7

Maak jou eie 2-in-1 waspoeier

8 August 2015
Share

Vandat ek maar kan onthou was my ma met Ecosoft waspoeier. Vir ons klomp allergie siele het dit nog altyd gewerk. Ek het egter nie besef presies hoe wonderlik dit werk tot dit die jaar van die mark af gegaan het nie. Ek is verbysterd hoe swak meeste waspoeiers werk. Duidelik was ek bederf.

Skielik kan ek nie meer ‘n vol bondel in my 14kg wasmasjien skoon kry nie. Dit was egter nie die groot probleem gewees nie. My knaap was. Soos sake staan moet ek toe uitvind hy is allergies vir die meeste waspoeiers. Ek sê meeste, want dalk is daar iewers een daar buite wat vir hom sal werk. Tot dus ver kon ek dit egter nog nie vind nie. Dankie vir oulike vriendinne wat vir my bietjies gegee het om uit te toets. Van die lot het Bio-classic sy neus die minste ontstel.

Ek weet daar is groen waspoeiers op die mark. Moontlik sal die vir hom werk. Ek moet egter eerlik wees dat dit net glad nie my sak pas nie. So het my soektog na ‘n tuisgemaakte alternatief begin. Al my pogings was nie ewe suksesvol nie. Sommige het skoon gewas, maar dan ruik die klere muwwerig na ‘n paar dae. Ander het vlekke gelaat.

DSCF9003

Uiteindelik het ek ‘n resep wat werk. Ek is seker daar kan nog op verbeter word. Veral as ek ‘n paar Rand ekstra het vir duurder bestanddele. Op ‘n beperkte begroting werk die resep egter:

3 koppies “washing soda”

2 koppies koeksoda

2 koppies epsomsout (engelse sout)

100 g Preem seep (gerasper)

200 g Boraks of Boorpoeier

30 druppels laventel essensiële olie (Ek wil nog suurlemoen en lemoen essensiële olie ook probeer)

Meng alles goed saam en stoor in ‘n lugdigte houer.

Die meeste aanlyn resepte bevat “castile soap” in die plek van die Preem. Ek kon dit egter nog nie in ‘n winkel opspoor nie en aanlyn is dit nogal duur. Die beste prys wat ek kon kry is R86 vir 250g teenoor die Preem wat net R9 vir 500g is. Die goedkoopste “washing soda” en Epsomsout kry ek by ons Agrimark. Elk kos net so oor die R20 (vir 500g “washing soda” en 1kg epsomsout – 5kg epsomsout is nog goedkoper per gewig).

Vir 2kg se waspoeier kos dit my dus ongeveer R90 (deur groter maat te koop sal dit nog goedkoper uitwerk)

Ek lees vandag dat “Soda ash” wat vir swembaddens verkoop word soortgelyk is aan die “washing soda”, maar dat mens effe minder moet ingooi. Ek het dit egter nog nie probeer om dit te bevestig en hoeveelhede te gee nie.

Die brousel werk sonder die boraks ook, maar dan kom die witgoed nie so skoon uit nie. Die epsomsout en koeksoda is die versagtingsmiddel en is nie so seer vir die was aksie  by nie. Mens kan dit dus uitlaat en bloot asyn in die spoel siklus byvoeg, maar ek hoor gewoonlik nie my wasmasjien skree om dit te doen nie. Dus is dit net makliker om ‘n 2-in-1 waspoeier te hê.

Die “washing soda” is natuurlik vir my die wonderlikste ontdekking. Ek het voorheen al as die skottelgoedwasserseep skielik die dag op is ontdek dat koeksoda vir ‘n was of 2 ook werk. As jy dit meer keer gebruik begin die masjien aanpaksels maak en was nie meer so mooi nie. In my soektog na waspoeier resepte lees ek toe raak dat “washing soda” die hoofbestanddeel in skottelgoedwasserseep is. So nou met die in die huis gebruik ek bloot net dit. Nog ‘n rede om groot maat “washing soda” op te spoor.