1

Hoekom doen ons dit anders?

12 June 2019
Share

Een van die eerste vrae wat mense seker altyd vra oor tuisonderwys is hoe beweeg kinders deur grade (die eintlike vraag wat hul wil vra is hoe assesseer jy jou kinders) of watter kurrikulum volg jul om al die vakke te kan dek (die eintlike vraag is hoe weet jy jou kinders is op “standaard”?). Dis nou na hulle eers oor die hele sosialisering mite gekom het.

Dis moeilik om vir mense te verduidelik wat ons presies doen en nog moeiliker vir hul om te verstaan dat die skool metode nie die enigste antwoord is. Ek kan hulle nie kwalik neem nie. Ek het self oor dieselfde dinge gewonder toe ons die pad oorweeg het. Ons is almal immers deur ten minste 12 jaar van “die stelsel” en om buite dit te dink en beweeg is ‘n reuse sprong in die onbekende in. Om nie te praat daarvan dat dit ‘n pad is wat mens in die donker moet oop voel nie. (En ‘n hele paar keer jou tone stamp)

Hier is die ding. Na al die jare op die skoolbanke het ek en my man die wye wêreld ingestap sonder die vaagste benul van hoe verder. Goeie intellek, ordentlike skole en ons ouers se beste pogings tot hulp het nie gehelp nie. Ons was verdwaal tussen die magdom keuses daarbuite. Wie ons was en waarin ons belanggestel het was vaag. Geen beroepsvoorligter kon lig op die tema werp nie (‘n paar het wel probeer). Waarskynlik het dit nog minder gehelp dat ons “intelligent genoeg” was om enige iets aan te pak. So wat nou?! Dis jare later en glo my vry my man voel nog steeds sy pad oop.

Die skoolstelsel se almal-moet-alles-kan-doen metode het nie vir ons gewerk nie. Ons het bloot daarin verstrengel geraak. Wat help ‘n spul onderskeidings op papier as jy geen benul het hoe om dit vir jou te maak werk nie?

So hierdie is ons poging om dit anders te doen. Om ons kinders die geleentheid te gee om te ontdek wie hul werklik is. Waarin hul belangstel. Wat vir hul belangrik in die lewe is. En om hul dan die geleentheid te gee om daarop te fokus.

Te gereeld het ek gesien hoe die mense wat vroeg ‘n sterk punt gehad het (en gespook het met die res) presies geweet het wat hul eendag met hul lewe wou doen. Dis wat ek vir my kinders wil hê!

Gaan ons dit reg kry? Ek kan net hoop, maar daar is geen manier om dit met sekerheid te sê. Wat ek wel weet is om dieselfde proses te herhaal en ‘n ander uitkoms te verwag gekkigheid is.

Ons doen dit dus anders en wie weet net dalk miskien kry ons iets reg. Foute gaan ons verseker teen die pad maak. Dit is die verloop van enige ontdekkingsreis en soms eindig jy glad nie waar jy gehoop het nie. Tog leer jy altyd iets in die proses. Kyk maar vir Columbus wat in sy poging om na die ooste te vaar die Amerikas ontdek het. Dink nou net wat sou gebeur het as hy nooit op sy ontdekkingsreis gegaan het nie!