2 March 2011
Share

Gister was die eerste dag van herfs en verseker ‘n dag om te onthou. Al was dit ‘n bloedige warm begin van herfs (maksimum was 37.7 grade en met die humiditeit saam was die aanvoelbare temperatuur 44 grade). Ons moet egter die laaste hitte voor die laaaang winter geniet.

Eers haak Salomie gisteroggend uit die bloute af: “Ek is lief vir jou, Mammie”. A, die eerste van haar af. En dan sommer ‘n hele sin, nie net ‘n “lief jou” of so iets nie.  Dit het sommer my dag, nee week gemaak.

En toe moet ons uitvind Ellard is Stywe lyne se Junior wenner vir Maart! Hoe trots voel die mamma nie. En die knaap het ‘n katrol gewen in die proses. Gaan dit vir hom hou en ook op sy verjaarsdag gee. Ek’s seker dit gaan die groot dag net nog meer spesiaal maak.

Gisteraand skeer ek weer sy hare (dit het darem te lank geraak!). Teen slaaptyd sê ek vir hom die kort hare voel vir my so lekker. Hy lig my toe in dit voel soos kaktusse. 🙂 Hoe dit ook al sy, hy lyk pragtig.

Ongelukkig het die dag nie net goeie dinge in gehou nie. Die BMW het besluit sy’t genoeg gehad en wil nie meer verder nie. Nou wag ons om te hoor hoeveel dit nou weer gaan kos om haar weer te laat loop. Sug. Kon dit nie enige ander maand gebeur het nie. Ek probeer so hard vir die 2 ‘n lekker partytjie reël en ekstra uitgawes soos die help nie juis nie.