3

Wiskunde programme

23 May 2015
Share

Ons Mathlatics subskripsie vir die jaar het geëindig. Met die dat ons knaap so ver vooruit gewerk het het ek besluit ons gaan eers vir ‘n rukkie kyk wat is daar nog alles beskikbaar en ‘n paar proewe doen. Die kinders is natuurlik mal oor die veranderings. Elke program het immers sy eie uniekheid en nuwe lekkerte.

Ek het gedink ek deel met julle wat ons al ontdek het (ek sal later nog ‘n skrywe of 2 skryf oor ander wat ons probeer, want die lys van opsies is net te lank!)

Mathletics

Ek wil sommer begin met Mathletics wat ons nou vir ‘n jaar gebruik het. Ons het dit ontdek tydens die World Education Games in 2013. Die Live Mathletics bly ons knaap se gunsteling deel. Met dit moet hul soveel somme in 60 sekondes teen 3 maats aanlyn doen as moontlik. Die vlakke begin by optel en raak moeiliker tot by vlak 10 (vir hoërskool kinders). Dit het hom geleer om blitsig optel somme te doen (In die jaar het hy 6730 optel somme gedoen, gemiddeld 28 per minuut (sy maksimum was 44 per minuut)).

Screenshot-12

Dit is egter net ‘n klein deeltjie van die program. Die hoof program bevat volledige kurrikulums vir meeste lande. Alles is ongelukkig Engels, maar omdat dit geskryf is kon ek die vrae lees en vertaal. Mens kan wel op die teks “click” en dan lees die program dit in Engels vir jou. Wat ek van dit geniet is dat jy in ‘n jaar verskeie kere van graad of kurrikulum kan verander. In die jaar wat ons dit gebruik het het ons die hele graad 1 tot 3 vir CAPS gedoen. Graad 2 vir “US Common Core SS” en ‘n groot deel van graad 2 vir “Singapor Maths”. Dis natuurlik nie die spoed waarteen meeste kinders werk nie, maar die knaap is gek oor wiskunde en snap dit teen ‘n ongelooflike spoed. Dit beteken egter dat elke kind deur die werk kan werk op ‘n spoed wat vir hulle werk.

Of mens nou hou van CAPS of nie is dit handig dat mens met ons eie geld en metrieke eenhede kan werk.

Ek het die vergelyking tussen die kurrikulums baie interessant gevind. Eerstens het ek besef ons Math-U-See is heel voldoende. Ek het ook besef die hele hoe-ha oor Singapoer wiskunde is ‘n klomp gemors. Ja, hulle begin met ‘n paar moeiliker konsepte bietjie vroeër, maar die grootste verskil is dat kinders se taalgebruik blykbaar baie belangrik is. Common Core het ‘n soortgelyke probleem, maar in ‘n mindere mate. Dit is in beide belangrik dat die kind wiskunde terme en woorde baas raak eerder as basiese begrippe. So moet hul bv weet wat die verskil tussen kumulatiewe optel en assosiatiewe optel is. Wat verskillende hoeke se name is en elke denkbare vorm se naam (Ek het van ‘n hele paar nuwe vorms in die proses geleer. Ek het dit redelik snaaks gevind, omdat ek dit nooit tot op Honneurs vlak wiskunde gebruik het nie). Persoonlik kan ek nie sien wat presies dit van ‘n kind se wiskundige vermoeë en probleem oplossing vaardighede sê nie. Ek kan wel insien dat dit hulle baie geleerd laat klink.

As motivering kry kinders sertifikate as hul ten minste 1000 punte per week gedoen het. Dit waardeur die kinders werk is ‘n manier van assesseer wat die kind weet en verduidelik nie begrippe nie. Daar is wel die onderwyser handleidings en werkboeke vir die Australiaanse kurrikulum op die program beskikbaar wat uitgedruk kan word. En daar is lesse op om ouers en onderwysers te help om begrippe vir leerders te verduidelik.

Die program kos R695 vir die eerste kind per jaar, en raak goedkoper per kind soos jy meer kinders het waarvoor jy inteken (bv. R440 per kind vir 8 kinders).

MobyMax

MobyMax is ‘n Amerikaanse program. Dit is nie net vir wiskunde nie, maar ons het net die wiskunde gebruik. Mens kan na die proeftydperk die program steeds gratis gebruik, maar die ekstras is dan nie meer beskikbaar nie. En dis juis die ekstras wat dit vir my kinders pret gemaak het. Tog bly dit wonderlike hulpbron as finansies dalk knyp.

Screenshot-15

Anders as die Mathletics werk kinders nie deur elke liewe les met MobyMax nie. Hulle word konstant geëvalueer en aangeskuif na moeiliker werk as die program sien hulle kan reeds iets baasraak. Tussen deur is daar lesse wat begrippe verduidelik. En as hul met iets sukkel word ‘n begrip eers weer verduidelik.

