28 February 2011
Share

Ellard en Salomie het vir hulle ‘n lieflike modderpoel geskep in een van die akkers. Die 2 geniet die mors nou vreeslik. Hoe ek hulle nou daar gaan uitkry om te kom eet en ‘n middagslapie te vat weet ek nog nie.

Ek moet sê dit gaan al baie beter. Die vorige keer het hulle klere en al gemors en Salomie se Minni hemp het nou ook deel van die hoop modder gevlekte klere geword wat ek net nie kan skoon kry nie. Ek het hulle dood  voor die oe gesweer as hulle weer in die modder speel sonder om eers uit te trek.

Ek haat dit dat die grond in die erf die kinders se klere so vlek. In die winter gaan dit eers ‘n gemors wees. Ek sit klaar en wonder hoe ek hulle klere gaan skoon hou. Dis nou nie asof hulle dan kaalbas buite kan plas nie.

Maar dis nou nie wat ek wou deel nie. Met die speel saam kom Ellard in en vertel dat hulle ‘n gogga uit die modder gehaal het. “Mamma, ons het een ge”safe”. Ons was heroes.” So ewe. Hulle sorg maar altyd vir ‘n glimlag op my gesig.

Salomie se pratery kom ook vreeslik mooi aan. Jaco kon nie glo hoe baie sy geleer het in die 12 dae wat hy weg was nie. Die sinne raak sommer nou lekker lank soos “Mamma, kyk gou-gou, kom” en “Mamma, pienk melkies drink blief”. Die nuutste toevoeging is “hê nie”. En daar is nogal skielik heelwat wat sy nie meer wil hê nie. Dis so ‘n heerlikheid om nou met haar ook ordentlik gesprekke te voer.

En anders as boetie kan sy vir jou mooi vertel wat in haar dag gebeur. Elke aand wat Jaco weg was het hy ‘n hele lys gekry van wat in haar dag gebeur het. Gewoonlik het sy onder andere  gekla “boetie stamp” (die knaap het seuns maatjies nodig wat saam met hom kan roei en stoei – sussies verstaan nou eenmaal net nie die behoefte nie. )