2

Die nadele van tuisonderwys

20 June 2019
Share

Mense is dikwels op soek na die nadele van tuisonderwys. Hulle soek gewoonlik op die verkeerde plekke. Hulle dink aan goed soos sosialisering, akademie, nagraadse studie, werk eendag… Dis nie waar die haakplekke lê nie.

Maar alles in die lewe het voor en nadele. So hier is ‘n paar van die nadele  vir die wat nog wonder of hulle wil tuisskool of nie.

Jou huis gaan in geleef word

Met tuisonderwys kry jy beslis waarde vir jou geld uit jou huis. Of dit nou jul eie huis is en of jul huur. Julle gaan die huis ten volle benut! Dis nie net ‘n plek waar mens kom slaap, eet, huiswerk doen en naweke/vakansies deur bring nie. Elke hoekie en gaatjie gaan gebruik word vir die grootste deel van die dag.

Hoekom noem ek dit ‘n nadeel sal jy wonder? Dis eenvoudig, want saam met ‘n ruimte wat werklik benut word kom daar of chaos of heelwat werk om dit netjies te hou. Die meeste van ons probeer ‘n tipe balans vind. Ons het totsiens gewuif vir ‘n huis wat in ‘n tydskrif sou kon verskyn, want ons wil tog hê dat ons kinders moet speel en leer (en nie net heeldag opruim en skoon maak nie).

As jy egter ‘n netjiese huis te alle tye wil hê gaan dit beteken dat jy baie meer energie as voorheen gaan moet spandeer om dit so te hou. En as jy nie gaan inspring en jou kinders leer om op te ruim en skoon te maak nie, gaan jou huis in algehele chaos ontaard.

Jy gaan besef wat die invloed van voeding en tegnologie op jou kinders is

Tuisskool ma’s kom baie gou agter wat die invloed van dit wat ons kinders eet/drink en waarmee hulle hul besig hou op hul gedrag en leer het. Ons werk elke dag heeldag met ons kinders. Ons sien die oorsaak en gevolg eerstehands. ‘n Onderwyser by die skool gaan nie die dag as jou kind nie kan fokus nie weet wat jou kind vir ontbyt gehad het of hoeveel TV hy die vorige dag gekyk het nie. Om die verwantskap tussen die dinge te sien is dus dikwels moeilik.

Tuis begin jy egter gou dit raak sien. Een ma het eendag by die atletiek opgemerk dat sy al gesien het tuisskolers drink net water, maar dat hulle nog te kort in die ding is en dat haar kinders nog koeldrank drink. Haar opmerking is baie akkuraat. Meeste van ons kinders eet en drink baie gesond, bloot omdat ons die gevolge van die ongesonde eet en drinkgoed eerstehands aan ons lyf voel.

Daarby het ons die tyd om gesonder opsies aan te bied. Daar is tyd om ‘n ete te kook ipv om na ‘n lang dag en ‘n aand waarin daar nog huiswerk voorlê eerder te stop vir ‘n wegneemete of om die vinnigste moontlik ete aan mekaar te slaan. Daar’s tyd om brood te bak. Tyd om gesonde happies te eet deur die dag (om ‘n gesonde kosblik te pak is aansienlik moeiliker om nie van duurder te praat nie).

Jy gaan jouself beter leer ken

Kinders is soos ‘n spieël. Mens sien al jou slegte eienskappe in hul raak. As hul heeldag by jou is is dit net meer so. Daar is niemand wat jy kan blameer vir hul swak gedrag of karaktereienskappe nie. Jy kan nie wegkruip agter “hulle het dit by die skool geleer nie”. Jy is hul rolmodel en wat jy in jou kinders sien is nie altyd mooi nie. Kinders spieël jou ongeduld, buie, selfsug ens perfek vir jou terug. Jy gaan jouself sien soos jy nog nooit het nie.

Maar genadiglik skuur en skaaf kinders ons ook om beter mense te raak.

My tyd” raak ‘n skaarste

Ons leef in ‘n tyd wat “me time” ‘n groot ding geraak het. Ma’s voel dit is iets waarop hulle geregtig is. As jy kies om te tuisskool gaan jy egter n seisoen binne waar daar heelwat minder tyd vir daardie eie ek gaan wees.

Oomblikke van stilte (selfs al is dit net in die kar op pad werk toe) gaan iets van die verlede wees. Veral as jou kinders nog klein is. Daar gaan wel ‘n tyd kom wat jou kinders groter is en nie meer heeldag in jou sorg nie.

As jy werklik alleentyd wil hê gaan dit heelwat meer beplanning kos as wanneer jou kinders in die skool is. Jy gaan nie meer alleen inkopies gaan doen nie. Jy gaan kinders by jou hê as jy jou hare wil laat sny of dokter toe moet gaan.

