14 June 2017
Share

Ons het ‘n groot gees in die tuisonderwys kringe verloor laas jaar. Leendert van Oostrum was net een van daardie mense wat jy nie sommer weer vergeet as jy hom eers in die oë gekyk het nie. Al was dit net in ‘n skare mense en hy geen benul het wie jy is nie.

My eerste ervaring was ‘n praatjie deur hom oor die veranderinge in ons wêreld en hoe die skoolstelsel nie saam met dit aangepas het nie. Dit het my wiele aan die draai gesit. Rus ons werklik nog ons kinders toe om gelukkige suksesvolle volwassenes te word?

Ons leef nie meer in ‘n tyd waar ‘n boer se seun ‘n boer word en sy kleinseun en sy agterkleinseun nie. Waar iemand se eerste beroep ook die een is waarin hy/sy aftree nie. Buiten vir ‘n handjie vol beroepe soos medies verander mense deesdae verskeie kere in hul loopbaan van beroep (en ons praat van radikaal verander!). Die belangrikste gereedskap wat ons vir ons kinders kan gee is aanpasbaarheid, leergierigheid en die vermoeë om te weet waar om die nodig inligting te bekom.

Maar ek dwaal af…. dit is nie waaroor ek vandag wil skryf nie. Die groot sê-ding waarvoor Leendert bekend is is “Los die kind”. Daarmee het hy nie bedoel gooi die kind by die deur uit en spandeer geen tyd daaraan om hom op te voed nie. Nee, hy het geglo dat kinders gelos moet word om teen hul eie pas binne hul eie vermoëns te ontwikkel. Sonder enige boksie wat sê ‘n kind moet op x ouderdom y kan doen. Geen aftik lysies van moets op ‘n sekere ouderdom nie

Selfs met jong kinders het ek die wysheid van die konsep al ontdek. Wanneer kinders gelos word om teen hul eie pas te beweeg smoor dit nie hul natuurlike nuuskierigheid en liefde vir dinge nie. Dit gee dit kans om te blom. Om te floreer.

Ek dink byvoorbeeld aan my oudste wat eers op 8 ½ regtig die lees ding gesnap het en nou op 10 boeke verslind hy boeke wat gemik is op tieners. En nee nie die moderne vereenvoudigde tienerboeke nie – nog die ouer boeke wat meer substans het. Sou hy steeds lief gewees het vir lees as ons hom op 7 forseer het om iets baas te raak wat net nie in sy vermoë was nie? Ek twyfel. Daar is immers ‘n duisternis seuns en mans wat lees met ‘n passie haat (of vermy soos die pes) juis, omdat daar van hulle verwag is om dit te bemeester toe hul nie gereed was nie.

Die konsep werk natuurlik nie net vir kinders wat ‘n tydjie langer vat nie, maar ook vir die wat vinniger iets baasraak as die norm. Ek kan net dink hoe gefrustreerd my 8 jarige sou wees as sy nog beginnerlees reekse moes lees, terwyl sy eintlik Lassie kom weer en Bambi wou lees!

Die vraag wat ek egter gereeld tee kom is wat van kinders met leergestremdhede en -probleme? Tot watter mate kan mens steeds die kinders net los? Verander dit nie alles nie. Ek wens ek kon Leendert se jare lange kennis en insig inspan, maar ek weet nie wat sy opinie oor die saak was nie.

Wat ek wel toenemend besef is dat al die leergestremdhede en probleme nie so ‘n moderne verskynsel is soos wat mense wil voorgee nie. Ja, ons moderne leefstyl van swak voeding en ‘n oorstimulerende tegnologiese omgewing bied groter uitdagings vir die kinders as ‘n paar dekades terug. Maar die “afwykings” was nog altyd daar.

Ek ken iemand vir wie die skool na die spesiale klas wou skuif agv. disleksie. Sy ma het soos ‘n steeks donkie vasgesteek en gesê haar kind sukkel miskien om te lees, maar daar is niks fout met sy verstandelike vermoeë nie. Die uiteinde is ‘n man met ‘n M graad in Semitiese tale. ‘n Briljante man met 5 grade (binnekort 6) op sy naam!

Netso ken ek iemand wat ADD het en waarskynlik vandag met Asperger gediagnoseer sou word. Hy is van die intelligentste mens wat ek ken  en het die ongelooflike vermoë om vir kinders moeilike konsepte toeganklik te maak.

En dan is daar die man wat waarskynlik iewers op die outisties spektrum sou beland of ten minste vandag met erge sensoriese integrasie probleme gediagnoseer sou word. Hy is ‘n briljante wiskunde onderwyser en vakadviseur. Kinders is gek oor sy wiskunde klasse (ek weet, ek was een van hulle baie jare terug).

Ek kan so aangaan, maar die punt is. Mense wat buite die boks dink was nog altyd deel van ons samelewing. Hulle is dikwels die individue wat kleur en geur aan die lewe gee. Ons het egter ‘n samelewing geword wat intolerant geword het vir kinders wat nie binne die norm pas nie. Ons laat nie meer ruimte toe vir hul andersheid nie.

Miskien is dit tyd dat ons weer besef dat God elke mens uniek gemaak het en begin vertrou dat Hy ‘n plan en visie vir elkeen het. Dat almal nie in die skoolstelsel boksie hoef te pas om volmaak in Sy plan te pas nie. Dalk ons kan bou op elke kind se talente en gawes en rondom hul unieke uitdagings werk. En hulle steeds los om steeds teen hul eie pas te ontwikkel.

Het jy ‘n kind wat buite die boks dink? Deel gerus wat vir julle werk!