14 March 2011
Share

Ai, ek is al ewig besig om vinnig die kinders se sê-goed op stukkies papier neer te skryf. Dit lê al die wêreld vol, maar raak ook net so maklik weg. En so nou en dan kom ek op ‘n ou stukkie af en giggel weer lekker.

Een van die was die keer toe Ellard vir my gesê het “Mamma, stoot die son down in the air”. Dit het in sy oe geskyn en blykbaar kan mamma alles doen! Dis natuurlik baie goed vir mamma se selfbeeld.

Ellard kon ook glad nie verstaan hoekom dit nodig was vir ‘n Engel om vir Sadrag, Mesag en Abednego te beskerm nie. “Die brandweer moes net die vuur dood gespuit het.” Wie kan nou redeneer met sulke logika.

Ons laat nag gesprekke raak nou al ‘n gereelde lekkerte. Ek vra hom Saterdagaand of hy vir my ‘n prentjie vir my verjaarsdag gaan maak. Hy’s ewe bereid, maar wil vir my ‘n geskenk ook gee. Ek het probeer verduidelik maar die prentjie is ook ‘n geskenk. Maar nee, hy wil vir mamma “lipgoed” (lipstiffy) en “‘n klok vir jou (dis nou my) kamer” kry, “maar dis baie duur”. Ek het hom probeer oortuig dalk kan ouma hom help om mamma se stukkende horlosie in die kombuis weer reg te maak, maar blykbaar het ek een vir my kamer nodig, sodat ek kan sien wanneer ek moet opstaan en klaar geslaap het. Dit alles omdat hy nou ‘n horlosie in sy kamer het en in die middag vir ten minste ‘n uur rustig daar moet wees.

Salomie raak nou nie altyd die snaaksste goedjies kwyt nie, maar dis wonderlik om te hoor hoe mooi sy al leer. Teen haar 2de verjaarsdag gaan sy ons onder die tafel in praat. Ons loop gister by Ellard verby wat lê en slaap en sy sê “Boetie slaap nou bed”. Die ander oggend is sy ook vroeg wakker en besluit sy moet haar kans vat “Storie kyk, DBD (DVD), Nonnie (Noddy)”. Sy’t gou besef as boetie eers op is, kies hy die storie vir die dag en dan mis sy uit op ‘n kans om te kies. Dis regtig lekker om te kan hoor wat sy wil hê.

En daar is tog al snaakse goed ook. Sy gooi eendag haar padda hemp terwyl ons na badtyd aantrek. Ek vra toe “waar is die padda hemp nou?”. “Padda spring” is die antwoord. Dis die dat die hemp so gegooi word.

En na die hele klip gooi drama kom sy gou in gehol as boetie die kleinste klippie buite gooi. Dan is dit sommer gou “Stoute boetie, klippe gooi, boude piets”. Sy gaan sorg dat hy haar nie weer ‘n keer so kry nie.