As motivering gebruik hul speletjie tyd en “badges”. Kinders kry speel tyd relatief tot hoeveel werk hulle gedoen het. Die speletjies is opvoedkundig en vir my kinders was dit ‘n reuse motivering.

Ek gebruik steeds die metode. As die knaap x-aantal werk gedoen het kry hy 20 minute speeltyd op Cool Math. Wat ek van die speletjies daar hou is dat almal bedoel is om logika, strategie of syfervaardigheid te bevorder. In effek doen hy dus nog wiskunde, maar hy sien dit nie as sulks nie. Plus daar is konstant nuwe speletjies, wat baie help vir hom wat vinnig verveeld raak,

Mobymax kos $99 vir een jaar (vir ‘n onbeperkte aantal leerlinge)

Khan Academy

Khan Academy is gratis en volg weer eens die Amerikaanse kurrikulum. Werk word nie in grade opgedeel nie, maar in blokke. Laer grade word ingedeel in “Early maths”, “Arithmetic”, “Pre Algebra” en “Basic Geometry”.

Screenshot-13

Die program se evaluering van ‘n kind se begrippe is nie so goed soos MobyMax s’n nie en beperk ook die spoed waarteen ‘n kind deur die program kan werk. Steeds het ek halt geroep toe ons klaar was met Early Maths wat tot graad 3 gedek het. Ek het gevoel dat ons eerder begrippe moet in oefen as fokus op moeiliker werk.

Daar is verduidelikings en video’s om die kind te help. Ek dink dit is ‘n ongelooflike hulpmiddel vir ouer kinders, maar dit werk nie so lekker vir jong kinders wat nie Engels 100% magtig is nie.

As beloning kry kinders toekennings (badges) vir eenhede voltooi en punte waarmee hul hul Avatar kan verander.

Reflex

Ons nuutste ontdekking is Reflex Math fact fluency. Dit is nie ‘n volledige kurrikulum nie. Dit is ‘n program wat kinders help om hul faktore vir optel/aftrek/maal/deel  in te oefen. Ons het dit nou vir 2 weke getoets en die kinders was gek oor die speletjies wat hulle gebruik om hul dit te leer.

Screenshot-14

Die program evalueer ‘n kind se tik spoed, toets watter faktore hul reeds vinnig kan doen, verduidelik nuwe faktore vir hulle en oefen dit dan in met speletjies. Alles gebeur deur middel speletjies. Hoe langer hul die program gebruik hoe meer groter word die verskeidenheid speletjies, maar ongeag watter speletjie hul kies dit oefen dieselfde begrippe in.

Die karakter praat in Engels, maar dis net die eerste 2 dae wat daar redelik baie gepraat is, want mens moet vertaal. Daarna verstaan die kinders die program en kan meestal op hul eie werk. Die lesse vir faktore is wel nog in Engels, maar dis redelik eenvoudig.

Ons knaap het maal en deel gedoen vir die 2 weke.  Alhoewel hy die begrippe al verstaan het het ons nog glad nie voor dit die faktore begin in oefen nie. In die 2 weke het hy 7 107 somme gedoen en 83 faktore geleer. As ek en die program hom gelos het sou hy seker nog meer tyd daaraan spandeer het, maar ek is seker as mens gereelde toegang het sal hy dit nie so baie gespeel het nie. Die eerste week het hy 75 faktore geleer, wat hoofsaaklik die maklike maal en deel met 0 en 1 was. Die 2de week is ‘n beter aanduiding van wat hy werklik geleer het. Die feit bly dat ek hom op geen ander manier so maklik sou kry om so baie somme herhalings van te doen nie.

Screenshot-3

Ons pop het optel en aftrek gedoen vir die proef. Sy is minder van ‘n tech junky en het heelwat meer van haar tyd spandeer om haar avatar mooi te maak en te verander (hulle kry munte vir werk gedoen om in die winkel te spandeer). En later ook ‘n boom om te versier (die boom groei soos hul faktore bemeester). Die motivering deel was nie te interessant vir ons knaap nie, maar dit was gelukkig vir hom genoeg motivering om te sien hoe hy meer faktore leer. Selfs met die minder tyd wat sy spandeer het het sy 2357 somme gedoen en 69 faktore geleer in die 14 dae (nie sleg vir ‘n 6 jarige nie).

Screenshot-6Reflex Math kos $35 per kind per jaar.

So ver is die Mathletics en Reflex Math ons gunstelinge. Ek sal jul op hoogte hou van ons verdere ontdekkings. Stel gerus nog programme voor.