste winter wees wat ek heel winter met gemak die kinders se koors kan meet (indien dit nodig sou wees).
Die funksie waarvan ek die meeste hou is dat die punt van die termometer verkleur na jy ‘n lesing geneem het. As die temperatuur normaal is verlig dit groen en as dit te hoog is verlig dit rooi. Selfs in die donker kan mens dus dadelik sien of ‘n kind koors het. Die termometer stoor ook outomaties die laaste 25 lesings, wat dit maklik maak om te sien hoe die koors gevarieer het. Elke keer as jy koors neem wys dit ook die vorige lesing, sodat jy dadelik kan sien of die koors toegeneem of afgekom het. Die klank kan ook afgesit word, sodat jy werklik met die minste steurnis moontlik ‘n siek kind se temperatuur snags kan neem.
Dit is egter net die begin van wat die oulike termometer kan doen! Dit meet ook kamertemperatuur, wat baie handig is om te help besluit hoe warm om ‘n baba aan te trek of toe te maak snags. Dit het ‘n oulike voetstuk waarop dit kan staan, sodat dit altyd byderhand is en ook maklik om kamertemperatuur te lees.
Die ekstra funksie waarvan ek seker die meeste hou is dat dit oppervlak temperatuur kan meet en dus gebruik kan word om vas te stel of baba se badwater die regte temperatuur is. Of om te kyk of baba se bottel of kos die regte temperatuur is. Dit kan tussen -22 en 80 grade Celsius oppervlak temperatuur meet, wat regtig handig is.
Dit is ook my kinders se gunsteling funksie. Dit het ‘n groot wetenskap eksperiment vir hulle geword. Hulle het heel wat pret om te kyk wat die temperatuur van verskillende voorwerpe is. Of hoe warm hulle van hul sop hou. Of sommer net hoe die temperatuur verskil op verskillende plekke op hul lyf. Hulle vind dit interessant om te sien wie se hande die koudste is. Ek het dit ook ingespan om seker te maak my yskas is op die regte temperatuur. Oppervlak temperatuur kan ook kontinu gemeet word, wat dit maklik maak om te sien wanneer iets die regte temperatuur is as dit verhit word.
Die enigste negatiewe ding wat ek van die nuwe wonder kan sê is dat dit taamlik moeilik is om dit oop te maak om by die battery uit te kom. Alhoewel ek nie hou van spook nie, is dit ook nie so ‘n slegte ding nie. Dit beteken immers dat kinders (veral ons jongste) nie kan karring met die battery nie. Daarvoor is ek dankbaar, want batterye is al te dikwels soek in die huis!
Hierdie is beslis my gunsteling “gadget” van die jaar. Ek hoef nie meer verskillende toestelle te hê om koors, kamertemperatuur, badwater en kos te meet nie. Dis maklik om skoon te hou en het geen ekstra filters nodig wat vervang moet word nie. Dis een van daai dinge wat die lewe soveel makliker maak vir elke ma met jong kinders in die huis. Bederf gerus ‘n swanger vriendin daarmee. Sy sal jou ewig dankbaar wees!
Die NUK 2-in-1 baba termometer is beskikbaar by Baby City (Aanbevole verkoop prys is R636.99) of deur Takealot.com.
Gaan loer gerus by NUK se Facebook blad in of volg hul op Twitter