Jou kinders gaan anders wees

Realiteite is dat jou kinders waarskynlik anders gaan wees. Dit is nie waar van alle tuisskolers nie. Sommige gesinne verkies om dinge steeds te doen soos gesinne met skool kinders dit doen.

Die meerderheid van ons gryp egter die voordele van tuisonderwys met albei hande vas. Die meer vryheid, die feit dat ons kinders vir langer nog kinders kan wees. Dit is immer hoekom baie die pad gekies het.

Die gevolg is egter dat ons kinders anders na die lewe kyk. Hulle het ander belangstellings, speel ander speletjies. Hulle is bloot anders. Dit is daardie anders wat my gelok het na tuisonderwys. Maar dit is ook nie aldag maklik nie. Dit gaan beteken dat jou kinders nie kan saam praat oor die dinge wat skoolkinders oor praat nie. Dat hulle waarskynlik maats gaan soek en kies wat meer soos hulle self is.

Een van die skoolma’s kan glad nie verstaan dat my amper 12 jarige in die tuin wil werk nie. Dat hy nie eerder ‘n speletjie op ‘n tablet of rekenaar wil speel nie. Dit is uitheemse begrippe vir baie.

Jou gesin gaan alles saam doen

Tuisskool gesinne doen meeste dinge saam. Ons is soos ‘n pakkie, die een kom nie sonder die ander nie. As ons partytjie hou kom al die boeties en sussies saam. As ons gaan kuier gaan kuier al die boeties en sussies saam.

Dis nie iets wat ek dikwels sien onder nuwe tuisskolers nie. Hulle ry hulle self nog voos om die een kind hier en die ander kind daar te kry. Om seker te maak almal is gelukkig. Gewoonlik neem dit maar ‘n tydjie om te besef verskillende ouderdomme kan saam kuier en speel en dinge doen. Dat jy nie soos ‘n afkop hoender hoef rond te jaag om almal op verskillende plekke te kry nie.

Die wonderlike ding is dat gesinne nader aanmekaar beweeg. Dat dit lekker raak om tyd saam te spandeer.

Jy is in beheer

Daar is min dinge wat seker so vreesaanjaend is as die besef dat jy en net jy in beheer is van jou kind(ers) se opvoeding nie. Die keuses van wat om te gebruik is legio en werklik oorweldigend as jy eers besluit het op tuisonderwys.

Om nie te praat van die ongelooflike besef dat daar niemand meer is waaragter jy kan skuil nie. Jou kinders se sukses gaan afhang van jou! Jy kan nie enige foute of tekortkominge op ‘n kurrikulum, onderwyser of skool blameer nie, want jy is die een wat die materiaal kies wat jou kinders gebruik, jy is die een wat hulle leer en saam met hulle die pad stap, jou huis is die “skool en jy is verantwoordelik vir die atmosfeer daarin.

Realiteit is dat alle ouers eintlik dieselfde verantwoordelikheid dra, maar die besef daarvan kom eers werklik as jy volle beheer daaroor neem. Tog wil ek jou ook bemoedig. Op die ou end kan ons elkeen net doen wat ons kan doen. Die res moet ons by die Here se voete lê en Hom vertrou dat Hy ons sal lei en vir ons kinders die geleenthede skep wat hulle nodig het om te vlieg.

Om dit te oordoen

Glo dit of nie ons is geneig om eerder dinge te oordoen as wat ons te min doen. Toe ons nog vars in die tuisonderwys ding was het my man iemand raak geloop wat reeds ander kant uit was. Haar enigste raad was dat ons moet waak daarteen om nie te veel te doen nie.

Ek vermoed die grootsheid van die verantwoordelikheid, die kritiese oë van ander en die vrees dat ons gaan vaal dryf ons om dikwels heeltemal teveel te doen. Ons is so bang ons kinders gaan op iets uit mis. Dat ons iewers iets krities gaan nalaat dat ons juis meer doen as wat nodig is.

Waak daarteen, want een van die wonderlike voordele van tuisonderwys is juis dat ons rustiger kan lewe, dat ons kinders vryer kan asem haal en langer kan kind wees. Moenie vir welke rede ook al daardie voordeel misloop nie.

NS. Nadat ek die artikel in die tuisonderwys gemeenskap gedeel het het verskeie mense vir my laat weet dat ek een van die nadele gemis het. Dit nogal ‘n grote. En dit is dat daar altyd mense gaan wees wat oor jou skouer loer om te sien wanneer (en nie of) jy gaan vaal.

Ek moet erken daar heel aan die begin het dit my ook gevang. Die laaste paar jare het ek effe dikvellig geraak en kan ek nie juis omgee wat hulle dink nie. Tog is ek seker daar gaan weer tye kom wat dit gaan krap, veral as dit mense na aan jou hart is wat die negatiewe houding in neem.