0

Boere Carbonara

11 June 2015
Share

Ons het die tradisie om op spesiale geleenthede soos verjaarsdae en herdenkings ietsie spesiaal op te dis en dan die tafel mooi te dek. Die jaar het daar egter ‘n paar spesiale geleenthede verby geglip, sonder dat ons dit kon doen. Bloot omdat ons geluk net so was dat ‘n spul van ons elke keer siek was. 

Die kinders het later begin vra wanneer ons dan uiteindelik ‘n spesiale ete gaan hê. So in die middel van niks het ons dus sommer 3 verjaarsdae en ‘n huweliksherdenking gevier. Ek weet meeste mense sou seker gaan uiteet het, maar met ons spul allergie siele saam is dit nie so maklik nie. Bonus is dat dit baie goedkoper is. Vir R160 het die 5 van ons pasta, nagereg en Grapetiser geëet. (Dit is nou sonder die fillet, wat ons reeds gehad het, maar waar sonder die pasta gereg steeds heerlik is).

Die pasta resep het kort na ons troue ontstaan. Ons is gek oor pasta en vleis en gewoonlik is daar nie genoeg vleis na ons s’n in pasta. Toe besluit ons eendag dat manlief die vleis vir ons sal braai en ek die pasta aanmekaar slaan. Dit was so ‘n treffer dat ons dit nou nog gereeld so eet.

DSCF8014

Boere Carbonara 

genoeg vir 4-6 mense

500g pasta
250g spek (gesnipper)
250g sampioene (in 1/2’s of 1/4te)
250ml room
80g Parmesaan kaas
2 eiers
1 ui (gekap)
fillet (opsioneel)
bietjie botter
knoffel
sout en peper na smaak

Braai die fillet na smaak op die kole (die is manlief se afdeling. Hy braai gewoonlik die heel fillet en sny dit dan later in skywe wat hy nog ‘n kort rukkie braai. Dit kry net koljander, sout en peper op).

Sny die gaar fillet in repies en hou warm saam met ander gaar bestanddele

Braai die uie en spek saam tot gaar.

Braai die sampioene in bietjie botter saam met knoffel.

Meng in ‘n maat beker die room, eiers, parmesaan, ‘n bietjie sout en peper saam.

Kook die pasta volgens die instruksies op die pak.

Sodra die pasta gaar is gooi die ergste water af en gooi onmiddellik die room sous en ander gaar bestanddele oor (die hitte is nodig om die eier gaar te maak).

Bedien dadelik.

DSCF8008Kits nagereg

Die idee het ek iewers op Facebook gesien. Dis so maklik en heerlik en lyk pragtig.

1 pakkie jellie
450 ml water
1 pakkie kits nagereg
500ml melk
250ml room styf geklits
sjokolade snysels

Maak die jellie aan volgens die pakkie se instruksies en verdeel dit tussen 5 glase.

Plaas die glase skuins in die yskas, sodat die jellie skuins stol (hulle dit in ‘n broodpan gesit, maar ek kon die glasse nie kry om so te staan. Ek het dit dus net die glase se voetstukke tussen die gleuwe in my yskas rakke skuins in gedruk en dit teen die kant van die yskas laat leun.

Wanneer die jellie gestol het, maar die kits nagereg aan (volgens die pakkie se instruksies) en verdeel tussen die glase.

Laat dit set.

Bedek met geklitste room en sjokolade snysels.