Ek moet ruiterlik erken dat ek die blog die laaste tyd baie afgeskeep het. Daar was net altyd ander dinge. Ergste is dat daar soveel oulike insidente was wat ek kon deel. Salomie raak ‘n regte babbelbekkie en Ellard is op sy stukke die laaste ruk. Ongelukkig soos meeste dinge in die lewe as jy dit nie dadelik doen nie vergeet jy weer daarvan.

So voor ek weer vergeet wil ek net graag die deel. Salomie sit deesdae sommer in elke sin ‘n Mammie en Mommie (met so ‘n ronde o) en ek het al begin voel die woord word woes misbruik. Jaco se aanvanklike reaksie was dat sy teveel Engels leer. Toe ‘n week of wat terug moet ons tot ons skande ontdek die Mommie is nie ‘n verbuiging van mammie nie. Dis haar manier om Salomie of te wel Lomie te sê. Skielik maak baie van haar sê-goed meer sin veral hoekom mammie/mamma en Mommie in dieselfde sin kan voorkom.

Woorde wat baie deesdae voorkom is “Ek sal” (veral “Ek sal self”), “moenie” en die een waaroor nog baie geraas sal word “jy moet”. Die potty training gaan goed. Sy kan nou al self haar broekies uittrek en selfs soms aan ook. Alhoewel die bene gereeld net in een kant beland en die pantie dan om haar middel sit. En moet dit net nie durf reg maak of probeer help nie.

Dis natuurlik as jy haar in ‘n pantie of broekie kry! Die nooi verkies kaal boude. Dis nou een ding as ‘n seuntjie in sy adamsgewaad rond hol, maar ‘n pop in haar evasgewaad in die sandput is ‘n perd van ‘n ander kleur. Sy het al vir boetie ook gekondisioneer om kaalbas rond te hol. Hopelik help die winter om die 2 terug in klere te kry. Want ek het nie meer raad nie. Ons het al die mooiste panties gekoop waaroor sy mal is. Die sal sy ‘n dag of 2 dra en dan is kaalbas maar weer bobaas. Ergste is die baklei om haar in ‘n nagdoek te kry.

Ellard is deesdae al meer weer sy vrolike stuitige self. En hy klets en klets net die heeltyd. Groot was hulle beide se opwinding toe ouma Saterdagaand hier kom slaap het met die brand op die plaas. Hulle het haar op gekuier. Sondag oggend sê ouma dankie dat sy in Ellard se bed kon slaap en hoe lekker sy bed slaap. Sy sê  vir hom die bed het so lekker geslaap sy wil dit sommer koop. Dadelik haak hy af “Dis nie ‘n winkel die nie, ouma”. Sy het so lekker vir hom gelag.