Dikwels is een van die eerste dinge wat nuwe tuisskoolouers oor wonder, wat hul kinders als moet leer. Hoe verseker hulle dat hul kind eendag weer kan skool toe gaan (baie wil hul kind hoërskool toe stuur), of universiteit toe, of selfs net om hul na skool toegerus die lewe in te stuur.
Ek is seker mense gaan verskillende antwoorde op die vraag hê, maar hier is die hoof dinge wat ek aanbeveel.
1) Leer jou kind lees. Dit klink vanselfsprekend, maar realiteit is dat groot persentasies moderne kinders nie met begrip kan lees nie. Dit is nie net ‘n probleem in ons land nie, maar internasionaal, en is beslis nie beperk tot sekere sosio-ekonomiese groepe nie. Lees gerus meer oor die kommerwekkende statistieke in Die eenvoudig antwoord
2) Leer jou kind probleemoplossend dink. Ons leef in ‘n tyd van verbruikers, waar kinders die vermoeë om self probleme te identifiseer EN op te los verloor. Help hul om eendag nie net verbruikers te wees nie, maar deel van die groep mense wat vooruitgang en vernuwing kan bring.
3) Leer jou kind om onafhanklik te werk. Dit sluit waarskynlik baie by die volgende punt aan. Dit gaan nie net die lewe vir jou as ouer makliker maak as jou kind self gedrewe kan werk nie. Dit gaan ook eendag vir hulle dinge makliker maak as hulle gaan studeer en werk.
4) Werk aan karakterbou en hul emosionele intelligensie. Dit is die dinge wat bepaal hoe suksesvol, gelukkig en aangenaam mense is om mee saam te werk en lewe.
5) Leer jou kind hoe om te leer. Of nog belangriker help hul die vreugde ontdek van leer. Dis waardevol as mens weet hoe om inligting te bekom as jy spesifieke kennis nodig het. Dit maak nie saak hoe oud jy word nie, jy bly konstant leer en om te weet hoe om dit te doen is so belangrik.
6) Bou ‘n goeie algemene kennis op. Geen twee mense het dieselfde algemene kennis nie. Moet dus nie bekommerd wees oor presies wat jou kind alles iets van weet nie. Bou eerder stelselmatig meer en meer kennis oor meer en meer dinge in hul lewe in. En versprei dit oor soveel velde as moontlik.
7) Help jou kind om sy/haar belangstellings en sterk punte te ontdek. Deur te fokus op kinders se sterk punte bou dit hul selfvertroue. Wat beteken dat hul selfs dit waarmee hul sukkel makliker en meer positief aanpak. Daarby help dit hulle om vroeg reeds te ontwikkel in ‘n rigting wat waarskynlik hul loopbaan gaan word of gaan bydra tot loopbaan sukses. Hoe meer tyd ons immers aan iets spandeer hoe beter raak ons daarmee.
As jou kind hierdie bou blokke het kan hulle wanneer hul weet wat hul met hul lewe wil doen die uitdagings aanpak wat nodig is om daar te kom. En ja, skoolkinders het nodig om dieselfde vaardighede aan te leer. Ouerbetrokkenheid, en nie die kurrikulum, skool of buitemuurse aktiwiteite nie, is die belangrikste faktor om kinders te help ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik.
Goeie punte, ek sou wiskundige vaardighede bylas. Gewone hoofrekene kry nie meer aandag nie.